FAK vereer inpirasievrou van 93 jaar

’n Stuk monumentale prosa
November 20, 2020
Boeke vir Kersfees
November 21, 2020

Op 93 het sy verskeie wêreldgebeurtenisse en op eie bodem beleef en oorleef.

Baby Lombard van Ermelo in Mpumalanga het die Groot Depressie, Spaanse griep, twee wêreldoorloë, Republiekwording en die eerste maanlanding meegemaak.

In 1994 het sy tydens die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika gestem en vanjaar ook die Covid-19-pandemie oorkom.

Sy vertel hoe haar oupa tydens die Groot Depressie ’n skaap met ’n lam vir ’n halfkroon verkoop het. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog is sy ’n jong meisie en trou sy later met Willie, ’n soldaat wat vrywillig vir vyf jaar lank tydens die Tweede Wêreldoorlog aan die Noordkus van Afrika geveg het. Haar pa is ’n oorlewende van ’n konsentrasiekamp nadat albei sy ouers in die Anglo-Boereoorlog dood is.

Nadat sy en Willie getroud is, het sy op hulle stuk grond met stoetskape geboer, en vrugte en groente verbou. Hulle maak daar vir Arie groot en dien die gemeenskap van Wakkerstroom en Ermelo. Baby was vir jare lid van die Vrouefederasie (vandag SAVF) en is steeds vandag betrokke by die kerkgemeenskap.

Vandag bly sy alleen in haar eie huis op die dorp, waar sy nog self die huis skoonmaak en haar eie kos maak. Tot en met ses jaar gelede het sy nog haar eie klere ook gemaak. In die kompleks waar sy woon, stap sy daagliks en almal kom vra haar raad. Hetsy dit oor gesondheid of ander raad is, sy help almal graag.

Afrikaans, haar moedertaal, Afrikaanse geskiedenis en kultuur het Baby nog altyd na aan die hart gelê.

Baby is onlangs deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vereer vir haar dienswerk om die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis in haar omgewing te bevorder.

Ziegfried van Huyssteen, adjunkhoof van die FAK, en Baby Lombard

In Augustus vanjaar, gedurende Vrouemaand het die FAK begin om vroue landwyd vir hul rol in hul onderskeie gemeenskappe te vereer. Dis vroue wat opstaan, bou en volhard – op elke terrein in die gemeenskap. Nominasies van regoor die land is ontvang. Die FAK-Kultuurnetwerke het dié vereringsprojek landwyd gedryf.

Ziegfried van Huyssteen, adjunkhoof van die FAK, sê: “Wat ‘n ongelooflike voorreg was dit nie vir my om aan tannie Baby ’n FAK-toekenning te kon oorhandig nie. Tannie Baby is 93 jaar oud en ’n reuse-inspirasie vir haar gemeenskap. Haar hande staan vir niks verkeerd nie, en haar vrolikheid en positiwiteit is aansteeklik!”

Haar kleindogter, Lizette Lombard, het Baby genomineer.

“Ek het uitsonderlike respek vir my ouma, haar absolute positiwiteit deur al die dekades, ongeag wat die lewe oor haar pad gebring het. Ek wens elke mens kon net ’n dag saam met my ouma spandeer. Hulle sal dadelik besef hoe besonderse mens sy is,” vertel Lizette.

Marianda Schlebusch, koördineerder van die FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng, Mpumalanga en Limpopo, sê: “Baby Lombard is op 93 ’n inspirasievrou wat uitstaan, bou en volhard in haar gemeenskap.”

Comments are closed.

error: Content is protected !!