Dié tapisserie verdien om opgehang en uitgestal te word, as ’n brokkie van die ABO

Somtotaal – dit kan tot “leesbabelas” lei!
Augustus 26, 2020
Moet jou nie deur die ietwat dekadente voorblad van hierdie boek laat mislei nie
Augustus 26, 2020

Deur Petronel Fourie

Titel: Met die vierkleur in Parys

Outeur: Renée Rautenbach Conradie

Uitgewer: Protea Boekhuis

Hierdie boek begin met ’n knal – stemme buite ’n tronksel, die hoofkarakter wat regop kom van sy harde lêplek en sy kaal voete op die koue klipvloer laat sak, sy kop in sy hande. Dit vang die leser onverhoeds – is hierdie nie ’n historiese roman oor die Wêreldskou van 1900 nie? – maar prikkel jou dadelik en suig jou tot in die wêreld van ’n 18de-eeuse Boer in Parys. Eers later, nadat die skrywer jou vernuftig ’n paar maande terugneem om konteks vir dié dramatiese gebeure te skets, verstaan jy wat aangaan.

Paul Roux is aan die begin van 1900 deur die ZAR na Parys gestuur om as argitek aan die republiek se pawiljoen by die Wêreldskou te gaan werk. Hy is spesifiek verantwoordelike vir die bou en inrig van ’n Boerehuis, wat saam met ’n goudmyn, boeke, bokhorings, dierehuide, posseëls en ’n ossewa uitgestal is, onder andere. As gebore Bolander was hy nie direk by die Anglo-Boereoorlog, wat in 1899 verklaar is, betrokke nie, maar hy het wel in Pretoria saam met die groot argitek Herbert Baker gewerk en daar ’n gevoel vir die stryders van die Transvaal gekry.

Die skreiende teenstrydigheid van Parys oorrompel hom totaal en hy beland pens en pootjies in die vrolike maalkolk van uitbundigheid en losbandigheid wat die stad van liefde hom bied. Sy ervarings bied vir die leser ’n blik op die kultuurverskille tussen die vaderland en Frankryk – van die beknopte verblyf tot die vreemde kos, die boheemse buurte en eeueoue argitektuur. Parys in 1900 is wêrelde verwyder van die ZAR en ook baie anders as die Kolonie.

Ondanks die verleidelikheid van Parys, hou Paul se naelstring met sy vaderland hom besorg oor die oorlog, sy familie en die toekoms van sy land. Mens lees van sy tweestryd in paragrawe soos heirdie: “Paul ry stadig met sy fiets langs die rivier af. Dit is lente, die lug is blou, dit is Saterdag, dis die mooiste stad ter wêreld met die grootste skou ter wêreld – genoeg rede om ’n huppel in enige mens se stap te sit, al bly die heimwee so half onder die blad.”

Hoewel daar baie steun en simpatie vir die Boeresaak in Frankryk is, soos die boodskappe en ruikers getuig wat daagliks by die ZAR se pawiljoen afgelewer word, gaan hierdie sentimente nie oor in aksie om die vegtendes fisies te help nie. Frankryk bly op ’n veilige, verwyderde afstand van die ZAR en dít bly ’n knaende kwelling in Paul se agterkop.

Die leser word byna toevallig aan talle historiese figure bekendgestel: doktor Willem Leyds, Sytze Wierda en Marthinus Ras, die Britte Salisbury en Chamberlain, die Fransmanne De Villebois-Mareuil en jong Napoleon wat in Suid-Afrika gesneuwel het. Hoewel hierdie figure meestal op die agtergrond is of bloot terloops genoem word, dryf dit die geskiedenis-entoesias na boeke of google om meer oor hulle te wete te kom.

Conradie, as diplomaatvrou wat self vir ’n klompie jare in Frankryk gewoon het en ook die tydperk van die 1900-Wêreldskou goed nagevors het, skryf met oortuiging oor ’n Parys wat pols met energie en passie. Haar beskrywings van die uitstallings by die skou, die beroemde geboue en interessante gebiede in Parys sleur die leser mee en maak jou lus om self te gaan verken. Vir die gelukkiges wat al in Montmartre se straatjies gestap het, crépes by ’n straatkafee geëet het, die Sacré-Coeur se trappe bestyg het en Parys vanaf die kruin van die Eiffeltoring bewonder het, bring die boek nostalgie.

Met die Vierkleur in Parys is ’n pragtige tapisserie van die lewe en liefde verweef met geskiedkundige gebeure, met die Wêreldskou en toe nog jong Eiffeltoring as skilderagtige agtergrond vir die episodes wat saam die geheel vorm. Dié tapisserie verdien om opgehang en uitgestal te word, as ’n brokkie van die Anglo-Boereoorloggeskiedenis wat minder bekend is en tot dusver minder aandag in die oorlogsliteratuur ontvang het.

Comments are closed.

error: Content is protected !!