Afrikanergeskiedenis

  • Stigtingsdokumente

In elke volk se bestaan is daar gebeure en persone van besondere betekenis; wat vir ‘n nuwe rigting of hernude lewenskrag sorg. So ‘n oomblik word gewoonlik ook in ‘n dokument vasgevang. Hierdie dokumente is waardevol om op ‘n later stadium ‘n terugblik op ‘n bepaalde oomblik te kry; om in die skoene van betrokkenes te klim. Sulke dokumente kan ons as Stigtingsdokumente beskryf.

By volke met ‘n langer aaneenlopende geskiedenis is dit makliker om stigtingsdokumente uit te wys. Daar is byvoorbeeld ‘n ononderbroke lyn van die VSA se eerste grondwet in 1783 tot vandag se werklikheid.

Dit is nie van die Afrikaner, met ‘n geskiedenis vol breuklyne, waar nie.  In navolging van Carel (iv) Boshoff word onderskei tussen die Eerste Afrikaner wat met die Vrede van Vereeniging geval het en in die Unie van Suid-Afrika as die Tweede Afrikaner weer opgestaan het. Die Tweede Afrikaner het in 1994 roemloos geval en die opkoms van die Derde Afrikaner is tans ‘n moontlikheid, maar nog niks meer nie. Aan hierdie indeling voeg ons die Proto-Afrikaner toe, die on-selfbewuste pionier wat teen 1881 van homself as ‘n politieke eenheid bewus geword het. Daardeur is aan die Eerste Afrikaner geboorte geskenk.

Vir elkeen van hierdie stadia is ‘n paar sleuteldokumente uitgekies om as Stigtingsdokumente te tel. Elke fase is afgesluit met een wat as die “lykskrif” van daardie Afrikaner beskryf kan word.  Vir die Proto-Afrikaner was dit Shepstone se anneksasie van die ZAR in 1877, vir die Eerste Afrikaner was dit die Vrede van Vereeniging en vir die Tweede Afrikaner, oud-president FW de Klerk se toespraak op 2 Februarie 1990.

In meegaande bladsye word sekere dokumente as stigtingsdokumente voorgestel.’n Meer volledige uiteensetting kan in ‘n artikel van dr Wynand Boshoff gevind word: Afrikaner Stigtingsdokumente

Lees gerus ook die artikel van prof PH Kapp oor ongeveer dieselfde onderwerp, wat vroeër in ‘n publikasie van die FAK, die Vrye Afrikaan, gepubliseer is: AFRIKANER MANIFESTE – KAPP

 

Biografiese profiele

 

Skakel na ons mobiele werf