Boeke vir Kersfees
November 21, 2020
Laat weet Kersvader van hierdie boeke
November 22, 2020

Boeke is altyd ‘n wonderlike Kersgekenk.

Hier is Lapa se topkeuses vir hierdie Kersfees:

Volwasse niefiksie:

Moet ons waai? Om te emigreer of nie: 20 meningsvormers sê

Saamgestel deur Alet Law

Moet ons waai? Om te emigreer of nie: 20 Meningsvormers sê

Die debat oor emigrasie is so oud soos Suid-Afrika se demokrasie self. Toe die “nuwe Suid-Afrika” in 1994 aangebreek het, het talle mense die land verlaat uit vrees vir wat ‘n meerderheidsbewind sou inhou. Nog meer het in die jare sedertdien getrek opsoek na ‘n beter lewe en Suid-Afrikaanse gemeenskappe is nou in plekke soos Kanada, Engeland en Australië te vinde.
Vandag, 25 jaar ná demokrasie en in die lig van kwynende optimisme oor die toekoms van die land, is daar nuwe lewe in die debat oor emigrasie. Hierdie keer word dit nie net in reaksionêre kringe gevoer nie, maar om die eetkamertafels van meerdere Suid-Afrikaners.
Met die realiteit van nege vermorste jare wat aan ons beursies en
toekomsmoontlikhede knaag, en die aanloklike geleenthede wat die globale
ekonomie bied, vra al hoe meer mense, “Moet ek waai?”
In Moet ons waai? takel meer as 20 van Suid-Afrika se voorste meningsvormers, insluitend Piet Croucamp, Dana Snyman, Melanie Verwoerd en Jonathan Jansen, hierdie vraag. Dit is poging tot insig oor ‘n kwessie wat swaar weeg op ons kollektiewe psige, en ‘n uitdaging aan elke persoon wat dit oorweeg om te waai, reeds gegaan het of besluit het om te bly om te floreer as Suid-Afrikaners waar ook al hulle hulself mag bevind.

Afspraak met moord

Jana Marx

Met behulp van onderhoude uit diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor ’n tydperk van vier jaar poog Marx om die publiek se vrae te antwoord en ’n blik te gee op die binnewerkinge van só ’n kultus

Elf wrede moorde oor ’n tydperk van vier jaar ruk die gemeenskap van Krugersdorp en haal landwyd nuusopskrifte. Eindelik word al hierdie moorde verbind met Cecilia Steyn en haar kultusgroep, Electus per Deus (uitverkies deur God). Lede van die groep aanbid die grond waarop Cecilia loop en sal selfs vir haar moord pleeg.
Die moordenaars is slim, gewone mense – ’n onderwyseres, ’n finansiële makelaar, ’n kind wat tussen die moorde deur steeds ses onderskeidings in matriek behaal en boonop keuring kry om medies te gaan studeer. Hul slagoffers het bloot ’n sake- afspraak nagekom, min wetend dat dít ’n afspraak met die dood was.
Wie is Cecilia Steyn? Hoe kan een mens vyf ander manipuleer om moord te pleeg en namens haar in die hof te lieg? Watter rol het Satanisme gespeel? Hoe ontduik onervare misdadigers die polisie vir so lank?
Jana Marx beantwoord dié en ander vrae in ’n waremisdaad-verhaal wat gelei het tot een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis. Met behulp van onderhoude uit diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor ’n tydperk van vier jaar poog Marx om die publiek se vrae te antwoord en ’n blik te gee op die binnewerkinge van só ’n kultus.

Welvaartskeppers – Strategieë wat jou lewe kan verander

Riaan Botha

Wat is die geheim van selfgemaakte miljoenêrs, dié uitgelese groep wat welvaart skep, hetsy as entrepreneurs, professionele lui of as salaristrekkers, selfs te midde van uitdagings en ná terugslae? Die skrywer, ’n onafhanklike finansiële adviseur, het oor jare heen ontdek dat sekere strategieë suksesvolle welvaartskepping aan die hand werk. Hierdie boek bevat 68 welvaartstrategieë asook suksesstories van
’n diverse groep gewone Suid-Afrikaners wat soms van voor af oor moes begin maar steeds ’n uitdagende omgewing suksesvol kon navigeer.
Dié boek bied praktiese advies asook toerusting om oor elke strategie na te dink, jou eie finansiële posisie te verbeter en selfs, uiteindelik, inkomste vir ander te skep. Dit sal jou help om ’n kopskuif te maak en moontlikhede in ’n bitter moeilike ekonomiese klimaat te identifiseer. Die stories sal jou inspireer en ook help om hierdie strategieë in jou daaglikse handel en wandel toe te pas.

Bak dit self – 50 feestelike koeke om baba te vier

Marlene Schoeman

’n Nuwe baba in die familie is altyd ’n vreugdevolle gebeurtenis en iets wat
gevier moet word. Feesvierings kan egter ’n duur spulletjie word, veral as dit by gebak kom. Boonop is koekbak en -versiering iets waarteen baie mense opsien.
In Bak dit self wys Marlene dat die mooiste laagkoeke nie ’n onbegonne taak hoef te wees nie. Sy verduidelik hoe om versiersel te kleur, ganache te maak, koeklae egalig deur te sny en verskeie lae op mekaar te stapel sonder dat dit omval. Kaalkoeke (naked cakes) en ombrékoeke word selfs vir die mees onervare bakster maklik gemaak.
Daar is resepte vir elke smaak, van gewone vanielje- en sjokoladekoek, die
immergewilde rooifluweel- en wortelkoek, geurige lemoen- en pynappelkoek, tot smullekker klam Hummingbird-koek. Verskeie versiersels en strope is ook ingesluit.
Met behulp van hierdie boek hoef jy jou nie weer te bekommer oor wat om vir watter geleentheid te bak nie, want daar is koekidees vir die bekendstelling van die baba se geslag, ooievaarstees, verjaardae en morskoeke (smash cakes) vir die belangrike klein mensie.
Kom, trek aan jou voorskoot en bak dit self.

Kinder- en jeugboeke

Uitvinders, Planmakers en ander Slimkoppe van Suid-Afrika

Engela Duvenage

In hierdie boek sal jy lees van allerlei uitvinders, planmakers en slimkoppe van Suid-Afrika.
Hier is stories oor mense wat mediese deurbrake gemaak het.
Stories oor mense wat met diere en plante werk.
Stories oor mense wat die geheime van die hemelruim probeer ontrafel.
Stories oor mense wat interessante ontdekkings oor fossiele, die aarde, water en die klimaat maak.
Dit is voorwaar ’n trots Suid-Afrikaanse boek.

Offers vir die vlieë (Wenner van Lapa-jeugromankompetisie 2019)

Fanie Viljoen

Op sewentien, toe ons by Opleidingskamp Alpha rapporteer, het ons elkeen ons eie S13 gekry. Daardie dag, toe ek my hande op die swart metaalhuls van die geweer lê, het iets in my doodgegaan. Ek het dit net nie toe al besef nie.
Dertig soldate kry van kleintyd af intense weermagopleiding in ’n distopiese
staat.
Ses jong soldate, ontneem van hul menslikheid en hulle jeug, bly oor en word
ontplooi na die Front.
Een van hulle vermoor hul seksieleier.
Almal ontken hulle is

Baster (Naaswenner Lapa-Jeugromankompetisie 2019)

Jan Vermeulen


Baster is die storie van Karel, ’n seun wat met honde kan praat, en Hêppie, ’n liefdevolle brak wat gedwing word om ’n straatvegter te word. Die verhaal vertel die storie van al die honde waarvoor Karel lief is, maar ook die hartverskeurende verhaal van die hondegevegte en geweld wat sy samelewing verskeur.

Bethel se berg

Maretha Maartens

Dis die onstuimige tagtigerjare.
Bethel Hendrix, haar broers en hulle ma reis deur die land in ʼn Kombi.
Hulle leef ʼn nomadiese bestaan en bly net vir ʼn kort ruk in een dorp voor hulle na ʼn volgende beweeg.
Om die gesin aan die lewe te hou, verkoop Bethel se ma vetkoek.
Maar oral waar hulle kom, is dit duidelik dat die gesin anders is. Dat hulle arm is. Dat hulle nie in ʼn regte huis bly nie. Dat hulle ma anders lyk en dink. Dat daar nie ʼn pa saam met hulle is nie.
Al wat Bethel graag wil hê is ʼn plek waar sy haarself kan wees …

Die Ickabog

JK Rowling

Die koninkryk van Kornukopië was eens op ’n tyd die gelukkigste in die wêreld. Daar was baie goud, ’n koning met die spoggerigste snor, slagters,
bakkers en kaasmakers wie se uitsonderlike kos mense laat jubel en juig het.
Alles was perfek – behalwe vir die mistige Moerasland in die noorde wat,
volgens legende, die tuiste van die monsteragtige Ickabog was. Mense met
gesonde verstand weet dat die Ickabog net ’n mite is, ’n bangmaakstorie vir
kinders. Maar soms neem so ’n storie ’n lewe van sy eie aan.
Kan ’n mite veroorsaak dat ’n geliefde koning sy titel kwyt raak? Kan ’n mite ’n eens gelukkige land op sy knieë bring? Kan ’n mite twee brawe kinders op ’n avontuur stuur waarvoor hulle nie gevra het nie en wat hulle nooit sou kon verwag nie?

Wêreld van wolwe

Fanie Viljoen

“Alle kinders is bang vir iets. As hulle sê hulle is nie, lieg hulle.”
Joshua Reinders maak ’n groot fout. As hy net nie so bang was nie, het sy pa
nooit daardie aand ’n kind geskiet nie. Dis hoekom hulle na Droomhoek
moes vlug. Maar ook in Droomhoek teister die vrees hom. Skaduwees is nie
net skaduwees nie. Geluide is nie net geluide nie. En mense is nie almal
mense nie …
“Almal het geheime,” waarsku Joshua se nuwe vriend Gio.
Joshua besef net nie hoe naby daardie geheime aan hom lê nie. En wanneer hy dit uitvind, gaan sy hele wêreld op sy kop keer.
Die weerwolwe wag vir hom …

Volwasse fiksie:

Kanaän

Sophia Kapp

Kan hierdie liefde se prys betaal word?

Hulle is pole uit mekaar: Hy is ʼn eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van ʼn skatryk Engelse sakeman. Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop sy in sy arms in, en wanneer haar wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar ʼn uitweg – ʼn jaar op Kanaän as sy vrou. Dit behoort haar die geleentheid te gee om die stukke op te tel, besluit Catherine, maar kort voor lank besef sy dat sy aan Chrisjan meer het as al haar gesofistikeerde Johannesburgse vriende. Al wat sy nie weet nie, is of sy die verskriklike prys wat hierdie liefde van haar vereis, sal kan betaal.

Oor en weer

Trisa Hugo & Analize Viljoen

Sy is my buurvrou en my vriendin, en sy het net vir my …
Die dag toe Billie by Amandelboom 6 intrek, kon nie sy óf Manda, wat oorkant die straat in nr. 9 woon, voorsien hoe verstrengel hulle lewens sou raak nie.
Manda en Billie is so verskillend soos Antarktika en die Sahara. Inkennige
Manda voel op haar veiligste in haar huis met haar kat, Jasmyn, as geselskap.
Billie, aan die anderkant, is net so energiek soos haar hond Tequila. Sy is pas geskei en dolverlief op ’n Irakese vrou, Amani. Uit blote misverstand tussen die troeteldiere begin Billie en Manda oor en weer kuier. En in die proses leer hulle dat die liefde ’n duisend vorme aanneem, dat dit moed verg om weerloos te wees, en dat vriendskap oneindig kosbaar is.

Stom gode

Dibi Breytenbach

Die gode in Afrika is stom. En lui.
So byna is kolonel Aella O’Malley die ewigheid in gestuur. Nou sy is terug in
Afrika se bos nadat sy in Avignon gaan aansterk het. Skaars is sy en haar Franse geliefde weer op haar tuisgrond of hulle word betrek by ’n ondersoek na kadawers wat in die veld gevind is. En dit word gou deur nog lyke opgevolg.
Maar die beeld van ’n ander figuur het haar uit Avignon gevolg, dié van ’n
straatkind wat Zoeloe praat en Afrikaans verstaan. Hoe het hy daar gekom, weet sy ma dit en hoe kry Aella die kind terug by die huis? Meer, wie was vir sy lot verantwoordelik? In Afrika se nat veld doem die antwoorde gaandeweg op en dit is afskuwelik.

Toekomsmens

Isa Konrad

Pretoria, 2057. Dertig jaar ná Johannesburg in ’n spookstad verander het, word die Nuwe Republiek van Suid–Afrika deur die Toekomsparty en ’n Raad van Twaalf regeer. Kel de Jong werk as ’n programmeerder in die Intelligensieburo.
Sy geordende lewe word in chaos gedompel wanneer ’n militêre observasiesatelliet ’n jong kind op die verlate N1 tussen Pretoria en Johannesburg ontdek. Op dieselfde dag word In–Grid, die Intelligensieburo se sentrale kunsmatige intelligensie, in ’n aanval vernietig. In chaos wat volg, aktiveer Kel In–Grid se prototipe en ontdek dat dit die herinneringe van Agnes Baumer bevat, ’n vroulike spioen in Duitsland gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Met behulp van tydreise ontdek Kel in die verre verlede die waarheid agter die gebeure in sy hede.


Comments are closed.

error: Content is protected !!