FAK vereer mediese wetenskaplike

Boek is ’n literêre tonikum wat sterk aanbeveel word vir die ernstige en waagmoedige leser.
November 15, 2020
Emigreer of bly
November 20, 2020

Dr. Marli Dercksen, ’n mediese wetenskaplike en kenner van metaboliese siektes aan die Noordwes Universiteit (NWU), is onlangs vereer met ’n spesiale Inspirasievroutoekenning deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK). 

Dr. Marli Derksen met haar FAK-Inspirasievroutoekenning

Die FAK-Kultuurnetwerke het vanjaar ’n projek van stapel gestuur om vroue te vereer wat in hul eie gemeenskap ’nverskil maak.

“Dr. Dercksen en haar navorsing maak egter nie net ’n verskil in haar
gemeenskap nie, maar ook nasionaal en
internasionaal. Sy help om genetiese en metaboliese siektes vroeg by kinders te diagnoseer, wat hulle toelaat om met die regte mediese ingryping ’n langer, beter lewe te kan lei,” sê Marianda Schlebusch, FAK-projekbestuurder.

Dercksen het in 2008 die Carolina MacGillavry-beurs ontvang – een van Europa se top-wetenskapbeurse, wat aan die wêreld se voorste vroulike wetenskaplikes toegeken word.
In 2014 kry sy haar doktorsgraad in kliniese biochemie aan die Universiteit van Amsterdam vir navorsingswerk oor hoe om beter, meer geïntegreerde diagnoses van skaars metaboliese afwykings en siektes te maak. Pasiënte met dié soorte siektes kan nie proteïne, vette en koolhidrate – komponente van ’n alledaagse dieet – metaboliseer nie. Dit lei tot die opbou van gifstowwe in die liggaam.

Metaboliese afwykings is Dercksen se spesialisveld. Sy word internasionaal geag as ’n kenner op die gebied en lewer gereeld lesings by mediese kongresse oor die wêreld heen. As die siektes vroeg gediagnoseer word met ’n eenvoudige laboratoriumtoets, kan ’n persoon met die regte dieetaanpassings en medikasie ’n redelike normale lewe lei.

“Dis ’n groot eer om erkenning as ’n inspirerende vrou te ontvang,” sê Dercksen.
“Die erkenning vir ons werk by die laboratorium is ook ontsettend waardevol, jy besef eers dan die verskil wat jy in ons land maak.”

Sy is tans hoof- mediese wetenskaplike by die NWU se Laboratorium vir Aangebore
Metaboliese Defekte (PLIEM) en die sentrum vir menslike metabolomika – ’n veld wat die chemiese reaksies in die liggaam bestudeer.

As erfenisbewaring jou hart warm laat klop – kom sluit gerus aan by ons kultuurnetwerke.

👉 Vir die Noordelike streke (Gauteng, Mpumalanga en Limpopo) kontak Marianda Schlebusch by marianda@fak.org.za of 082 551 5806.

👉 Vrystaat, Noord-Kaap of Noordwes kontak Jan-Danie Malan by jandanie@fak.org.za of 082 965 7002.

👉 Kontak Elizma Smith by elizma@fak.org.za of 082 629 6415 as jy in die Wes-Kaap en Oos-Kaap betrokke wil raak en ’n Kultuurnetwerk help stig.

Comments are closed.

error: Content is protected !!