Hierdie bundel essays kan jy lees en weer lees

Die rol van die Wes-Kaapse Argief in genealogiese navorsing oor (Suid-)Afrikaanse families
Januarie 14, 2021
Voorouers se lewensreis – ‘Loop saam op hul spore’
Februarie 14, 2021

Titel: Met my rooi rok voor jou deur

Skrywer: Audrey Blignault

Uitgewer: Tafelberg

Resensent: Francois Bekker

Sit aan vir ’n deftige koppie tee saam met een van die geliefste essayiste wat die Afrikaanse taal opgelewer het. Want dit wat in hierdie bundel essays onder die loep geneem word, is nie ligsinnig of sarkasties nie. Dit het ook nie as oogmerk om polemiek te ontketen nie. Met ’n ouwêreldse grasie word die belewenis van ’n leefwêreld wat haas nie meer bestaan nie met deernis beskryf. Onbeskaamd uit die oogpunt van ’n vrou met min of geen apologie teenoor die feministiese mode van die hedendaagse nie. Immer fatsoenlik en meelewend.

Met sy net meer as sewentig essays is dit nie ’n dun boekie wat jy in ’n japtrap kafdraf nie. Daarby moet die moderne leser hom skik by die register en stelwyse van sketse wat reeds in die 1950’s in tydskrifte verskyn het. As ’n virtuose waarnemer van die lewe met die vermoë om haar omgewing en haar ervarings op ’n tydlose wyse onder woorde te bring, is hierdie ’n vreugdevolle bundel van begin tot einde.

Wat aan die bod kom, is haar herinnering van die lewe as kind en die vormende invloed van haar ouers, veral haar Moeder op haar, haar eie rol as ma en sommer die belewenis van die algemene handel en wandel van ’n vrou in ’n wêreld wat konstant besig is om te verander.

Rooi is die kleur waarmee Audrey Blignault geassosieer word. Van al die kleure is dit haar gunsteling kleur. So laat sy haarself hieroor uit: “… dis my persoonlike vaandel, my embleem, my geloofsverklaring. Só wil ek wees, soos hierdie kleur, vol drif en gloed, gesond en onverskrokke, uitdagend, blymoedig, seëvierend” (bl. 49). Dit is juis hierdie voluit lewe wat ’n ryke verskeidenheid ervarings ten gevolg het en wat haar skryfwerk oor die jare gevoed het.

Haar eksistensiële besinnings oor die verloop van die lewe en die mens is aangrypend. Sy betrag haar dogter op dié se elfde verjaarsdag en dink aan watter raad sy vir haar kind wat nou puur kind is, kan gee. Watter onvergeetlike gedagte pen sy dan nie oor kindwees neer nie: “Vreemd is dit om te besef dat ’n mens in jare ouer word en tog nooit anders voel nie” (bl. 21).

Oor die gewoonste goed in die lewe skryf Blignault betowerend. Wanneer sy en haar gesin ’n nuwe, meer moderne huis betrek, lamenteer sy die verlies van ’n spens. Geen leser sal onaangeraak hierdeur wees nie, want ja, ons ervaar gedurig hoe ons kwaliteit en kosbare ruimtes in die naam van ontwikkeling en vooruitgang moet prysgee.

Haar kleindorpsewêreld, Bredasdorp, word met piëteit beskryf. Hoe daar met mense straataf, of met die buurvrou of met die winkelier omgegaan is. Sentraal in so leefwêreld het menslikheid gestaan. Altyd menslikheid.

Hierdie bundel essays waarin ’n veelheid van dinge en belewenisse opgeteken word, kan jy lees en weer lees. ’n Aristokraat van die gees was Audrey gewees wat met haar woorde die vervlietendheid van die lewe op ’n manier minder vervlietend gemaak het. Met my rooi rok voor jou deur is ’n tydskapsule waarin die verlede met ’n verfynde belletrie goddank bewaar word.

Comments are closed.

error: Content is protected !!