Net geleen – Bernice West
Desember 4, 2020
Spontaan – Riaan Benade
Desember 9, 2020

In 2015 het die Suid-Afrikaanse publiek vir die eerste keer van Herman Kleinhans kennis geneem toe hy die eerste (en ongelukkig tot dusver laaste) Afri-Visie-liedjiekompetisie op kykNET gewen het.

Hy en Maria Rademan, die dogter van die radio-omroeper Johan Rademan, het die sangpaar Twee gevorm, maar nadat hulle twee albums opgeneem het, het Herman besluit om ’n solo-loopbaan te volg. Sy tweede album, Ruite oop, is pas vrygestel.

Die eerste enkelsnit vanaf die album is “Vliegtuig”, wat gaan oor sy verhouding met sy vriendin Maryke. Hy vertel dat hy een dag haar kombuistafel vol sout gelos het nadat hy springmielies gemaak het, en sy was glad nie gelukkig nie. Toe skryf hy hierdie liedjie om daarvoor te vergoed. Die titel kom van hulle albei se droom om ’n vliegtuig te besit. In die musiekvideo, wat in hulle albei se tuisstad, Port Elizabeth, verfilm is, besoek hulle ’n paar van die plekke wat hulle van hul kleintyd onthou. Die woorde van “Beter as gister” laat ’n mens dink; elke mens moet daarna strewe om in sy of haar menswees te groei. Op “1000 koffies” sing hy van die verskil wat die regte persoon in iemand se lewe kan maak. “Droom” is ’n lekker snit wat beslis ’n treffer kan word. Die titelsnit sal jou lus maak om die lang pad te vat. Herman se musiek is gewoonlik gemik op dié wat van musiek met ’n dieper boodskap hou, maar “Brandewyn drink” is ’n lekker saamsingliedjie, en ’n mens hoef nie die lirieke ernstig op te neem nie.

“Haal ’n bietjie asem” is nie onbekend nie; dit kom uit die televisiereeks Alles Malan, waarvan ’n tweede reeks gerus gemaak kan word. “Ek wonder” is die amptelike temaliedjie vir Solidariteit Helpende Hand en Boere Droogtehulp se Projek 40-inisiatief waartydens veertig vragmotors voer na Beaufort-Wes geneem het om boere wat onder droogte gebuk gegaan het, te help. “Dankie” is nog ’n snit wat ’n mens laat dink; soms moet ’n mens net dankie sê vir dié wat ’n verskil in jou lewe maak. In “Messelaar” sing hy van depressie; dis goed dat al hoe meer kunstenaars hierdie onderwerp in hul musiek ophaal. Jan Blohm, wat self in 2020 ’n skitterende nuwe album vrygestel het, sing saam met Herman op “Waar’s jy?” Herman het “Ons kan” saam met sy vriendin, Maryke, geskryf, en hierin sing hy van die alledaagse dinge in die lewe.

Herman het met hierdie album weer bewys dat hy ’n uiters talentvolle sanger en liedjieskrywer is. Sy musiek dra ’n dieper boodskap oor as die meeste hedendaagse kommersiële liedjies wat gereeld oor die radio gehoor word; daarom is hierdie album absoluut die moeite werd!

Comments are closed.

error: Content is protected !!