Die Cape Flats práát hier. Hard en duidelik.
Oktober 6, 2020

In 2012 het die Afrikaanse musiekbedryf vir die eerste keer van Rinel Day kennis geneem toe haar gelyknamige debuutalbum uitgereik is.

Twee jaar later het haar tweede album, Dit staan in die sterre, verskyn, maar haar country-album, wat twee jaar later sou volg, het nie die lig gesien nie en  die publiek het gewonder wat gebeur het. Die titel van haar pas vrygestelde derde album, Ek het opgestaan, vertel die verhaal.

Rinel het die afgelope paar jaar deur ’n baie moeilike tyd gegaan en die titelsnit is absoluut outobiografies. Dit is trouens een van die Afrikaanse liedjies van die jaar, want dit vertel ’n verhaal van hoop. Enigiemand wat moedeloos is met die lewe, of aan neerslagtigheid ly, MOET eenvoudig kliphard hierna luister, wat die boodskap wat Rinel oordra, is dat daar uitkoms is, en dat ’n mens nooit moed mag verloor nie. Dit moes baie waagmoed geverg het om hierdie liedjie te skryf, en dis goed om te sien dat ’n kunstenaar so eerlik is. Rinel het nie heeltemal stilgesit nie, en “Gyselaar” is een van ’n paar enkelsnitte wat sy tussen hierdie twee albums vrygestel het en ’n radiotreffer geword het. “Hier om te bly” is ’n lekker snit wat veral by jonger luisteraars byval sal vind. “Jy’t my gered” sluit baie beslis by die titelsnit aan; daar is iemand wat haar gehelp het om weer met die lewe voort te gaan. “Is jy alleen?” is ’n pragtige snit wat maklik ’n treffer kan word.

“Breek die mure af” sal die dansvloere baie vinnig vol kry en is beslis treffermateriaal. “Maak my joune” is nog ’n lekker snit waarvan  jonger luisteraars sal hou, veral omdat die woorde op hulle gemik is. Hier is nog ’n moontlike treffer! Rinel sing egter nie net in Afrikaans op hierdie album nie; “Our new everything” is die eerste Engelse snit wat ’n ander kant van haar wys. “Stomping on my heart” is nog ’n snit wat sy reeds verlede jaar opgeneem het; dit behoort by ’n breë gehoor byval te vind. “Rescue me” is die derde Engelse snit; weer eens kan dit ’n radiotreffer word. Vlieg oor die maan is nóg ’n lekker snit wat ’n treffer kan word. Rinel hou ook nie haar mond oor dit wat in ons land aangaan nie; in “Huil oor jou” sing sy oor alles wat die afgelope tyd skeefgeloop het. Die radio-omroeper en sanger Riaan Grobler is ’n goeie vriend van Rinel en hy sing “Ons is liefde”, wat ook al ’n jaar of twee gelede opgeneem is, saam met haar. Die 80’s -keurspel sal groot byval vind by diegene wat in daardie era grootgeword het; dit bestaan uit “Leave a light on” van Belinda Carlisle, “Spanish Eddie” van Laura Branigan en “How do you do” van Roxette, waarop Werner Beukes saam met haar sing. Die album sluit af met ’n nuwe opname van “Dit staan in die sterre” wat selfs beter as die oorspronklike een klink.

Hierdie album kan as ’n nuwe begin vir Rinel beskou word; nie net as mens nie, maar ook as kunstenaar. Sy het nog nie regtig die erkenning gekry wat sy verdien nie, maar met hierdie album, wat beslis haar beste tot dusver is en baie sterk aanbeveel word, gaan dit verander.

Comments are closed.

error: Content is protected !!