Ruite oop – Herman Kleinhans
Desember 9, 2020
Sý verhaal en sý persoonlike ervaring met geestesversteurings
Desember 14, 2020

As jy uit ’n musikale familie kom, is dit amper ’n uitgemaakte saak dat jy self ook tot die musiekbedryf gaan toetree.

In 1987 het Innes en Franna Benade die eerste reeks van die SAUK se talentkompetisie Debuut gewen, en daarna groot sukses as sangpaar, maar later ook as solokunstenaars behaal. Innes se vrou, Gretha, is daarby ’n liedjieskrywer wie se komposisie “Neem ons bede aan” in die Liedboek van die Kerk ingesluit is. Franna se seun, Riaan, het ook pas op die toneel verskyn en sy debuutalbum, Spontaan, is onlangs vrygestel. Riaan het jazz aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie gestudeer, maar besluit om ’n meer kommersiële rigting te volg aangesien jazz, volgens hom, nie juis aanklank by die Suid-Afrikaanse publiek vind nie.

Die eerste snit, “Droom”, is ’n aanduiding van wat om te verwag. Riaan het hierdie snit geskryf, en die filosofiese lirieke sal veral byval vind by diegene wat ’n bietjie lewenservaring het en na hul jonger dae terugverlang. “Gooi nog ’n whisky”, die eerste enkelsnit, is op ’n ware verhaal gebaseer. Georic Lomas en Paulo Azvedo het dit saam met hom geskryf. Dit vertel die verhaal van ’n vriend van hom wat sy vriendin op ’n jong ouderdom aan die dood afgestaan het. Riaan het die titelsnit geskryf, en volgens hom het sy toetrede tot die musiekbedryf spontaan gebeur, ten spyte van sy pa se bekendheid. “Keeza” is nog een van Riaan se eie komposisies. Die woorde van “Jy is genoeg” laat ’n mens dink; die boodskap is dat jy jouself moet aanvaar. “Lieg vir my” is een van die beste snitte op die album, selfs al is die boodskap dat leuens in ’n verhouding soms beter as die waarheid is; weer eens is dit Riaan se eie komposisie. Die vermenging van country en rock in “Sy’t lyf (35 Chev)” laat ’n mens lekkerkry; veral motorliefhebbers sal hiervan hou! “Vat ’n bietjie”, wat Riaan saam met Marno van der Merwe geskryf het, is een van die lekkerste saamsingliedjies wat die afgelope tyd verskyn het, en toe Riaan dit op Toks ’n Tjops gesing het, het die ateljeegaste dit baie geniet. Dit móét ’n groot treffer word! Riaan bespeel die akoestiese kitaar op “Rooiroknooi”; dit is een van die rustiger snitte op die album, en beslis een van die bestes. Ricus Nel is een van ons land se veelsydigste instrumentaliste, en hy bespeel die banjo en die mondfluitjie op “Nallies”. “Hierdie keer” is ’n pragtige snit wat Riaan self geskryf het. Die laaste Afrikaanse snit op die album is “Helpende hande”. Riaan is betrokke by Solidariteit se Helpende Hand-projek en hy het “Helpende hande” na aanleiding daarvan geskryf.

Daar is drie country-snitte op die album; hy sing “Seven Spanish angels” saam met die wenner van Die kontrak, Demi-Lee Moore. Dit is ’n kombinasie wat baie goed werk; hulle musiek is op dieselfde tipe gehoor gemik. “Sound of a million dreams”, oorspronklik gesing deur David Nail, bewys sy veelsydigheid as kunstenaar; Mathys Maree bespeel die klavier op hierdie snit. Riaan se opname van George Strait se treffer “Amarillo by morning” is die laaste snit, en bewys dat hy country en rock ewe goed kan sing.

Riaan bewys met hierdie album dat daar geen twyfel oor sy natuurlike talent, of sy integriteit, kan bestaan nie. Hoewel sy musiek kommersieel toeganklik is, het dit meer om die lyf as die gemiddelde musiek wat gereeld oor die radio gehoor word. Riaan het sy pa se talent geërf, maar hy is ’n kunstenaar in eie reg, en hy kan self sy plek in die musiekbedryf volstaan. Daarom kan ’n mens nie anders as om hierdie album baie sterk aan te beveel nie!

Comments are closed.

error: Content is protected !!