Moet jou nie deur die ietwat dekadente voorblad van hierdie boek laat mislei nie

Dié tapisserie verdien om opgehang en uitgestal te word, as ’n brokkie van die ABO
Augustus 26, 2020
Augustus 28, 2020


Deur Carla van der Spuy

Titel: Soete sonde – ’n versameling woorde oor die verleidelikste ding op aarde: Sjokolade. (Lapa Uitgewers.)

Saamgestel deur Lizz Meiring

Moet jou nie deur die ietwat dekadente voorblad van hierdie boek laat mislei nie. Hoewel dit jou kan laat kwyl, is hierdie nie ’n hygroman nie. Dit gaan oor ’n veel gevaarliker verleidster – sjokolade. Iets wat jou selfs tot moord kan dryf.

Sjokoliste weet almal dat sjokolade serotonien bevat, romanties is en byna enige probleem (al is dit net tydelik) kan oplos. Dit bevoordeel glo selfs jou hart, brein, geheue en vel.  En dit kan jou langer laat leef, wat genoeg is om enige sjokoladeslaaf se hart sommer “chocolates te laat pomp.”

Sou jou gewete jou wil-wil pla oor die vet- en suikerinhoud, kan jy jou altyd wysmaak dat sjokolade eintlik groente is, wat. Dit word immers van bone gemaak.

Soete sonde is ’n bundel wat op die treffertoneelstuk; Die Sjokoladeshow gebaseer en deur die gewilde aktrise, vervaardiger, skrywer en selferkende sjokolis, Lizz Meiring saamgestel is. Sy het ook die voorwoord geskryf. Dit bevat 22 stories, dramas en gedigte.

Die boek volg nadat Theaterrocket Produksies tweehonderd bekende en onbekende skrywers gevra het om ’n kort teks oor sjokolade en hul ervaring daarvan te skryf. Daarna is twaalf vir die toneelstuk onder regie van Henrietta Gryffenberg met Jak de Priester en Lizz Meiring in die rolverdeling gekies. Daar is toe besluit om van die bydraes wat nie noodwendig in teater gebruik kan word nie in die bundel op te neem.

Ja, die mensdom se verhouding met sjokolade is legendaries. Dis pure terapie hedonisme en suiwer onverdunde plesier. Met of sonder skuldgevoelens. Sjokolade kan vreesaanjaend wees. Dit kan tot diabetes en erelidmaatskap van Sjokoliste Anoniem lei.

Die boek toon presies hoe onvoorspelbaar en veelsydig sjokolade kan wees. Daar is stories wat jou laat lag en huil. Van die vertellinge is suikersoet plesier en ander is menslik-vertroostend sonder om sentimenteel te raak. Dan is daar stories wat net as sinister, makaber en doodgewoon boos beskryf kan word.

Soos die geval met sjokolade is, behoort daar iets vir elke smaak te wees.

Maar pasop! Sjokolade het inderdaad ’n baie donker bitter kant – dit kan jou tot moord dryf. Of as ’n moordwapen ingespan word.

Wat bemoedigend omtrent hierdie boek is, is dat bekende skrywers sowel as nuwe stemme gehoor en gelees kan word. Daar is soveel talentvolle skrywers in ons land wat deur so ’n bundel die geleentheid gebied word en dit verdien om ’n wyer gehoor te kry.

Sjokolade word in Soete sonde onder meer beskryf as: “Dit klink soos iets waarin ek sal wil duik en met liefde wou versuip.” (“Om ’n pynappel te eet” – Clari Niemand) en “Sonde en skuld is bitterder as wat hierdie boontjies ooit kan wees.” (Vader Smartyk uit “Sint Sjokolindt” – Cecilia du Toit.) Wyshede oor sjokolade is volop soos: “Iemand wat van sjokolade hou, kan seker nie heeltemal sleg wees nie.” (“Die restaurant sonder kos” – B Clark.)

’n Sekere sjokoladetekstuur word in “Die uitnodiging” deur Henque Heymans as “fluwelig en  hartseer en ’n meisie wat terg – als gelyk” en “’n uitnodiging na iets groters as jyself” beskryf.

Die uitgeslape sjokoladediefoupa (“Oupa en die tjoklits” – Willem van der Walt) se sjokoladelose toestand word so beskryf: “Soos ’n verlore siel” of “’n pelgrim of iets.”

Die hoofstuk “Jade en William” deur Johann Smith lees soos ’n krimi in het kleine en is een van my gunstelinge. Praat van “Death by chocolate.” Toonkrullekker.

En dan is daar Jak de Priester se “Chocolate” met die verrassende einde.

Dit dra ook tot leesgenot by dat baie van die hoofstukke in  Soete sonde begin met aanhalings soos:

  • Sjokolade vra nie simpel vrae nie. Sjokolade verstaan. – Goeie Huishouding-tydskrif
  • God het vir die engele vlerke gegee – en vir die mensdom sjokolade. – Anoniem
  • Die grootste tragedies is deur die Grieke en Shakespeare geskrywe … wat niks van sjokolade wis nie. – Sandra Boynton
  • Sjokolade is goedkoper as terapie en jy hoef nie ’n afspraak te maak nie. – Anoniem
  • Nege uit tien mense is gek oor sjokolade – die tiende een jok. – Anoniem

Net ’n waarskuwing; moet  Soete sonde nie lees sonder ’n dik plak sjokolade binne grypafstand nie.

En ’n wenk aan die uitgewers: Verpak gerus ’n stafie sjokolade saam met die volgende druk se eksemplare. Dan sal dit nog vinniger van die rakke vlieg.

Want nou, met die drankverbod in die Covid-19-tydperk, moet sjokolade maar veel meer as … wel, ’n skrale troos vir ons bied!

Comments are closed.

error: Content is protected !!