Augustus 28, 2020

Teen die einde van 2016 het die Afrikaanse musiekbedryf vir die eerste keer van Jo Black kennis geneem toe sy eerste enkelsnit, “Skepe”, vrygestel is.

Dit het die titelsnit van sy uiters suksesvolle debuutalbum, wat ook die treffers “Bring die hoop weer terug” en “Een klein klippie” opgelewer het. Hy het dit twee jaar later opgevolg met die album Voel jy die genade? Benewens die titelsnit was “Die lig”, “Bitter” en “Spring” die treffersnitte.

Teen die einde van 2019 het hy ’n konsert voor 8 000 mense by die Sun Arena saam met Roan Ash gehou en hierdie opname is nou op CD uitgereik onder die titel Live. Die eerste snit is “Skepe”, en soos gewoonlik met ’n konsertopname praat hy tussenin. “Spring” word as die nuwe enkelsnit beskou; hierin sing hy van die sprong in geloof wat ’n mens soms moet neem. “Die lig”, die volgende snit op die album, was ook een van sy mees onlangse treffers.

“Een klein klippie” was ’n treffer op sy eerste album; dit is geskryf na aanleiding van Dawid en Goliat. Hy het “Vrede vind” aan sy pa opgedra. Leonard Cohen se treffer “Halleluja” is al tot vervelens toe opgeneem, maar ’n mens moet erken dat Jo se opname daarvan baie goed is. Roan Ash sing saam met Jo op Tom Petty se treffer “Free fallin’”. Die volgende snit is ’n keurspel van Jo se treffer “Bitter” en Roan se treffer “If I ever saw heaven”. Die album sluit af met “Voel jy die genade” en seker sy grootste treffer tot dusver, “Bring die hoop weer terug”, waarop hy die woorde ’n bietjie verander het om by die konsert in te pas.

Hoewel ’n mens verstaan dat diegene wat die konsert bygewoon het, dit wil herleef, was ’n CD dalk nie die beste manier om dit te doen nie.  Die akoestiek in die Sun Arena is nie die probleem nie; dis eerder dat dit beter sou wees om dit op DVD uit te reik.

Comments are closed.

error: Content is protected !!