Oorgenoeg – Len Muller
November 26, 2020
Monumentaal – Ruhan du Toit
Desember 2, 2020

Dit is seker nou al drie jaar sedert Jak de Priester sy laaste album, 15 jaar, vrygestel het, en sedertdien het hy hoofsaaklik aandag aan sy televisieprogram Reis na gister gegee.

Nou is hy terug met sy tiende album, met die gepaste titel Album 10, met ’n groen Mini op die omslag wat ’n mens nie kan miskyk nie. Die eerste snit, “Navy trui”, gaan oor ’n meisie wat saam met hom op ’n reis deur Suid-Afrika gegaan het. “My suikerste bossie” verwys na die bekende volksliedjie “Suikerbossie”; Krispy kreme is ’n winkel wat oliebolle maak. “Ek was hier” is ’n pragtige klavierballade wat kop en skouers bo die gemiddelde Afrikaanse album uitstyg. “Die faffie” is ’n lekker patriotiese liedjie wat deur die Springbok-rugbyspan se oorwinning in 2019 se Wêreldbeker geïnspireer is. “Middernagalleen” is ’n mooi woord vir iemand wat eensaam voel; dit is juis die onderwerp van die liedjie met dié titel. Die saksofoon en die koor op hierdie snit is ook iets heel besonders. “Foutloos” is ’n pragtige snit met lirieke wat jou laat dink; jy kan dalk dink jy is vol foute maar vir iemand is jy foutloos. Jak dra “Kyk in my oë” aan sy dogtertjie op. In “Wen of verloor” sing hy van die druk wat daar op sportmanne en -vroue geplaas word. Daar is ook ’n tenniswedstryd wat in die agtergrond afspeel.

In “Raak bietjie rustig” sing Jak van die gejaagde lewe waaraan ons almal meedoen; soms moet ’n mens net rustig raak. “So jaar in die son” lewer sosiale kommentaar; hierin wonder hy wat in ons land aan die gang is. Jak se sin vir humor kom duidelik in die volgende snit na vore: verlede jaar het daar ’n straatgeveg in Pretoria-Noord uitgebreek wat die nuus gehaal het; dit het Jak geïnspireer om “Hugo, bel die polisie” te skryf. “Die Pasop-liedjie” het ’n jazz-klank; die boodskap is ’n kombinasie van humor en erns. Dit vertel die storie van mense wat “te ver gaan”, en die hormone wat oorneem sonder dat ’n mens mooi daaroor dink. “Die hoenderboer” is ’n skitterende liedjie wat wys dat Jak weet hoe om ’n storie te vertel. Daar is sommer ’n spul kunstenaars wat saam met Jak op “Liefdeslied” sing, onder meer Pieter Koen, Ruhan du Poit, Liezel Pieters en Adam Tas. Dit is sonder twyfel een van die heel mooiste liedjies wat in ’n baie lang tyd vrygestel is! “Wie’s ek met niks” vertel ’n verhaal van ’n huis wat besig is om af te brand. “Man van Blikkiesdorp” vertel van ’n man wat nie goed gekwalifiseer is nie en die minder goeie kant van die lewe gesien het. “Moeilik om ’n mens te wees” vertel sy eie verhaal; hierin sing Jak van die moeilike deel van menswees. “Fotoboks” vertel sy lewensverhaal, asook die herinneringe wat met foto’s gepaard gaan. “Sal jy my kom soek”, is ’n pragtige snit met omtrent niks anders as klavierbegeleiding nie. Op “Die travel song” sing Jak in Engels maar met ’n tipiese Afrikaanse aksent. Die honkietonk-klavier en die “doo-wop”-agtergrondsangeresse op hierdie snit klink fantasties.

Jak het met hierdie album weer gewys hoekom hy een van ons land se heel beste kunstenaars is. Hy kan ernstig wees wanneer dit nodig is, maar hy het beslis ook ’n baie skerp sin vir humor. Hierdie album is beslis een van 2020 se bestes en kan nie sterk genoeg aanbeveel word nie!

Die CD is op Spotify en iTunes beskikbaar.

Comments are closed.

error: Content is protected !!