FAK stel planne bekend om die Krugerbeeldegroep vir die toekoms te bewaar

Bottomless Coffee Band stel hul onteenseglike musiektalent ten toon
Februarie 15, 2021
Melkterte vir skoolhoofde
Februarie 27, 2021

FMet behulp van tegnologie op die voorpunt gaan die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) met ’n nuwe projek en Krugerfonds verseker dat die Krugerbeeldegroep op Kerkplein in Pretoria as kultuurerfernisskat vir die toekoms bewaar word.

Sover bekend is dit die heel eerste keer dat 3D-skanderingstegnologie op hierdie skaal ingespan sal word om die kolossale standbeelde van pres. Paul Kruger en die vier Brandwagte by sy voete van kop tot toon te skandeer.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het op 25 Februarie tydens die bekendstelling van hierdie projek, gesê: “Ons is trots op ons geskiedenis, ons is lief vir ons geskiedenis en ons het ’n verantwoordelikheid teenoor ons geskiedenis.”

Daarom stel die FAK hierdie projek bekend om met die 3D-skanderings en afdrukke van die Krugerbeeldegroep nie net ’n “bloudruk” vir die toekoms te verseker nie, maar verseker daarmee ook dat die nalatenskap van Anton van Wouw, wat dié beelde gemaak het, behoue bly.

Dié projek is ter hendenking van die Slag van Majuba (op 27 Februarie) tydens die Eerste Vryheidsoorlog 140 jaar gelede bekendgestel.

Die Eerste Vryheidsoorlog of Eerste Boereoorlog  was ‘n konflik tussen die Verenigde Koninkryk en die Boere van Transvaal, (die Zuid-Afrikaansche Republiek) van 20 Desember 1880 tot 23 Maart 1881. Die oorlog het begin nadat Sir Theophilus Shepstone die Transvaal op 12 April 1877 geannekseer het. Die Boere het geprotesteer en die oorlog het daarna uitgebreek. Paul Kruger het ná die Slag van Majuba vrede bewerkstellig tussen die Boere en die Britte en  is op 16 April 1883  vir die eerste keer as president van die ZAR verkies. Hy het hiermee ook die eerste president van die herstelde ZAR geword nadat dit deur die Britte geannekseer is en die Transvalers ’n onafhanklikheidsoorlog oftewel Vryheidsoorlog van stapel gestuur het in 1880.

Anton van Wouw, die bekende pionier-beeldhouer van Suid-Afrika, het kort voor die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog die opdrag gekry om dié beeldegroep te maak. Sammy Marks, ’n bekende finansier van daardie tyd, het ’n groot bedrag, gelyk aan sowat R20 000, geskenk vir die oprigting van ’n beeld van sy ou vriend president Paul Kruger op Kerkplein, Pretoria. Die beeld van Kruger sou tweemaal lewensgrootte wees en, benewens ’n paar panele wat episodes uit sy veelbewoë lewe weergee, sou daar ook vier Boerewagte om die standbeeld sit om die president te bewaak. Van Wouw, wat ’n groot bewonderaar van Paul Kruger en die Boere was, het die standbeeld met hart en siel aangepak en meesterlik voltooi.

Die Kruger-beeldegroep, bestaande uit die standbeeld van Kruger van 4,04 m hoog, en vier sittende hoekfiguurbeelde van Brandwagte, waaronder twee uit die Voortrekkertydperk en uit die tydperk van die Eerste Vryheidsoorlog van 1880-81. Die standbeeldegroep en die vier bronspanele op die voetstuk wat hoogtepunte uit Kruger se lewe uitbeeld, is op 10 Oktober 1954 deur dr. DF Malan, destydse eerste minister, onthul.

Ten einde Van Wouw se kultuurhistoriese erfenis as beeldhouer te huldig en die bedreigde beelde op Kerkplein vir die nageslag te bewaar, het die FAK besluit om met moderne 21ste-eeuse tegnologie 3D-afdrukke van al vyf die volskaalbeelde van die Krugermonument op Kerkplein, sowel as die vier bronspanele te skandeer.

Daar word tans wêreldwyd 3D-afgietsels van beroemde kunswerke gemaak. Die voordeel daarvan is dat sulke kunswerke aan ’n baie groter publiek bekendgestel word.

“Die FAK wil dus met hierdie enig in sy soort-3D-afgietsels van die Krugerbeeldegroep nie net hierdie besonderse beeldhouwerk bewaar nie, maar oudpres. Paul Kruger deur middel van dié kultuurorganisasie se nuwe Krugerfonds meer toeganklik vir ’n nuwe generasie kinders maak.”

Flip Buys, voorsitter van Solidariteit Beweging, Jacques Müller, projekleier, en dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, tydens die bekendstelling van die FAK se bewaringsprojek van die Krugerbeeldegroep.

’n Lewensgrootte afdruk van plastiek van een van die Boerekrygers is Donderdag saam met vier kleiner beelde, waaronder ook een van pres. Paul Kruger, bekendgestel. 10 Maketstelle van die Krugerbeeldegroep gaan eersdaags in brons gegiet word en internasionaal te koop aangebied word. Afdrukke van die groter beelde gaan op verskeie plekke uitstal word om dit sodoende meer toeganklik te maak om na die beelde te gaan kyk.

Een van die 3D-afdrukke van die Boerekrygers, wat deel is van die Krugerbeeldegroep op Kerkplein.
Kleiner 3D-afdrukke van die Krugerbeeldegroep. 10 Maketstelle van dié beeldjies gaan eersdaags in brons gegiet word en internasionaal te koop aangebied word.

Hierdie indrukwekkende beeldegroep is vandag steeds een van die bekendste Afrikanerbakens in Suid-Afrika. Dit het egter die laaste paar jaar telkens onder vandale deurgeloop en besoekersgetalle aan Kerkplein het drasties gedaal.

  • Die Solidariteit Beweging, AfriForum en die Krugergenootskap is saam met die FAK in ’n kultuurvennootskap om dié projek te dryf.

Comments are closed.

error: Content is protected !!