Die Cape Flats práát hier. Hard en duidelik.

Here’s to the now – Nathan Smith
Oktober 6, 2020
Ek het opgestaan – Rinel Day
Oktober 18, 2020

As die Cape Flats kon praat – Green eyes en ander stories

Skrywer: Brian Fredericks

Uitgewer: Human en Rousseau (NB-Uitgewers)

Resensent: Carla van der Spuy

Die Kaapse Vlakte word deur talle gevrees. Dis ’n gebied wat berug is vir bendegeweld en dwelmmisbruik en waar selfs kinders in die kop geskiet word. ’n Plek om te vermy. ’n Mis te gee. Lewensgevaarlik.

Maar vir talle is daar geen ander keuse as om elke dag daar te probeer oorleef nie. Om nooit te weet wanneer die skote gaan klap en wie volgende in die lykshuis of tronk gaan beland nie. ’n Plek waar jy jou kinders moet grootmaak en waar hulle in die strate speel en skool toe moet stap. Waar die lewe voortgaan.

Met nege treffende kortverhale skryf Brian Fredericks inderdaad ’n wêreld in die “Cape Flats” oop. Hy skryf oor swaarkry, verpletterde drome, babas wat Kimbies nodig het, oor gevangenes wat nooit “gevisit” word nie, oor gebroke mense en oor die verleidelike “glans” van “gangsters” en “nommas”. Daar waar jy uiteindelik iets en iemand is. Behoort. ’n Soort omgekeerde aansien geniet.

Hy skryf ook oor die voetspore van die vaders wat kinders volg en waarin hulle wegsink (die nimmereindigende armoede- en geweldspiraal), oor keuses en oor byna onmoontlike oorbegin.

Die stories is rou en eerlik sonder ’n toesmeerdery. Die lewe op die “flats” is hard en genadeloos maar daar is ook stories met hart.

Die dialoog wat Kaaps en Sabela insluit, val heerlik op die tong.

Hy beskryf “skommelende tette”, “wannabe gangsters”, “Franse” wat omtrent die laagste in die tronke se hiërargie is en oor die aansien wat handelsmerke soos Adidas, Billabong en Nike op die vlaktes geniet.

Mens lees van woorde soos “ammal”, “hy soek te vriete” en “Ek het nou ’n laaitie. Môre, oormôre sit ek in die tronk. Net so ’n f*kop soos my pa.” Mens kom onder die indruk van die groot rol wat die afwesigheid van vaderfigure vertolk.

Jy lees oor die oorloë tussen “gangsters” en oor die vreemde broederskap tussen die lede. Die “broese”.

“Is daai broe witbene?” word gevra.

Daar is beskrywings soos die plek waar “daai jongens hulle guns leegskiet en verdwyn in die nag.”

Oor hoe om meisies te beïndruk.

“Ek kan nooit vrinne is met ’n goose nie. As jy nie die looks het nie moet jy respek en ’n mooi goose op ’n ander way kry. Daais hoeko ek nooit Amerika en die nommer sal los nie.”

Jy is gretig om iets of iemand te wees.

Hy skryf oor Glenda “wat met die lyf gemaak is”, oor die bravade in die onderwêreld en oor kinders van so jonk as 13 wat “’n gun van ’n jong met tronktatoes kry.”

Mens lees hoe daar op die “Franse” in die tronk neergesien word. “Dis hulle wat die ouens se LG wasmasjien is en die selle skoonhou. ’n Frans is niks. Dis adapt of die.”

Fredericks gebruik woorde soos “Stalaza” en sinne soos “hy ruik na slowboat” en om te “mang” vir ’n diefstalsaak wat nie noodwendig aan alle lesers bekend sal wees nie.

Ek sou voorstel dat daar iewers net ’n kort woordelys in die boek verskyn waar gewone lesers die betekenis van tronk- en gangstertaal beter kan snap.

Omdat hierdie boek as fiksie beskryf word, hoef Fredericks nie terug te hou nie. Hy skryf onbevange. Dis mos die karakters wat praat.

Die verhale wat hy vertel is onthutsend en verontrustend – en vermoed ek – dit kan baie baie na aan die waarheid wees. Al word die boek as fiksie bemark, lees dit soos oortuigende narratiewe niefiksie. Dit besef mens as jy al die geleentheid gehad het om in-diepte gesprekke met mense van die Vlaktes binne en buite tronke te voer.

Frederick se skryfstyl is gemaklik. Sy dialoog eg, spontaan en pretensieloos. Hy skryf soos wat die mense van die vlaktes praat, Afrikaans en Engels deurmekaar. Slang. Vermoedelik sal die bendelede se onder die belt woordeskat nou nie juis die HAT haal nie. Maar dit pla allermins want dit is hoe dit is. Dit word nie verdoesel of met suiker bestrooi nie.

Die bekende skrywer Riana Scheepers beskryf Fredericks gloeiend as “’n Verbluffende nuwe literêre stem met ’n skryfstyl wat uitdagend, avontuurlik en roekeloos is, maar terselfdertyd so natuurlik en outentiek dat dit voel soos asemhaal.”

Sela!

Mens kom onder die indruk van die ontsaglike maatskaplike probleme op die Kaapse Vlakte wat dringend aangespreek moet word as jy na die stemme in die boek luister.

 Opvallend is die paradoks van die Kaap met sy “gesplete persoonlikheid.” Aan die een kant is daar die skoonheid van Tafelberg en die Waterfront wat van die top toerismebestemmings in die wêreld is, maar ’n klipgooi verder lê die grou troostelose Kaapse Vlakte waar – so het ek eerstehands verneem – tot vier mense een bed in ’n Wendy-huisie moet deel.

Pure waansin!

Die boek hemel nie misdaad op nie, maar gee verduidelikings daarvoor.

Uiteindelik is dit die ma’s na wie se harte die leser die meeste uitgaan. Die ma’s wat lang ure moet werk en min tuis is.

Iewers in die boek word geskryf: “Ek wil nie my kinnes onder die grond sit nie. Hulle moet vir my onder die grond sit.”

Misdadigers, dwelmslawe en bendes word met goeie reg wyd veroordeel. Die nommers word gevrees. Talle is gewetenloos. Hulle maak mens se lewe hel.

Maar dan lees jy die woorde van een van die karakters in die boek: “Ek is nie rêrig ’n rolemodel nie. My lewe kon anders uitgedraai het. Dis soos hier in die vierhoeke. Hiers net ’n klomp wolwe. So óf jy word ’n wolf óf die wolwe vreet jou op. Jou choice.”

Ek beskou As die Cape Flats kon praat as die onvergeetlikste boek wat ek tot dusver vanjaar gelees het. Ek hoop Fredericks word vir ’n toekenning benoem. Hy verdien dit.

Comments are closed.

error: Content is protected !!