Album 10 – Jak de Priester
Desember 2, 2020
Gemaklik verlore – Christia Visser
Desember 2, 2020

Toe Ronell Erasmus besluit het om Touch of Class te verlaat, het Deon van der Merwe die groep in ’n nuwe rigting ingestuur en Ruhan du Toit het haar as hoofsanger vervang.

Nadat Ruhan twee albums saam met Deon opgeneem het, het hy egter nou besluit om ’n sololoopbaan te volg, en sy eerste soloalbum, Monumentaal, is onlangs uitgereik.

Die titelsnit se musiekvideo is by verskeie monumente, onder meer die Voortrekkermonument in Pretoria, die Paardekraal-monument in Krugersdorp en die Vrouemonument in Bloemfontein verfilm. Die boodskap is dat ons nooit van ons verlede, en ook nie van God, moet vergeet nie. “Sy is vuur” is ’n pragtige snit wat beslis ’n treffer kan word. Baie mense sal dink dat Simon and Garfunkel se treffer “The sound of silence” al te veel kere opgeneem is, maar as jy na Ruhan se weergawe luister, sal jy twee keer dink, want sy uitstaande stemkwaliteit kom baie goed hier na vore. “Die mite” is nog ’n skitterende snit waarin die liefde as sodanig beskryf word. “Lewe red” is die huidige treffersnit; hierin sing hy van ’n pa wie se kind sy of haar eie lewe wil neem. “Ek wil eendag kan sê” is een van die snitte waarop hy sy lae en hoë registers baie goed afwissel. “As jy dink jy weet” was Ruhan se heel eerste solo-enkelsnit en het baie goed op die meeste radiostasies gevaar.

Ruhan het drie internasionale treffers op die album ingesluit, en die eerste hiervan is Prince se groot treffer “Purple rain”. Hy is nie die eerste plaaslike kunstenaar wat dit opneem nie, maar sy opname is baie goed. Die tweede een is die grootste verrassing op die album. Die samelewing het die afgelope twintig jaar of wat tot so ’n mate verander dat selfs Afrikaanse jongmense na musiek luister wat ’n depressiewe boodskap uitstuur. Een liedjie wat in hierdie kategorie val, en baie gewild hier geword het, is Radiohead se treffer “Creep”. Die boodskap wat dié liedjie uitdra, is een van volstrekte neerslagtigheid. Ruhan het dit gewaag om hierdie liedjie op te neem, en hoewel ’n mens die opsetlik valse kitaarnoot van die oorspronklike opname mis, is Ruhan se weergawe eenvoudig skitterend, en veral die gestroopte begeleiding aan die begin is iets besonders. “Skuldig” is nog ’n uitstekende snit; en vertel die verhaal van ’n man wat daaraan “skuldig bevind” word dat hy ’n vrou se hart gesteel het. Ruhan het “Die land” omtrent twee jaar gelede saam met Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, Jay en Bok van Blerk opgeneem; dit het ’n baie groot treffer geword. Ruhan se weergawe van “Kinders van die wind” is uitstekend, al het ’n hele spul kunstenaars dit reeds opgeneem. “Val op jou knieë” is ’n snit wat ’n mens aanmoedig om die heeltyd te bid as dit moeilik gaan. Waar Creep ’n depressiewe boodskap oordra, doen Michael Bolton se treffer “When I’m back on my feet again”, die presiese teenoorgestelde. Dit gee ’n mens hoop om voort te gaan met die lewe wanneer dit moeilik gaan; dit moet kliphard gespeel word, ongeag wie dit sing. Natuurlik het ’n mens ’n baie goeie stem vir hierdie liedjie nodig, en Ruhan slaag hierdie toets met vlieënde vaandels. Daar is net een snit op die album wat ’n effense teleurstelling is, maar dit het niks met Ruhan se vertolking daarvan te doen nie. Hy sing “Hartseer” saam met Monique Steyn en die probleem met hierdie snit lê by die lirieke: “soms is jy hartseer want jou hart is seer.” Regtig?

Ruhan het met hierdie album bewys dat daar byna geen tipe musiek is wat hy nie kan sing nie, en daar was altyd ’n moontlikheid dat hy met ’n uitstekende soloalbum vorendag sou kom. Dit is presies wat hy gedoen het; hierdie album is een van vanjaar se bestes en kan baie sterk aanbeveel word.

Kyk gerus na die video van Monumentaal  hier – https://www.youtube.com/watch?v=22AMp48Stns

Comments are closed.

error: Content is protected !!