Boek bied onvergeetlike insigte oor die menslike psige wat die leser nie gou sal vergeet nie.
Oktober 5, 2020
Die Cape Flats práát hier. Hard en duidelik.
Oktober 6, 2020

Soms gebeur dit dat ’n musikant aanvanklik bekendheid vir sy of haar ateljeewerk verwerf en dan eers later besluit om self tot die musiekbedryf toe te tree.

Een daarvan is Nathan Smith; hy het al saam met groot kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Riana Nel, Juanita du Plessis en Laurika Rauch gewerk, en was ook betrokke by produksies soos A tribute toe the world’s greatest singing guitarists en Don’t stop believing – a tribute to rock supergroup Journey.

Nathan het egter nou besluit om sy eie stempel op die musiekbedryf af te druk en sy album Here’s to the now vrygestel. Volgens Nathan gaan die titelsnit wat hy, soos die res van die album self geskryf het, oor hoe die dinge wat ’n mens nog in die lewe wil bereik, jou aandag aftrek van die goeie dinge wat ’n mens op daardie stadium in jou lewe het. Op hierdie snit kan ’n mens al agterkom dat Nathan presies weet wat om met ’n kitaar te doen. Die volgende snit, “Dry cry smile”, het ’n effense blues-klank, en “Running out of control” is dalk een van die beste snitte op die album.

Op “It feels good” draai hy die krane lekker oop, en daar is geen rede hoekom hy vir enige internasionale kitaarspeler hoef terug te staan nie. “Alice (You’ll find your Wonderland)” is ’n hoogtepunt op die album, en enigiemand wat moedeloos is in die lewe kan gerus na die woorde luister. Die kitaarwerk op “The first and the last” is besonder goed; hierdie bewys dat hy nie net rock kan speel nie. “The investment” is nie ’n konvensionele liedjie oor die liefde nie; hy vergelyk dit met ’n finansiële belegging en kom eers later by die liefde self uit.

“Plastic man” is nog ’n lekker rock-snit, en hierin sing hy van vandag se kunsmatige samelewing. Op “Scientists say” sing hy van wetenskaplike teorieë wat ’n mens laat wonder. “Decisions” is een van twee enkelsnitte wat tegelyk na radiostasies uitgestuur is; dit kan as ’n rock-ballade beskou word, met ’n klavier, eerder as ’n kitaar, as hoofinstrument. Die ander een is “Closer”, met goeie akoestiese en elektriese kitaarwerk; dit is een van die rustiger snitte op die album en die lirieke het ’n Christelike strekking. Hy sou maklik in die rigting van kontemporêre Christelike musiek kon ingaan as hy wou. “Aidan” is geskryf ter nagedagtenis aan ’n seun wat op ’n jong ouderdom dood is.

Nathan het met hierdie album gewys dat hy ’n aanwins vir die musiekbedryf is. Nie alle ateljeemusikante behaal noodwendig sukses wanneer hulle besluit om self tot die bedryf toe te tree nie, maar hy het dit wel reggekry. Hierdie album sal by ’n groot gehoor byval vind en kan sterk aanbeveel word.

Comments are closed.

error: Content is protected !!