Studielenings

Noordelike Helpmekaar-Studiefonds

Die Noordelike Helpmekaar-Studiefonds (voorheen Transvaalse Helpmekaar-Studiefonds) is in Maart 1962 gestig as ´n onderneming sonder winsoogmerk, met agt stigterslede. Die Studiefonds is gestig weens die besondere behoefte wat in Transvaal bestaan het vir studiehulp nadat die oorspronklike oorkoepelende fonds nie meer in al die provinsies se behoeftes kon voorsien nie.

Die hoofdoel van die Studiefonds is om studente te steun in hulle pogings om verder te studeer deur middel van studielenings. Die fonds word beheer deur ´n direksie en geadministreer deur ´n sekretariaat.

Die volgende riglyne is van toepassing by die oorweging van aansoeke om studielenings:

Finansiële posisie en sekuriteit
Voorkeur sal aan behoeftige studente verleen word. Die aansoeker (en sy ouers) moet bewys lewer dat hulle nie in staat is om (ten volle) vir sy studie te betaal nie. Die aansoeker moet twee persone aanwys wat bereid is om vir hom borg te staan. Die borge moet voldoen aan die vereistes wat periodiek deur die Fonds gestel mag word.

Akademiese prestasie
Die aansoeker moet bewys lewer van ´n redelike akademiese prestasie of skoolloopbaan. Matrikulasievrystelling, of ´n alternatiewe gelykwaardige prestasie wat deur n bepaalde tersiêre inrigting as vereiste gestel word, is n minimum voorwaarde.

Die aansoeker moes minstens 50% gemiddeld vir die skooleindsertifikaat behaal het.

Studierigtings
Lenings word slegs beskikbaar gestel vir voorgraadse studie of vir opleiding aan ´n naskoolse inrigting wat indiensnemingsmoontlikhede inhou.

Aansoeke om steun vir nagraadse studies sal op meriete oorweeg word.

Akademiese inrigting
Lenings word vir studie slegs aan Suid-AFrikaanse universiteite, kolleges of ander erkende instellings vir naskoolse opleiding, ook wat afstandonderrig betref, oorweeg.

Grootte van leningsbedrae
Die Fonds bepaal die bedrag van die lening in twee gelyke halfjaarlikse paaiemente. Die eerste paaiement word in Februarie betaal (nadat skriftelike bewys van inskrywing by die tersiêre inrigting gelewer is) en die tweede paaiement in Augustus. Amptelike vorderingsverslae is noodsaaklik by elke aansoek om uitbetaling van ´n paaiement (tans R15 000 per jaar).

Aansoeke
Daar moet op die amptelike voorgeskrewe aansoekvorms van die Fonds aansoek gedoen word en die aansoek moet vergesel word van die volgende:

  • Akte van borgstelling deur twee borge waarvan minstens een oor vaste eiendom moet beskik. Beide borge moet ´n vaste inkomste hê en hulle kredietwaardigheid moet bevestig word.
  • Ten minste twee onlangse getuigskrifte verkieslik deur die lener se predikant en skoolhoof.
  • Matriekuitslae, of indien reeds ´n student aan ´n naskoolse onderwysinrigting, die vorige jaar se uitslae.

Aansoekvorms en verdere inligting is beskikbaar by:
Die Sekretariaat
Die Noordelike Helpmekaar-studiefonds
Posbus 91050
Aucklandpark
Johannesburg
2006

Telefoon (011) 726 7134
Faks (011) 726 2073 of e–pos nhsfonds@mweb.co.za