Moontlike lewe in die buitenste ruim is die sneller vir hierdie uitsonderlike rolprent

Nou kan jy in Afrikaans jou woorde speel-speel tel
November 4, 2020
Gewigloos – Juan Boucher
November 6, 2020

Deur Francois Bekker

Ons fassinasie met die onbekende, die onverklaarbare en moontlike lewe in die buitenste ruim is die sneller vir hierdie uitsonderlike rolprent. Wesens is geïnspireer deur ’n voorval in 1967 op ’n plaas in die Karoo. As die draaiboekskrywer en regisseur, gebruik Derick Muller misterie en bespiegeling om op ’n unieke manier kommentaar te lewer op die problematiek van vreemdelingskap en uitsluiting van ander op grond van vooropgestelde idees.

Van die heel eerste oomblik af voel dit asof die kyker die rit saam met die vier amptenare van die intelligensiediens meemaak op pad na die plaas waar daar blykbaar ’n vreemde voorwerp geval het. As kyker is jy net so nuuskierig om jou van die feite te vergewis.

Omdat ’n kameraman die rit na die plaas asook onderhoude met die boer en plaaslike polisie verfilm, het die rolprent ’n dokumentêre gevoel. In sy geheel het die rolprent ’n outentieke gevoelswaarde – dit is asof ’n filmrol van daardie dag iewers ontdek is. Met geen helder kleure nie en asof met ’n outydse kamera verfilm, het die rolprent ’n gevoel van egtheid. Die kamera as primêre verteller met kreatiewe kinematografie.

Op die toneel aangekom, is die gehoor net so verbaas as die amptenare oor dit wat daar aangetref word. Wat is dit? Van waar af kom dit? Het die Russe iets hiermee te make? Die samesweringsteorie as die voor die hand liggende.

Wesens vereis omsigtigheid van ’n resensent met die bespreking daarvan. Omdat dit op die oog af ’n storie in die kleine is waar daar nie juis baie gebeur nie, moet die risiko van “spoilers” in ag geneem word om nie die storie vir die voornemende kyker te bederf.

Die ganse rolprent speel net op een plek af – daar waar die vreemde voorwerp op die boer se plaas geval het. Daar is basies net vier karakters betrokke by die verhaalgegewe. Dit is nie ’n uitgebreide verhaal van epiese omvang in die konvensionele sin van die woord nie.

Wanneer die kinkel in die storielyn homself aanmeld, is die reaksie van die betrokke amptenare veelseggend.

Met sy sterk filosofiese inslag, ironie en die gebruik van subteks is Wesens allermins ligte Vrydagaand fliekvermaak. Die ernstige rolprentganger sal egter die filmiese elemente terdeë geniet. Watter magiese oomblik is dit nie as ’n stroopsoet en sentimentele liedjie van die Briels oor die radio gespeel word nie. Die kwessie van naïwiteit word treffend hierdeur geïllustreer.

’n Dapper rolprent wat die kyker vra om ontologies oor sy of haar plek in die hedendaagse Suid-Afrika te dink.

Comments are closed.

error: Content is protected !!