Boek bied onvergeetlike insigte oor die menslike psige wat die leser nie gou sal vergeet nie.

Live – Jo Black
September 14, 2020
Here’s to the now – Nathan Smith
Oktober 6, 2020

Skadukant

Outeur: Rika Cloete

Uitgewer: Kwela (NB-Uitgewers)

Resensent: Francois Bekker

Hierdie een het my onkant gevang. Die leser van spanningsverhale lys sy of haar verdagtes so al met die lees van die storie. Ek was nogal seker oor die kandidaat wat die etiket skurk om sy nek moet kry. Ek daag enige leser uit om te voorspel waarop hierdie sielkundige riller afstuur. Vat dit van my, moenie geld op jou weddenskap plaas nie.

Die O’ Brien-egpaar se huwelik is in stormwater. Die voorbladberig lê soos ‘n kloof tussen hulle: ‘Moord op Murraybaai.’ So iets skud ‘n klein gemeenskap. Veral hierdie wreedaardige moord van ‘n jong swanger vrou. Vir Liam en Deirdre is die oorledene meer as net ’n slagoffer. Hanna was Liam se sekretaresse. En Deirdre het geweet van hulle affair. Die kloof tussen Liam en Deirdre nou ‘n gapende wond wat wie weet hoe toegewerk kan word.

Wanneer Deirdre hoor sy self is swanger wonder sy of dit genoeg is om haar wankelende huwelik na kalmer waters te stuur. Is sy gereed vir ouerskap? Met al hierdie vrae in haar kop en met Liam wat nog nie weet van die nuutste verwikkeling nie, slaan die booswig weer toe. Dit is juis Deirdre se swangerskap wat haar die ideale prooi maak. Sy is gelukkiger as Hanna. Maar hierdie is net die begin van ‘n angswekkende kat-en-muisspeletjie wat die leser se senuwees nie spaar nie.

Wat onder die loep geneem word in hierdie spanningsriller is die huwelik as instelling. Hierdie verbintenis tussen twee maats opsigself ‘n slagveld as al die boublokke soos trouheid en vertroue nie in plek is nie. Woede, verwyte, verwerping, selfs wraakgedagtes word ‘n toksiese konkoksie wat mense tot die uiterste toe beproef. Voeg hierby ‘n moordenaar iewers daar buite en die spanning bereik breekpunt.

Die ruimtes waarbinne die verhaal homself uitspeel is hoofsaaklik binnenshuis by Deirdre-hulle se woning of by haar vriendin Tertia se luukse opstal op die Libertas-landgoed in die Jonkershoekvalei.  Ook Tersia se huwelik is nie wat dit moet wees nie. Vir Tersia en haar man, die aantreklike en skatryk Herman Gresse, is owerspel blybaar nie ‘n vloekwoord nie.  Kan geluk onder sulke omstandighede gedy? Huweliksonmin ingegee deur gebroke verhoudings asook die eksterne bedreiging van ‘n sielsieke moordenaar vorm die spannende bestanddele van ‘n naelbyt domestic noir.

Die verhaal se veelvlakkigheid verkry nuwe diepte wanneer mitologie slim en oortuigend by die storie ingewerk word. Klimt se se skildery van Danaë is ‘n belangrike kode in die verhaal. Vrugbaarheid, erotika, verwerping en wraak is eweseer kwessies waarmee koning Akrisius as die moordenaar op Murraybaai worstel.

Op ‘n sekere vlak lees die verhaal alledaags en juis daarom identifiseer die leser maklik met die karakters se stryde. Die skrywer gaan nie resepmatig te werk nie. Soos wat die jagter-en-prooi-spel egter dringender word, verkry die verhaal ‘n donker en vreesaanjaende geladenheid. Protagonis en antagonis kom hier op ‘n ysingwekkende wyse teenoor mekaar te staan. Met kinkels wat voortdurend verras is die storie so onvoorspelbaar soos volgende week se weer. Kort voor lank blaai jy die bladsye om met bewende hande.

Rika Cloete se Skadukant is nie alleen genre vernuwend nie. Dit bied ook onvergeetlike insigte oor die menslike psige wat die leser nie gou sal vergeet nie.      

Comments are closed.

error: Content is protected !!