Gemaklik verlore – Christia Visser

Monumentaal – Ruhan du Toit
Desember 2, 2020
Jenny – Jan Blohm
Desember 2, 2020

Toe Christia Visser die vroulike hoofrol in die rolprent Hollywood in my huis vertolk het, het die publiek vir die eerste keer met haar as sangeres kennis gemaak.

Sedertdien het sy in televisiereekse soos Die boekklub en Fynskrif verskyn, en sy het ’n paar enkelsnitte vrygestel, maar haar debuutalbum, Gemaklik verlore, het ook pas die lig gesien. Die eerste snit vanaf die album “Wildste oomblik”, is die jongste enkelsnit, en dis reeds ’n treffer op ’n paar radiostasies. In “Ek is net ’n mens” sing sy van die uitdagings van menswees, maar ook van die feit dat sy nie moed opgee te midde daarvan nie. “17 shots” was die eerste enkelsnit vanaf die album; dit is een van die Afrikaanse liedjies van die jaar. Daar is seker baie jong mense wat hulle met die woorde kan assosieer, omdat hulle dink dat alkohol die antwoord vir alle probleme is. Dis goed dat daar iemand is wat eerlik hieroor skryf. Die titelsnit is pragtig; hopelik sal dit ’n treffer word.

Christia het twee internasionale treffers op die album ingesluit; die eerste een is Heart se treffer van dertig jaar gelede; “All I wanna do, is make love to you”. Haar weergawe verskil nogal heelwat van die oorspronklike een; dit maak dat ’n mens van voor af daarna luister. Haar eerlikheid as liedjieskrywer kom weer na vore in “Kaal voor jou”, wat sy vir haar verloofde geskryf het, en waarin sy haarself sonder pretensie aan hom ontbloot. “Die deur” was nog ’n treffer; sommige mense hou nie daarvan nie, maar dis ’n uitstekende snit. “Stukkie vir stukkie” is ’n pragtige snit, en veral die mineur-akkoord waarin dit geskryf word, is iets besonders. Christia het “Ons maak saak” saam met Refentse, Elandré en Brendan Peyper opgeneem; dit het ’n groot treffer geword. Die laaste snit is ’n skitterende weergawe van T’Pau se treffer “China in your hand”. Die begeleiding klink heeltemal anders as op die oorspronklike een; sy het dié liedjie haar eie gemaak.

Soos met sommige jong kunstenaars is daar mense wat nie van Christia se musiek hou nie; elkeen het maar sy eie smaak. Die feit is dat Christia se eerlike lirieke ’n mens twee keer laat luister; nie almal het die waagmoed om oor moeilike kwessies te skryf nie. Hierdie album is absoluut die moeite werd, en kan baie sterk aanbeveel word.

Hierdie album is ook beskikbaar op Spotify, YouTube Music en iTunes.

Comments are closed.

error: Content is protected !!