Sý verhaal en sý persoonlike ervaring met geestesversteurings

Spontaan – Riaan Benade
Desember 9, 2020
’n Waardevolle toevoeging tot Anglo-Boereoorlog-bronne
Desember 14, 2020

Titel: My stryd met ADHD – die onsigbare oorlog

Skrywer: Hykie Berg

Uitgewer: Lux Verbi

Resensent: Carla van der Spuy

Haar kind gaan nog in die tronk beland, het Hykie Berg se graad 2-onderwyseres aan sy ma vertel. Jare later beland hy toe in die Weskoppies Psigiatriese Hospitaal se geslote Wyk 71 waar “kriminele en staatsmisdadigers wat stapelgek en sosiaal wanaangepas is, opgesluit word.”

Dit klink volgens Berg se beskrywing amper erger as ’n tronksel. Hy kon nie onthou wat gebeur het of hoe hy daar beland het nie. Net dat dit die mees verwarrende oomblikke van sy lewe was. Saam met hom was vyf mans met skisofrenie en psigose toegesluit. Die ergstes onder die ergstes. Hy moes op ’n klein matrassie op die grond slaap, is aangeval en selfs gewurg nadat een van sy medepasiënte hom daarvan verdink het dat hy sy twak gesteel het.

Dis klink na ’n toneel uit ’n rillerfliek en vorm ’n skril kontras met die berekende dr. Conrad Bester, sy karakter in die gewilde sepie Binnelanders.

Dit moes ook besondere moed en guts geverg het om jou lewensverhaal so oop te skryf vir almal om te lees. Oor hoe hy 12 uur lank kaal in die reën in Botswana gedans het om sy “toetrede tot die Vrymesselaars te vier”, hoe hy psigoties geraak het, motors geslaan het en ontlasting na die polisie gegooi het.

Hy vertel dat sy bisarre gedrag die gevolg van Ritalin-misbruik was. Bottels daarvan. En dit is die doel van hierdie boek. Om ouers te waarsku teen misbruik. Nie teen verstandige gebruik nie, is sy boodskap.

Kort nadat die boek geland het, het dit omtrent ’n storm in die media veroorsaak. Daar was omstredenheid. Veral die farmaseutiese bedryf was natuurlik erg omgekrap omdat Ritalin al menigmaal as ’n “lewensredder” vir aandagafleibare kinders beskryf is. Mits dit natuurlik korrek en soos voorgeskryf, gebruik word. Ek is self bewus van sulke suksesverhale in my vriendekring.

Psigiaters is aangehaal wat boos oor die akteur se bewerings oor die gebruik van Ritalin was en het daarop gewys dat dit veilig is om Ritalin omsigtig te gebruik en dis ’n uitstekende medikasie vir die behandeling van AGHS. Die verspreiders het dit beaam, maar ook daarop gewys dat dit nie met ander medikasie moet inmeng nie.

Hykie se eerste boek: Hykie Berg – My storie van hoop, was ’n blitsverkoper. Dit het oor sy dwelmverslawing en worsteling om skoon en nugter te bly, gegaan. ’n Magdom sindrome is al met verloop van tyd by hom gediagnoseer wat wissel van bipolêre gemoedsversteuring 1 en 2, depressie, teenkantingversteuring, obsessiewe kompulsiewe versteuring tot substansmisbruikversteuring en ADHD. Hy het in ’n stadium R5 000 se medisyne per maand gebruik.

Terwyl hy ’n ruk lank in Botswana was, kon hy nie sy gemoedstabiliseerders en antidepressante in die hande kry nie, dus het ’n dokter Ritalin vir sy aandaggebrek/hiperaktiwiteitsindroom voorgeskryf. Hy het toe nie geweet dat iemand soos hy wat ’n dwelmmisbruikversteuring en “recovering addict” is, nie iets so Ritalin, Concerta of Adelin kan gebruik nie, skryf hy. Hy het bottels daarvan afgesluk en die apteke leeggekoop. Hy het dit misbruik want hy kon dit nie beheer nie.

Hy benadruk dit egter dat hierdie sý verhaal en sý persoonlike ervaring met geestesversteurings is, maar hy het ook navorsing gedoen waarvan die bronne agter in die boek verskyn. Mense moet die boek lees om die volle prentjie te verstaan, het hy gesê.

Hy waarsku dat medikasie net eenvoudig te maklik voorgeskryf word.

In hierdie boek gee Hykie ’n dwarsklap na die skoolstelsel wat ouers so maklik aanmoedig om ’n moeilike kind op Ritalin te sit sodat daar tog net vrede in die klas kan wees. Hy waarsku teen kitsoplossings vir “moeilikheidmakers” in klaskamers. Hierdie kinders moet beter verstaan word en daar moet besef word dat hulle nie “fratse” is nie.

Hy ondersoek die hele fenomeen van ADHD – hoeveel diagnoses daar gemaak word, hoe die medikasie ontstaan het, die samestelling en die newe-effekte daarvan. Hy meen dat medikasie nie die enigste antwoord is nie en verskaf raad aan Christene oor hoe om mense met geestessiektes te ondersteun. 

Volgens hom kan medikasie teen ADHD jou nooit genees nie, dit behandel net die simptome. Hy het al ouers ontmoet wie se kinders van jonger as vier daagliks skedule 5- en 6-medikasie gebruik.

Diagnose van jongmense met ADHD het tussen 2000 en 2010 met 66% toegeneem en medikasie word soms soos “Smarties uitgedeel.” Hy ken verslaafdes wat hul huisdokter hul “dealer” noem.

Deesdae gebruik hy soms ’n ligte antidepressant, maar hy kom oor die weg sonder die hope medikasie.

Hy skryf ook broodnodig oor die feit dat baie mense nie deernis met alkoholisme en verslaafdes het nie omdat hulle nie die siekte verstaan nie.

Dit is bewonderenswaardig hoe hy sy bekendheid op ’n positiewe wyse gebruik om meer empatie vir mense met ’n chemiese wanbalans in hul liggame te bepleit. Dit definieer hulle nie en mens is ook nie “mal” as jy met ’n geestesversteuring gediagnoseer is nie. ’n Woord wat ook misbruik word.

Die boek is insiggewend, toeganklik en eerlik geskryf en behoort wyd gelees te word.

Dit was duidelik nodig om homself so moedig bloot te stel. Hy skryf immers dat jou pyn vir jou gegee is om ander te help.

Berg het al baie sukses in sy lewe behaal en is al onder meer met ’n ATKV-mediaveertjie as beste akteur bekroon. In 2011 was hy die wenner van die TV-werklikheidsprogram Survivor-Maldives. Vandag is hy ook ’n suksesvolle sakeman en motiveringspreker.

Hy is nou al byna 12 jaar skoon en vry van alkohol en dwelms. Ander wat hierdie pad van vernietiging gevolg het, kan ook oorleef.

’n “Survivor” wees soos hy.

Respek!

Comments are closed.

error: Content is protected !!