ONTDEKKINGSREIS deur die GENEALOGIE

’n Moet-hê-publikasie vir diegene wat in die ABO belangstel
November 22, 2020
Die rol wat Olivier J. Henning in RSA genealogie gespeel het
November 24, 2020

– Johan Krige, Caledon Villa, Stellenbosch (2020) –

Waar kom ons vandaan?  Dit is gewoonlik die eerste vraag wat die Genealogie moet beantwoord.
Waarheen is ons op pad? Dit is ’n vraag wat die genealoog vir hom- of haarself moet afvra.

Kom ons stel dit eenvoudig: wanneer die basiese navorsing afgehandel en die familieboek gepubliseer is, dan is die reis nie noodwendig voltooi nie. In werklikheid lê daar nog talle en baie interessante panoramas voor. Die verdere bakens langs dié weg meld hulself nie bloot aan nie – hulle moet ook beplan en opgebou word. En dit alles verg tyd en energie. Belangrik dus: dink breed en kies die mylpale op hierdie wonderlike reis.

Bloot ter illustrasie: ons eie Ontdekkingsreis deur die Genealogie !

1973: Ons Krige-familieboek, Die Familie Krige: Herkoms en Genealogie word gedruk en tydens ’n driedaagse nasionale familiefees in Stellenbosch aan die familie oorhandig. Dit is ’n eenvoudige stelling, maar natuurlik sit daar baie meer daaragter. Om 300 deelnemers te motiveer, moet jy moeite doen om verwante persoonlik te leer ken en tot die projek te bekeer. Hieruit volg daarop die spontane stigting van die Krige-bond.

1976:  Ons besoek ons stamverwante in Europa en kom in aanraking met ons Heimat. ’n Hegte verwantskap ontstaan en dit lei tot wedersydse besoeke – ook na Suid-Afrika. Hierdie verdieping van ons begrippe rondom ons herkoms is geweldig verrykend en ons brei dit met entoesiasme na ander lede van die familie uit.  Ons kry ook toestemming om die oorspronklike familiewapen in Suid-Afrika te voer.

1992: Ons koop ’n historiese familiehuis in Stellenbosch en begin dit stadig inrig as die adres van die Krige-bond. As ons in 2010 die eeufees van Caledon Villa vier, dan is die Krige Museum en Argief reeds ingerig. Waar ons vroeër huiwerig was om as kurator vir ander familielede se erfstukke op te tree, het ons nou ruimte om wel op ’n ordelike wyse sulke stukke uit te stal. Belangrike oorweging: hou die familiemuseum liefs op private eiendom – nie as deel van ’n munisipale museum nie!

2008: Ons spoor ’n foto op van ’n familie-grafkelder wat in die derde generasie gebou, maar later weer gesloop is. Die heropbouing van die struktuur agter die historiese Moederkerk in Stellenbosch is deur die familie self gefinansier. Deelnemers kon nisse koop vir die familie of as alternatief ’n marmer gedenksteen aanbring ter herinnering aan ons voorsate.  Dit ontwikkel mettertyd in die spreekwoordelike Mekka vir die groter familiekring.

2011: ’n Familie-webtuiste word op die internet bekendgestel. Dit bevat detail oor allerlei bakens wat langs ons Ontdekkingsreis opgerig is:

  • Nuusbriewe vanaf nommer 1-127 [April 2020].
  • Inligting oor die Familiewapen, Grafkelder, Museum en Argief.
  • Die volledige geslagsregister van die Krige-familie.
  • Afdelings soos Berigte en Entrepreneurs.
    Al hierdie besonderhede is ter insae op krigefamily.co.za

Na 50 jaar is opdatering van die familieregister steeds aan die gang – vandag veral met behulp van die internet. Maar die huidige jong generasie word nie so maklik tot entoesiasme oorgehaal nie. Daar is soveel ander aansprake in hul besige bestaanswyse. Nietemin, die volgende baken is reeds gedefinieer: Die KRIGE-Annale, 1721-2021 om die 300 jaar van die KRIGE-familie in Suid-Afrika te herdenk na die koms van die stamvader, Willem Adolph KRIGE, in 1721.

ODE se REISVERHAAL

– Ode Krige, Caledon Villa, Stellenbosch (2020) –

Genealogie het vir my begin ná my skoonpa se dood toe ons ’n skoendosie vol foto’s en briewe erf. Dit was soos ’n raaisel of ’n legkaart wat lê en wag het op ontrafeling. Toe dit boonop blyk dat drie Rabie-susters met drie Kriges uit Stellenbosch getroud was, het die speletjie eers interessant begin raak. Vakansies vanuit Pretoria het verander in besoeke aan begraafplase en onbekende verwante. Sulke Kombi-reise met babas in doeke en die Steri-Nappi-emmer altyd byderhand, was uiteindelik die begin van ’n lewenswyse wat navorsing en stimulasie gebring het. Ons het ’n nuwe wêreld betree en hier en oorsee het deure oopgegaan wat bepalend vir die res van ons lewe sou wees.

Johan het nog altyd alles wat hy aanpak met entoesiasme deurgevoer. Gelukkig het hy vroeg die regte persone leer ken: plaaslik was dit dr. JA Heese en in Duitsland was dit Herr H-G Bleibaum. Ons het skielik nuwe familie in Duitsland ontdek wat ons na hulle familiesaamtrekke genooi het. Hulle sou ons as naaste Du-familie beskou al het ons net dieselfde familienaam as band gehad. Uit hierdie tyd dateer ons vriendskap met Tante Mathilde Willemsen wat op 87 vir die eerste keer in haar lewe op die vliegtuig klim om ons in Suid-Afrika te kom besoek! Deur haar toedoen, bekom ons ’n ou houtlamp wat in ons heimatdorp in die Hotel Kriege se kroegie gehang het. Johan het my en Tante Mathilde se gekonkel as malligheid beskou, maar die 1725-lamp is vandag een van ons kosbaarste familiestukke.

Ons het ook in die 1970’s betrokke geraak by die Genealogiese Genootskap van SA se tak in Pretoria en vir ’n aantal termyne het Johan as voorsitter en ek as sekretaresse gedien. Johan het gou agtergekom dat dié tak eintlik geen status geniet nie. Die Genootskap was in Kaapstad gebaseer en het skaars notisie geneem van Pretoria. Hy begin dus werk aan ’n konstitusie waarvolgens ’n tak minstens verteenwoordiging in die Raad sou hê. Toe sy voorstelle tot niks lei nie, klim hy op sy eie koste op die vliegtuig en stap in Kaapstad by ’n raadsvergadering in. Daarna sou dinge op nasionale vlak geleidelik verander. Ons volgende stap was om ’n klein nuusbrief onder die taklede te versprei.  Ons het nog ’n hele bundel van hierdie nuusbriewe uit die ou dae. Dit was lekker dae en lekker vriende: Ds. FGM du Toit, dr. RTJ (Roelf) Lombard, Frans Fouché en vele ander.

Ons gesin met vyf jong kinders verhuis in 1979 na Stellenbosch. Johan is betrokke by ’n nuwe takkantoor van raadgewende ingenieurs en ons vestig ons op ’n klein wingerdplasie Eik-in-die-Hoek bo in Jonkershoek. Vir ’n kort wyle is Johan en Ode net gewone lede van die GGSA, maar ons lojaliteit teenoor Genealogie en veral teenoor ons geesgenote binne die Genootskap maak dat ons spoedig weer as Raadslede betrokke raak. Terselfdertyd verdiep die verstandhouding met dr. Heese en sy enorme taak. As hy op ’n dag besluit dat hy nou as Sekretaris wil uittree, val sy gewigtige mantel op Johan.

Ons dien nou op die Raad in die teenwoordigheid van groot geeste soos drr. Cor Pama, Anna Böeseken en Margaret Cairns. Ons reël byeenkomste vir die Genootskap in Stellenbosch en betrek persone soos dr. Con de Villiers en Tertius van Huyssteen. Dit het heeltyd gevoel asof ons twee jonges heeltemal in die verkeerde generasie rondbeweeg!

Johan volg daarop vir dr. Heese as GGSA Nasionale Sekretaris op en dit word sy tweede beroep. Bedags is hy raadgewende ingenieur en snags sit hy (nadat die handskryf-fase verby is) by sy outydse turkoois tikmasjientjie en kletter hy letterlik honderde briewe namens die Genootskap uit. Die ledetal groei aansienlik, internasionale kontakte word uitgebou en die landswye posversending van nuusbriewe asook Familia: die Kwartaalblad van die Genealogiese Genootskap van SA word deur ons behartig. Vir hierdie taak word die hele gesin van sewe ingespan – nuusbriewe word gevou, in koeverte gesteek, adresplakkers en posseëls word opgesit en alles in hopies van 25 vasgebind!

Na ’n dekade op ons idilliese plasie in Jonkershoek verhuis ons na die dorp en betrek ’n historiese familiehuis Caledon Villa. Met die koms van die internet en Facebook betree ons die wêreld van elektronika. Die kontak verbreed. Gelukkig was daar tussenin kans om al die briewe, knipsels, foto’s en voorwerpe wat die familie oor baie jare vir veilige bewaring aan ons oorhandig het, te orden en in die Krige Museum uit te stal. Omdat Caledon Villa ook ’n gastehuis is, besoek mense vanoor die hele wêreld hierdie familiemuseum.

En wat gaan later van alles word? Ja, van ons kinders is bereid om sekere verantwoordelikhede oor te neem, maar almal staan vol in hul beroepe en huishoudings. Wat ná ons gaan gebeur … wel daaroor het ons min beheer. Ons is wel bewus daarvan dat selfs van ons kleinkinders reeds ’n belangstelling in hul familie-erfenis het! Ons weet net dat ons lewens ongelooflik verryk is deur mense – hetsy familie en vriende hier of oorsee – die blootstelling aan die wysheid van ’n ouer geslag en die oop deur van ons gastehuis die afgelope 25 jaar. In al hierdie fasette van ons lewe was Genealogie telkens die bindstof gewees.

’n Mens kan amper sê ons het aan die onbekende gesigte in die skoendoos die kans op nuwe lewe gegee, maar in die proses het ons eie lewe nuwe afdraaipaaie geloop en diepte-dimensies bygekry wat ons andersins veel armer sou gelaat het.

Redakteursnota: Johan Krige is tot Genoot van die Genealogiese Genootskap van SA verklaar ter erkenning van sy enorme bydrae tot die bevordering van genealogie in RSA.

Johan en Ode voor die Wagner Festspielhaus in Bayreuth.                            Bywoning van Parsival in 2011

Deel van Krige-gesin besig met die versending van Familiate  Jonkershoek buite Stellenbosch in 1982

Comments are closed.

error: Content is protected !!