As jy op soek is na ’n lekker Afrikaanse rock-album …
Desember 3, 2020
Ruite oop – Herman Kleinhans
Desember 9, 2020

In 2019 het die Suid-Afrikaanse publiek behoorlik van Bernice West kennis geneem; sy het nie net uitstekend gevaar in die televisieprogram Maak my famous, wat sy moes gewen het nie, sy was ook deel van die koor van die Hoërskool Rustenburg, wie se skitterende vertolking van Queen se treffer “Bohemian rhapsody” mense se verbeelding aangegryp het.

Haar debuutalbum, Net geleen, is onlangs vrygestel, en het reeds ’n paar treffers opgelewer. Die eerste snit op die album, “Sonop-blom”, was ook die eerste enkelsnit en het ’n groot treffer geword. Die musiekvideo, waarin sy ’n klein kitaartjie speel, is ook al deur derduisende mense op YouTube gesien. Met hierdie liedjie kom ’n mens al agter dat jy hier met ’n besondere talent te doen het; soos met die meeste ander snitte het sy die woorde en musiek self geskryf. Lourens Petersen en Jacomien de Villiers het “Die hart” saam met haar geskryf. Dit was die tweede enkelsnit, en weer eens ’n treffer, veral as gevolg van die harde rock-klank wat veral by jonger luisteraars aanklank vind. Jy kan nie anders as om die volume oop te draai as jy hierna luister nie! Bernice kan meer as een instrument bespeel, en haar klavierspel op “O kind” is baie goed. Dit is ’n baie mooi snit waarvan twee weergawes ingesluit is. Elke ouer behoort hierdie snit vir sy of haar kind te speel. “Kom binne” is die nuwe treffer, en die musiekvideo is onlangs vrygestel. Dis maklik om te verstaan hoekom dit ’n enkelsnit geword het, en die geestelike strekking van die lirieke sal by baie mense aanklank vind.

Tot dusver het sy krane lekker oopgedraai, maar “Ingeperk” is ’n effens rustiger snit, maar steeds met ’n rock-klank. Haar boodskap is dat ’n mens moet vasbyt in moeilike tye, en op God moet vertrou. In “Beset” sing sy van die behoefte om met iemand te kommunikeer. Die titelsnit is ’n hoogtepunt, en die boodskap is dat alles in die lewe tydelik is. “Sinkertjie” is ’n baie goeie snit met lirieke wat jou laat dink. “Spoorlose stasies” is ’n pragtige snit, en haar klavierspel is besonder goed. Renier West (dalk haar broer?) sing saam met haar op “Eenvoud”. “Klop” is seker die naaste aan ’n liefdesliedjie wat op die album voorkom, maar selfs dit is effens onkonvensioneel. “Chrome clouded” is die enigste Engelse snit op die album; weer eens haar eie komposisie. Dit bewys dat sy ewe goed in Afrikaans en Engels kan skryf en sing. Die televisiekanaal kykNET, wat haar die geleentheid gegee het om aan Maak my famous deel te neem, het in 2019 twintig jaar oud geword, en ter viering daarvan het sy die liedjie “Ons is familie” saam met Jan Bloukaas, Biggy, Early B, Cheswyn Ruiters (die wenner van Maak my famous), Jo Black, Appel, Danny Smoke en Leah opgeneem. Bernice kom ook voor in kykNET se nuwe promosievideo ter viering van sy 21ste verjaardag in 2020. Die laaste snit op die album is ’n pragtige akoestiese weergawe van “O kind”.

Bernice is ’n bewys dat dit nie altyd die wenner van ’n talentkompetisie is wat sukses in die musiekbedryf behaal nie; die uitslae daarvan moet soms in twyfel getrek word. Sy was van ’n jong ouderdom af bestem om ’n sangeres te word, en daar kan geen twyfel oor haar natuurlike talent bestaan nie. Sy is beslis ’n ster van die toekoms; hierdie album is deur en deur die moeite werd en dalk die beste debuutalbum van die afgelope jaar!

Comments are closed.

error: Content is protected !!