FAK vereer inpirasievrou van 93 jaar
November 20, 2020
Boeke onder die Kersboom
November 21, 2020

Kersfees is om die draai en ‘n boek is altyd die beste geskenk – om te gee én te ontvang.

Hou NB-Uitgewers se platforms dop vir hulle topkeuses en bederf iemand met lekker leesstof dié Kersfees. Alle boeke kan by goeie boek- of aanlyn winkels gekoop word.

NB-Uitgewers beveel aan:

Volwasse fiksie:


Die kleinste ramp denkbaar

Francois Smith

Op die oog af is dié roman ’n storie oor ’n goeie dokter en ’n slegte
polisieman. Want ’n bosluisbyt aan die polisieman Frans Schuin lei
onverwags tot ’n tydperk van verwarring by die plattelandse dokter

Gustav van Aardt. Van Aardt is een van die volrondste personasies
wat in baie jare in ’n Afrikaanse roman na vore getree het, en wat so
heerlik is van sy uitbeelding is dat hy so nugter as ’n feilbare,
onsekere volwassene geskets word. Die leser sien deur Van Aardt se
oë maar soos ons mettertyd agterkom, is daar nie werklik uitsluitsel
oor die dinge wát hy sien nie. Is dit drogbeelde of werklike visuele
waarnemings? En gaan hy mettertyd vrede maak met sy plek op die
aarde?

Die titel van dié fassinerende roman deur die skrywer
van Kamphoer kan op baie dinge slaan; onder meer op die verlies
van alle sekerheid, selfs op die kleinste vlak. Dit sê eindelik baie
oor die transformasie wat Suid-Afrika besig is om te ondergaan, uit
die oogpunt van ’n hoogs gekultiveerde wit man.

Die meeste sterre is lankal dood

Johann de Lange


Die meeste sterre is lankal dood is die bekroonde digter Johann de
Lange se dertiende bundel. Dit bestaan uit ses afdelings, deurgaans
gewy aan vlietende oomblikke vasgevang in ‘n vers (“om met woorde
die onsegbare te sê”).

Die bundel het ‘n elegiese toonaard, en word
oorheers deur ‘n bewustheid van verlies & verganklikheid, van
“inskaduwings van die lig”. Verse oor die skryfproses figureer as
teenvoeter vir die verbygaande aard van mens wees. Dit is verse vir
“my mooi dooies”. In “Oggendmusiek” beskryf die digter ‘n
vroegoggendkoor van voëls voor sonsopkoms, elders ‘n koorddanser,
voetjie vir voetjie oor die spantou. Soos in sy vorige werk is die
erotiese verse ‘n hoogtepunt in die bundel, bv in “Ode aan die mielie”:

“Nét so, nog aan die oggend tussen
die syige bene van die dag staan
hy, volryp, pittig & reg.”
Bloed & sneeu
Bloed op sneeu is ’n pasgebore rooi,
van iets gewond, ’n struikelende spoor.
En die sneeu? Is daar énigiets so mooi,
so prilwit gespits, as ’n haseoor?


Donkerdrif

Deon Meyer


Dis hier! Die nuwe Bennie Griessel waarop almal wag. Intrige en
spanning ingebed in ons huidige tydsgees verskaf leesplesier soos
nét Deon Meyer kan bied – en eerste in Afrikaans.

’n Koelbloedige moord by die Kaapse Waterfront. Wat dalk
verband hou met geheimsinnige briewe wat geskorste luitenante
Bennie Griessel en Vaughn Cupido ontvang het. Maar eers moet
Bennie-hulle op Stellenbosch soek na ’n verdwene student, en die
spoor vat van die eiendomsagent wat die kooptransaksie van

Donkerdrif, korporatiewe swendelaar Marnus Boonstra se peperduur
wynplaas, behartig het. Stadigaan besef die speurders al hul
ondersoeke het ’n gemene deler: die donkerste drif, gierigheid.


Draairivier


Engela Ovies


Engela Ovies se debuutroman, Draairivier, is ’n deernisvolle verhaal
oor familie, vriendskap, liefde en vergifnis.
Dis die jaar 1955 en Suzanna Jansen woon saam met haar pa,
ma en broer Gert in ’n riethuisie op Bertus van Zyl se plaas naby
Kakamas. Haar pa en broer sien bedags om na die skaap en haar ma
werk in mevrou Rita se Groothuis. Dis die Kersvakansie voor Sanna
se laaste skooljaar en sy kan deesdae nie die vlinders in haar maag
begryp elke keer as sy die buurseun, Johannes, in een van die
veekampe raakloop nie. En dan is daar Inge, die meisie met die geel
hare, wat soos die slapende skoonheid gevangene is in die
Groothuis. Een middag besluit Sanna om aan haar kamerdeur te klop
– min wetende dat ’n vriendskap met dié vreemdeling haar en
Johannes se lewens onherroeplik gaan verander.

Hans gee Herklaas horings


Rudie van Rensburg


Hans van Kraaienburg, verlosser van die inwoners van Huis
Madeliefie (2017 se Hans steek die Rubicon oor), is óp van al hul
klagtes. Noudat hul drakoniese matrone iets van die verlede is, is
daar steeds etlike klein probleempies wat Hans as beheerraadslid
moet oplos – en dít met gans te min geld in die kietie. Wanneer sy
vriend Vasie hom dus nooi vir ’n vakansietjie op Hermanus, as
huisgaste van dié se neef Herklaas, is Hans maar te gretig om sy
safaripakke te pak.

Op Hermanus gekom, vind die twee dat Herklaas in die sop is: sy
blyplek staan net mooi op die plek wat die Overstrand se rykste
skobbejak, Grond Graaffwater, geoogmerk het vir sy enorme nuwe
hotel – maar Herklaas wil nié verkoop nie. Wanneer Grond en sy
kriminele handlangers hardhandig raak, tree Hans tot die stryd toe –
Herklaas moet ’n stel horings kry, en vir Grond trompop loop!

Hans steek die Rubicon oor was ’n topverkoper, veral na voorlesing
op RSG. Hans se tweede avontuur gaan lesers net so laat kraai van
die lag.


‘n Vry vrou
Gedigte van Antjie Krog


Antjie Krog, Karen de Wet


Krog is ’n internasionaal gerekende digter maar ook plaaslik
geliefd. Vyftig jaar ná haar opspraakwekkende debuut, Dogter van
Jefta, verskyn daar ’n splinternuwe versameling waarin meer as
honderd gedigte uit haar elf bundels saampraat. Verse oor eerste
liefde, oor moederskap, oor die landskap, en oor onreg; oplaas ook
oor ouer word.


‘n Vry vrou bevat gunstelinge uit Krog se oeuvre maar ook minder
bekende dog ewe verrassende verse. Saamgestel deur Karen de
Wet.


Pienk ceramichondjies


Ryan Pedro


In Ryan Pedro se debuutbundel kom ’n sterk nuwe stem aan die
woord in verse wat dikwels uit die oogpunt van ’n bruin seun op ’n
plattelandse dorp aangebied word. Die kompleksiteite van identiteit,
ras, klas en opvoeding word ondersoek deur dié seun se beweging
tussen verskillende wêrelde binne sy eie familie, en binne die
kleindorpse opset. Dié beweging word in die taalgebruik in die bundel
weerspieël deur ’n wisseling tussen variëteite.


Interrassige vriendskappe en verhoudinge maar ook voortgesette
diskriminasie en viktimisering kom aan die bod. Skeidings binne die
bruin gemeenskap self onkom ook nie aan Pedro se fyn waarneming
nie. Hiphopverwysings
bind die verse saam en dra by tot die skets
van die portret van ’n “coloured laitie”.

Met roerende verse – soms skerp krities, soms teer, dikwels snaaks –
word ’n onderverteenwoordigde ervaringswêreld en nuwe tematiek in
die Afrikaanse digkuns oopgeskryf.

“’n Nuwe generasie aan die woord . . . weerloos en aangrypend” –
Antjie Krog


Skepsel


Willem Anker


Aan die Kaapse Weskus versorg Rebecca Maas haar sterwende pa
in ’n tegnologies gevorderde slimhuis, ’n huis wat praat in ’n
halfbekende stem. Op die horison, ’n olietenkskip.
’n Posthuman biohacker trou met die enorme skip, en maak
kuns oor die wittebroodsreis.
En in die yswildernis van Svalbard verdwyn ’n navorser se
minnaar spoorloos. Hulle is daar om geheimsinnige spierwit items te
ondersoek – dalk beendere, maar dan beendere wat vertak en
ineensmelt soos geen bekende skepsel s’n nie.


“Skepsel is ’n roman wat ’n mens treiter en verbaas en verontrus en
van vreemde dinge leer.” – SJ Naudé


Tweegevreet


Zirk van den Berg


Mense hou valse gesigte voor. Wraak het verskillende gedaantes.
Wanneer Siegfried Bock van die Kaiserliche Landespolizei ingeroep
word om die dood van ’n boer in die Hochnamibdistrik te ondersoek,
het hy geen rede om te vermoed dat moord die oorsaak is nie. In
1905 in Duits-Suidwes-Afrika is ’n aanval deur ’n wilde dier nie
ongehoord nie en te oordeel na die merke aan die lyk was dít die man
se lot. Maar dan ontdek Siegfried daar naby ’n luiperdkarkas waarvan
die voorpote afgesny is . . .

Terwyl Siegfried die saak ondersoek, kry hy ook te make met spoke
uit sy verlede en ’n Berlynse besoeker wat ’n dodelike wrok koester.
Boonop worstel hy met Duits-Suidwes-Afrika se onstuimige politiek
en ongenaakbare natuur. Kan hy dit alles te bowe kom en
geregtigheid laat seëvier?

Soos in sy voorganger, Die vertes in, word gewigtige tematiek subtiel
in Tweegevreet se boeiende spanningslyne verweef.


Vers & vrou
258 gedigte


Karen de Wet


’n Versameling gedigte oor vroue, deur vroue, vir vroue – en vir almal
wat rondom en met vroue leef.

Lees oor beroepsvroue en huisvroue, verliefde, geliefde en ontnugterde vroue, vroue met kinders en sonder kinders, vroue wat in die kalklig staan en vroue wat deur grense breek. Die digters skryf intens en onbeskroomd oor die liefde en die lewe, oor die hoogspanning van erotiek, oor die onkant vang van ouderdom en die dood.

In die gedigte klink die ritme van ’n hartklop op, die voetval van leef. Dit neem die leser saam op reis: oor kruine van hartstog en langs paaie van ontnugterings, versugtings, verwensings en verwesenlikings.

Dié keur soos uitgesoek deur Karen de Wet kyk met ’n vroulike blik: die heelal beskou deur die oë van ’n vrou. Dit is ’n bloemlesing om aan te gee vir ’n vriendin of ’n suster, vir ma’s en vir dogters, vir geliefdes – omdat ons almal ’n bietjie so is, en ook nié so is nie.

Volwasse niefiksie:

Braaibroodjies en burgers


Jan Braai


Wie sou kon raai dat Jan en sy boeke wêreldbekend sou word vir braai!

Die braaikoning is terug met ’n splinternuwe boek en dié keer ondergaan die nederige braaibroodjie ’n gedaantewisseling of twee. Vind liplekker hoender, beesvleis, vegetariese en veganistiese braaibroodjie burgerresepte wat jou gesin sal laat terugkom vir nog!

En moenie dink Jan het van die suikertande vergeet nie, die boek bevat alles van soet tot sout, alles oor die vuur – dis mos nou lekker!


Landbou Boerekos


Arina du Plessis

Bakresepte uit die gewildste kostydskrif, Landbou Boerekos. As jy al ooit jou ouma se verlore gemmerkoekie of skonresep gesoek het, dan het jy dit gevind! Dié boek bevat alles – groot laagkoeke, stroopkoeke, kaaskoeke, soutterte, kleinkoekies, beskuit, kolwyntjies, soet en soutbrode, warm poedings en Kersfeesgebak. Beslis ‘n móét vir elke bakster, tuisteskepper én werkende ma.


Maggie: My lewe in die kamp
Die aangrypende verhaal van ‘n jong meisie in die Anglo-Boereoorlog


Maggie Jooste


Margaretha (Maggie) Jooste was net 13 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog
uitbreek en haar lewe ingrypend verander.


Ná maande in huisarres op Heidelberg in die Transvaal, word sy, haar
ma en jonger broers en susters in ’n veetrok gelaai en na ’n konsentrasiekamp in Natal gestuur. In die kamp ervaar hulle honger,
onsekerheid en verlies, maar ook soms – op ’n verrassende wyse –
die goedhartigheid van Britse soldate.


Hierdie baie persoonlike vertelling, in haar eie woorde, is ’n verhaal
van swaarkry en erge ontbering, maar ook van medemenslikheid en
vriendskappe oor vyandsgrense heen. Daar is die merkwaardige
band tussen die Joostes en die Engelssprekende Russellgesin
wat lank voor die oorlog bure en vriende was. Terwyl die Britse soldate en
Boerekommando’s oorlog voer, voorsien die Russells in die geheim
kos aan die Joostes om hulle te help oorleef, en ondersteun hulle die
gesin ook ná die oorlog.

Maggie is ’n aangrypende, maar ook hartverskeurende ware verhaal.

Kinder- en jeugboeke

Absoluut Einstein


Christien Neser


Die outistiese Micha uit Amper Einstein (2013) is in Absoluut Einstein in Gr 9, met Matriek IT onder die knie. In sy nuwe skool moet Dylicia ‘n ogie oor hom hou. Sy’s die enigste meisie in die robotikagroep wat vir Grottobot Fest ‘n robot bou en programmeer.
Wanneer die Vuilhonde en Micha koppe stamp, is Dylicia in die middel vasgevang.


Dagboek van ’n dork 4: Stories van ‘n nie-so-elegante ysprinses

Rachel Renée Russell


Brandon doen vrywilligerwerk by ’n diereskuiling en dit verbaas Nikki nie. Maar dan hoor sy hulle wil die skuiling toemaak. Wanneer haar skool ’n skaatskompetisie hou om geld vir liefdadigheid in te samel, besluit Nikki sy en Chloe en Zoey moet die skuiling help. Kan sy betyds van ’n dork-op-ys
na ’n prinses-op-ys verander?

Die vinnigste skoene in die hele wêreld


Cecilia Steyn, Johann Strauss


Wynand hou niks van Natalie nie. Sy is die vinnigste meisie in hulle graad, en sy weet dit. Natalie wil hê hulle moet resies hardloop. En sy kom altyd eerste. Wynand wil so graag nuwe tekkies hê. Bloedrooies met wit veters. Die vinnigste tekkies in die hele wêreld! Met sulke skoene sal hy beslis vinniger as Natalie kan hardloop. Maar wat gaan gebeur as hy per ongeluk ’n paar superherotekkies aantrek en dan moet help om ’n spul gewetenlose kunsdiewe vas te trek?

Goue lintstories: Die mooiste avontuurverhale


Moon S.r.l.


In hierdie wonderlike boek word kinders bekendgestel aan klassieke avontuurverhale, soos Om die wêreld in 80 dae, Robinson Crusoe,
Lancelot se avonture, Gulliver en die Lulliputers, White Fang, Die drie
musketiers, Tarzan, Skateiland, Reis na die middel van die aarde,
Tom Sawyer en Huckleberry Finn en Sandokan, die tier van Maleisië.

Hondman


Dav Pilkey


Daar is ‘n nuwe soort polisieman op die toneel! George en Harold het
‘n nuwe held geskep wat bedrog uitgrou, sy kloue in kroeke inslaan
en diewe omduik! Ben die hond en sy polisiehoof word beseer op
diens, maar ‘n operasie verander ook lewe soos ons dit ken, en
Hondman word gebore. Met die kop van ‘n hond en die lyf van ‘n
mens, het hierdie heldhaftige hond ‘n neus vir geregtigheid. Maar is
sy hondemaniere regtig iets van die verlede?

Ontdek: die oseaan

Miranda MacQuitty


Hierdie boek gee nuuskierige agies die kans om alles oor die oseaan
te leer. Die inhoud dek onder andere oseane van die verlede en
vandag, golwe en die weer, sand en modder, seebeddings, rotse
onder en bo water, lewe op koraal, roofdiere, aanval en verdediging,
beweging, die bodem, duikbote, visvang en oseaanprodukte, olie en
gas, en meer. Die boek sluit af met ‘n Het jy geweet?afdeling,
wêreldoseane, plekke om te besoek en ‘n woordelys.

Comments are closed.

error: Content is protected !!