’n Moet-hê-publikasie vir diegene wat in die ABO belangstel

Laat weet Kersvader van hierdie boeke
November 22, 2020
ONTDEKKINGSREIS deur die GENEALOGIE
November 24, 2020

Die Anglo-Boereoorlog – ’n Chronologie

Samesteller: Pieter G Cloete

Resensent: Chrisna Nel

Ek was so tydjie gelede op soek na inligting oor die slag van Frederikstad en het begin rondspeel op Google. (Hulle sê mos Google is ons beste vriend. Hoewel ek dit maar met ’n knippie sout neem.) Op een van die Facebook-bladsye oor geskiedenis waaraan ek behoort, word ek toe na Pieter Cloete se boek toe verwys. Wat ’n verrassing!

Die Anglo-Boereoorlog – ’n Chronologie is nie ’n wetenskaplik-historiese ontleding nie, maar presies wat die titel sê – ’n chronologie; ’n poging om die dag vir dag, slag vir slag opgawe van die elf maande wat die ultimatum voorafgegaan het en die 963 dae van die begin van vyandighede tot die finale vredesverdrag weer te gee. Dit sluit onder meer in die grondoorsake van die konflik, die aanhitsing, die vredespoging en die ultimatum; die eerste Republikeinse offensief; die tweede Britse offensief; die guerillafase; die Britse verskroeideaardebeleid; die bitter einde en die vredesonderhandelings.

Deeglike navorsing is gedoen om hierdie volledige chronologiese uiteensetting van die oorlogsgebeure te gee. Dit gee ’n magdom inligting aan die algemene leser, student en navorser.  Die kolomme in die boek dui die vordering van die oorlog aan die verskillende oorlogfronte aan, wat ’n baie duidelike geheelbeeld gee van wat oral gebeur het. So kan mens maklik naspeur wat op dieselfde dag in verskillende dele van die land plaasgevind het.

Die bykomende kaarte, diagramme en statistieke, in ’n aparte boek, gee ’n besondere dimensie aan die publikasie.

Hierdie is verseker ’n moet-hê-publikasie op elke belangstellende in die Anglo-Boereoorlog se boekrak. Maak net seker jy het genoeg tyd, want ek waarborg jou, as jy eers gaan begin lees, gaan jy nie wil ophou lees aan die 396 bladsye nie.

Besoek gerus die webblad www. Angloboereoorlog.co.za

Die boek is beskikbaar by Pieter G Cloete by pgcloete@lantic.net

Comments are closed.

error: Content is protected !!