Laat weet Kersvader van hierdie boeke

Boeke onder die Kersboom
November 21, 2020
’n Moet-hê-publikasie vir diegene wat in die ABO belangstel
November 22, 2020

Laat Kersvader jou hierdie Kersfees met ‘n boek of twee verras.

Hier is Protea Boekhuis se topkeuses:

Erfgeld is swerfgeld

Johannes C. Bakkes

Johannes Bakkes is die geliefde skrywer van andersoortige reisverhale soos Ons is moertoe en Norrevok. Hierdie boek is meer persoonlik; hier skryf hy homself oop. Die subtitel is Reis na binne, die -ste -ste plek – hy is altyd op soek na die koudste, warmste, hoogste, droogste plek om te besoek. Hier word humoristiese vertellings oor sy reise afgewissel met sy pa se wolhaarstories en lewendige geskiedenisvertellings. Hy en sy seun vind aanklank tydens nog ’n onbesonne reis. Sy liefde vir sy familie is tasbaar. Gerrit Rautenbach noem die manuskrip “sy beste skryfwerk nog” en “blootstellend anders” Bakkes lê homself bloot in sy weerloosheid, vrees en krankheid. Hy wys wie hy was in die ou bedeling en hoe hy probeer hand bysit in die nuwe bedeling, wat hy nie gekies het nie. Dis ’n dapper, aangrypende reis vol humor en deernis.

Die grootpad is ‘n grond pad

Daniël Lötter

As jy die Groot- en die Klein-Karoo en hulle se stories wil kry, moet jy ’n grootpad soek wat ’n grondpad is, en daarlangs moet jy ry … Kontreistaaltjies, moordverhale, spookstories en ander vertellings oor besonderse mense en gebeure uit die dorre streke van Suid-Afrika.

Kansvatter: Die rustelose lewe van Ben Viljoen

Carel van der Merwe

Ben Viljoen (1868-1917) was ‘n prominente jonger generaal in die Anglo-Boereoorlog, maan na die oorlog is hy nie opgeneem in die nuwe politieke elite van die Afrikaners nie. Nadat hy die eed van getrouheid op St. Helena onderteken het, het hy nooit weer permanent na Suid-Afrika teruggekeer nie.

Carel van der Merwe het besluit om Viljoen se spore te volg na Brittanje, Nederland, Mexiko en Amerika en te gaan uitvind hoe dit gebeur het dat dié Boereoorloggeneraal burgerskap van vier verskillende lande gehad het, die ster was van ’n Boereoorlogskouspel, aan ’n Mexikaanse revolusie deelgeneem het, as vredeskommissaris tussen die Yaqui-Indiane opgetree het en voor sy dood op die punt was om ’n film in Hollywood te vervaardig.

’n Prentjie van ’n komplekse persoonlikheid kom na vore wat herinner aan ’n deel van die huidige generasie Afrikaners – minder godvresend, gemaklik in verskillende kulture, en bereid om te emigreer wanneer hulle dink dit tot hul voordeel is.

Vir die jongspan:

Moeps die Mops-boekreeks

Dr.Seus-boekreeks

Comments are closed.

error: Content is protected !!