Wandel in my woning – Refentse

Ek het opgestaan – Rinel Day
Oktober 18, 2020
Nou kan jy in Afrikaans jou woorde speel-speel tel
November 4, 2020

Ongeveer vier jaar gelede het die Afrikaanse musiekbedryf vir die eerste keer kennis geneem van Refentse, nadat ’n video waarop hy Bok van Blerk se treffer “De la Rey” voor sy huis gesing het, opslae op sosiale media gemaak het.

Op sy eerste album het hy net twee van sy eie komposisies ingesluit, maar met sy volgende twee het dit al hoe meer gebeur. Sy vierde album, Wandel in my woning, is pas uitgereik.

Die eerste snit, “Stormnag”, is effens lank, maar dis regtig uitstekend en uiters geskik vir radiolugtyd. Op hierdie snit kan sy stem dalk met dié van Elandré verwar word. “Dans Meraai” sal jou voete gou laat jeuk, en as dit gespeel word, sal daar nie plek vir ’n muis op die dansvloer wees nie. Refentse se skerp humorsin kom vir die eerste keer op hierdie album werklik na vore op die nuwe enkelsnit, “Daai deng” (sic), want ’n mens lag lekker vir die aksent waarop hy praat en sing. Dit gaan ’n baie groot treffer word, en weer eens sal dit die dansvloere vol kry! Ons almal het seker die kinderrympie  “Trippe trappe trone varkies in die bone” geleer, en dit was die inspirasie agter “Trippe trappe trone”, hoewel die hele rympie nie in die liedjie voorkom nie. Die titel van die album kom in hierdie snit voor. Weer eens kan hy effens met Elandré verwar word. Op hierdie snit rymklets hy ’n bietjie, onder meer ook in Engels.

“Johannes” is ’n baie mooi snit waarin ’n aantal Bybelse verwysings voorkom, veral na die Evangelie volgens Johannes. As daar één snit is wat kliphard gespeel moet word, is dit “Lewe Boerkind”. Daar is ’n wanopvatting onder baie mense dat die Afrikaner net uit een groep bestaan en dat enigiemand anders die vyand is. Hierdie snit sal hierdie opvatting hopelik finaal die nek inslaan. “Sannie die loopdop” is ’n lekker snit wat nie noodwendig ernstig opgeneem hoef te word nie. Arno Carstens was die hoofsanger van die rock-groep Springbok Nude Girls en het ’n paar soloalbums vrygestel. Die laaste een hiervan was in Afrikaans, en nou sing hy “Spook”, wat hy geskryf het, saam met Refentse. Dis goed om te sien dat twee sulke uiteenlopende kunstenaars saam kan werk. “Fynhoutjies” is nog ’n snit wat nie noodwendig ernstig opgeneem hoef te word; hierin sing hy van mans wie se oë dwaal maar nie owerspel pleeg nie. “What a boytjie” is nog ’n snit wat nasiebou bevorder. Hier sing Refentse van ’n buitestander wat tog as deel van die Afrikanerkultuur beskou kan word. Refentse laat ’n mens lekker lag met die wals-ritme wat as deel van die liedjie ingesluit word. Die laaste snit is die pragtige liefdesliedjie “Wondervrou”.

Toe Refentse met sy musiekloopbaan begin het, was daar dalk mense wat effens skepties was, maar dit het gou verander. Hy het weer eens bewys dat hy ’n groot aanwins vir die musiekbedryf is; hy praat en sing vlot en foutlose Afrikaans , en sy musiek spreek van integriteit. Hy weet ook hoe om ’n balans tussen humor en erns te handhaaf. Om hierdie album as skitterend te beskou, is nie ’n onderbeklemtoning nie, maar eerder ’n belediging, want dit is soveel beter as dit. Dit is trouens een van die heel beste Afrikaanse albums van die afgelope jaar, indien nie die afgelope paar jaar nie, en dit kan nie sterk genoeg aanbeveel word nie.

Die album is ook beskikbaar op iTunes, Spotify en YouTube Music.

Comments are closed.

error: Content is protected !!