DIE NUWE FAK
1. Inleiding
Ons ken almal die onmiddellike agtergrond tot die ‘nuwe FAK’. En veral die pogings oor etlike jare om die FAK ’n meer effektiewe forum met betrekking tot die ‘politiek van idees’ te maak.
Teen die agtergrond van die ooreenkoms met Solidariteit staan die FAK vandag voor ’n gulde geleentheid. Vanaf die groot politieke oorgang in 1994 is dit die eerste keer dat Afrikaners die geleentheid het om met betrekking tot die politiek van idees ’n werklik betekenisvolle rol te kan speel. Geen ander forum onder ons mense is so ideaal daarvoor gesitueer nie.
Oor die belangrikheid daarvan hoef ons nie te twyfel nie. Kultuur-gemeenskappe is te midde van ander dinge ook en veral van ’n effektiewe politiek van idees afhanklik. En juis op hierdie gebied is daar ’n enorme leemte. As Afrikaners in die verlede ’n onwrikbare sekerheid met betrekking tot ons politiek van idees gehad het, het ons die afgelope twee en meer dekades ’n punt van radikale onsekerheid met betrekking daartoe bereik. Die vermoë van Afrikaners om kollektief aan die idee-gesprek deel te neem en ’n invloed daarop uit te oefen, het ’n historiese laagtepunt bereik. Presies hier lê ons verantwoordelikheid. DIE NUWE FAK – DP GOOSEN
UITBOUSTRATEGIE
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) is die oudste sambreelorganisasie van kultuurverenigings wat nou al vir dekades lank ‘n leidinggewende rol op kultuur- en taalgebied speel. Die FAK se rol was die koördinering van kultuurverenigings, en dien as ‘n nasionale knooppunt en ‘n dink- en doen netwerk vir die Afrikaanse kultuurgemeenskap. Daar is oor die jare groot hoogtepunte bereik. Die federasie was in werklikheid die organisatoriese “Lokomotief” van die kultuurhuishouding, en het as vermenigvuldiger van sy lede organisasies se landswye taal- en kultuurprojekte gedien. FAK konsep Uitboustrategie vir 2011
ENKELE STRATEGIESE OPMERKINGS
Waar staan die Afrikaners as ’n kultuurgemeenskap vandag? ’n Mens kan op hierdie belangrike vraag antwoord deur kortliks op sowel die sogenaamde ‘objektiewe’ as die ‘subjektiewe’ kragte onder Afrikaners te fokus.
Die vraag na die stand van die Afrikaners kan nie vandag in enkelvoudige terme beantwoord word nie. Uit ’n bondige bespreking van sowel die objektiewe as die subjektiewe beweginge onder Afrikaners is dit duidelik dat ons toestand deur dubbelsinnigheid gekenmerk word. Waarna word verwys? Enkele strategiese opmerkings 27 Januarie 2011 DANIE GOOSEN
