Die rol wat Olivier J. Henning in RSA genealogie gespeel het
November 24, 2020
Album 10 – Jak de Priester
Desember 2, 2020

Dit is nou al vyf jaar sedert Len Muller se eerste album, wat onder meer sy skitterende weergawe van “Sarie Marais”, saam met Stef Bos ingesluit het, uitgereik is.

Sedertdien het hy nóg ’n album, getiteld Oog van die storm, vrygestel en sy derde een, Oorgenoeg, het pas verskyn. Die eerste snit, “Hartklop”, is sy eie komposisie, soos elke ander snit op die album. Hierin sing hy van hoe moeilike tye jou help om jou geloof te slyp, en dat hy nie sonder die Here kan lewe nie. Gideon Botes het hierdie snit vervaardig en volgens Len wyk dit effens van sy gewone styl af. Nogtans is dit nie ’n kontemporêre Christelike lied nie. “Heildronk” is die huidige enkelsnit, en die boodskap is dat jy nooit alleen is nie en dat jy op jou vriende kan staatmaak. Stella is sonder twyfel een van die mees talentvolle kunstenaars op die musiektoneel op die oomblik; sy kan verskeie musiekinstrumente bespeel en sy is ewe gemaklik met kommersiële en Christelike musiek. Sy het “Toevlug” saam met Len geskryf en sy sing dit saam met hom. Die musiekvideo is tydens die grendeltyd in die Kaap, op Stella-hulle se plaas naby Carolina in Mpumalanga en in Len se tuisateljee verfilm. Dis goed dat kunstenaars wat musiek met integriteit vrystel, saam werk. “Verlange” is seker en van die beste snitte op die album; dit kon maklik sentimenteel gewees het, maar dit is eintlik ’n pragtige snit.

Faraway George het aan die eerste seisoen van Die kontrak deelgeneem, en hy was dalk die enigste deelnemer wat sy eie musiek gesing het. Nogtans, of dalk as gevolg daarvan, het hy vroeg uitgeval omdat daar gesoek is na ’n kunstenaar met ’n meer kommersiële aanslag. Hy het “Redes”, ’n moontlike treffersnit, saam met Len geskryf, en hulle sing dit saam. Die woorde het meer om die lyf as die gemiddelde kommersiële Afrikaanse liedjie. “Klei” is ’n baie mooi snit waarop hy sing van die een persoon wat hom aanvul en sonder wie hy nie kans sien vir die lewe nie. Ons wêreld het deesdae só materialisties geword dat hulle nie vir hul medemens omgee nie. Daarom is dit belangrik dat mense na die titelsnit luister. Dit dra die boodskap oor dat ’n mens eintlik baie min in die lewe nodig het. Hierdie liedjie moet kliphard gespeel word totdat almal dit hoor! Ons wêreld het deesdae so materialisties geword dat niemand vir hul medemens omgee nie. Daarom is dit belangrik dat mense na die titelsnit luister. Dit dra die boodskap oor dat ’n mens eintlik baie min in die lewe nodig het. Hierdie liedjie moet kliphard gespeel word totdat almal dit hoor! Op “Winter” speel Joshua Na Die Reën, nog een van Suid-Afrika se beste kunstenaars, klavier. Daar is twee weergawes van “Nuwe horison”; een met volle orkesbegeleiding en ’n akoestiese weergawe. “Verdwyn” is nog ’n pragtige snit, en die boodskap is dat jy soms dink jy is nie goed genoeg vir iemand nie. Die musikale verwerking van “Ek glo” is heeltemal akoesties, en absoluut skitterend. Hierdie liedjie is op sy vorige album ingesluit, en kan van voor af ’n treffer word.

“Sing vir sente” is nog ’n snit wat op sy vorige album voorgekom het, maar dis goed dat hy dit weer opgeneem het. Die boodskap is dat musikante bereid is om alles, selfs hul sekuriteit, op te offer om musiek te maak, en dat sukses nie noodwendig gewaarborg is nie. Musikante vir wie integriteit belangriker as rykdom of roem is, sal hulle hiermee kan vereenselwig. Die laaste snit op die album is die uitstekende akoestiese weergawe van “Nuwe horison”.

Len is een van daardie kunstenaars wie se integriteit as kunstenaar nooit bevraagteken hoef te word nie. Die feit dat elke snit op hierdie album sy eie komposisie is, alleen of saam met een van sy medekunstenaars, is ’n bewys hiervan. Daar is regtig te min kunstenaars in die musiekbedryf vir wie gehalte en integriteit belangriker as kommersiële sukses is, en Len is beslis een daarvan. Jy kan gerus hierdie album by jou versameling voeg!

Comments are closed.

error: Content is protected !!