FAK vereer mediese wetenskaplike
November 19, 2020
’n Stuk monumentale prosa
November 20, 2020

Titel: Emigreer of bly – Is die gras werklik groener aan die ander kant?

Skrywer: Stephan Joubert

Uitgewer: Lux Verbi (niefiksie)

Resensent: Carla van der Spuy

“The chicken run.” Dis waarna ’n paar dekades gelede met die begin van die groot uittog uit Suid-Afrika verwys is. Soms smalend en met ondertone van verwyt. Hierdie mense hol mos weg van hul probleme af. Soms is hulle selfs as papbroeke uitgelag. Ons wat bly, is immers die bittereinders. Selfs al het ons die geleentheid om te gly …

Nog ’n gewilde uitdrukking destyds was “Pack for Perth”. Australië het die nuwe land van melk en heuning geword. Dan is daar ook verwysings na “Die nuwe Groot Trek”, “White Flight” en die vleiender “Brein drein”.

Emigrasie raak deesdae al algemener. Maar beteken dit dat jy werklik gelukkiger oorsee gaan wees? En hoort jy werklik daar?

Stephan Joubert pak hierdie kwelvrae wat al soveel gesinne verskeur het kalm, filosofies, sonder vooroordeel en vanuit ’n Christelike en teologiese oogpunt aan. Hy en sy gesin het self jare lank in Europa gewoon. Dus het hy eerstehandse ervaring oor die aangeleentheid.

Jy lees in die boek oor aansoeke vir visums in Australië wat meer as verdubbel het, oor ouer, ryk Suid-Afrikaners wat in rekordgetalle Plan B-paspoorte in Europa koop en oor 25 000 geskoolde werkers wat die land jaarliks verlaat. Afrikaanssprekendes sal na berekening teen 2030 slegs een present van die bevolking uitmaak.

Die redes wat expats vir emigrasie aanvoer, is algemeen bekend. Joubert lys dit soos volg:

“Die wiele val af”, “Hier is nie meer ’n toekoms vir my kinders nie”, “Misdaad wen”, “Regstellende aksie het my oorbodig verklaar”, “Ek kan die korrupsie nie meer vat nie”, “My geld is niks meer werd nie”, “Alle infrastruktuur stort in duie”, “Die verskil tussen ’n vlugteling en ’n immigrant is tydsberekening” en “Wat gaan hier van ons almal word?”

Dis alles geldige en oorbekende redes.

Hy wys ter wille van perspektief daarop dat emigrasie nie ’n verskynsel uniek aan Suid-Afrika is nie.

Hoekom voel dit dan asof Joubert mense eerder probeer aanmoedig om te bly?

Die predikant in hom slaan sterk deur as hy na Jacobus 5 in die Bybel verwys wat teen ’n leefstyl met groot selfversekerdheid waarsku en wat tot wie weet waar in die toekoms uitgewerk is. Vir hom is Deo Volente, As God wil, eerder wysheid.

Joubert en sy gesin het self meer as nege jaar lank in Nederland en Duitsland gewoon en vertel dat vriende wat hulle besoek het, hulle aangeraai het om dit ernstig te oorweeg om heeltyds in Duitsland te woon. Dit was idillies mooi en alles het gewerk.

“Toe sê ek vir hom hy kyk deur die oë van ’n toeris na alles.”

Hy self het Europa te geprogrammeerd gevind, spontaneïteit is skaars en hy het die Suid-Afrikaanse warm gasvryheid gemis.

Hy wys ook daarop dat ry of bly nie die belangrikste vraag in jou lewe is nie. Vra eerder: “Wat is God se pad/plan/doel/roete/wil met my lewe?”

Joubert benadruk dit dat geluk nie ’n plek is nie. Dit setel in jou hart. Dis ’n binne-ding. Mens moet ook nie jou ore vir smartvrate en doemprofete uitleen nie.

Hy verwys na vyf deurgangsrites vir ’n goed geleefde lewe (Richard Rohr), naamlik: Die lewe is moeilik, jy is nie belangrik nie, jou lewe gaan nie oor jou nie, jy is nie in beheer nie en jy sal doodgaan. God reik nie waarborge uit nie en hy emigreer nie wanneer die moeilikheid mens tref nie.

Hy vra ook of diegene wat “ter wille van hul kinders” emigreer nie dalk die verantwoordelikheid van hierdie besluit op hul kinders se skouers plaas nie.

(Ek het al gehoor van mense wat ter wille van hul kinders emigreer. Dan kom die kinders terug en die ouers bly.)

Hy praat ook oor morele keuses wat oor die voordeel van ander gaan. Dit vereenvoudig ook mens se lewe. Hy vra of mens ’n groter seën as gevolg van keuses gaan wees. Hy verwys na epidemies wat in 165 n.C. uitgebreek het en jare lank die dood van 2000 mense per dag op plekke soos Rome veroorsaak het. Tog het die Christene nie gedurende hierdie rampe gevlug nie, maar die siekes in hul huise geneem en versorg.

“Ons wat Jesus navolg, weet God is steeds die wye wêreld vol.”

Hy meen ook dat hoewel syfers toon jou kanse is groter in Suid-Afrika as elders om beroof of vermoor te word, is jou kanse in Eerstewêreldlande waar daar min gelowiges is, veel groter om jou ewige siel te verloor.

Jou omgewing of omstandighede behoort nie jou geluk te bepaal nie. Dis iets om oor na te dink.

Die aanhaling wat my die meeste getref het, is die volgende van Theodor Kallifatides: “Emigration is kind of partial suicide. You don’t die but a great deal dies within you. Not least the language.”

Hierdie boek is toeganklik geskryf. Die argumente vir bly is prakties sowel as emosioneel nogal oortuigend.

Dit sal hoofsaaklik byval by Christene vind. Maar ook by diegene wat voel dat hulle ’n verskil in Suid-Afrika kan maak.

Ja, dalk moet ons tog maar blom waar ons geplant word.

Comments are closed.

error: Content is protected !!