Magersfontein het op Saterdag 12 Julie lewendig geword toe die FAK se Noord-Kaapse kultuurnetwerk ’n gesinsdag en piekniek op dié geskiedkundige slagveld net buite Modderrivier aangebied het. Sowat 40 besoekers het aan die toer deelgeneem en ’n dag van kultuurerfenis, gesellige kuier en leersame oomblikke beleef.

Die hoogtepunt van die dag was ongetwyfeld die geskiedenistoer wat deur Marius Nagel, ’n gesoute kenner van Magersfontein en die Anglo-Boereoorlog, aangebied is. Hy het die verhaal van die dramatiese gebeure op 11 Desember 1899 vertel en die groep na vyf belangrike punte op die terrein geneem – elk met sy eie unieke perspektief op die verloop van die geveg.

Die toer het afgeskop by die uitkykpunt vanwaar die vlakte tot by Modderrivier sigbaar is. Hier is die oorblyfsels van die Boere se loopgrawe steeds duidelik sigbaar – ’n herinnering aan die innoverende taktiek waarmee hulle die Britse magte verras het.

Die besoekers het ook ’n draai by die Magersfontein-museum gemaak, waar hulle ’n dokumentêre film oor dié slag kon kyk. Hulle kon ook ’n indrukwekkende versameling van wapens en historiese uitbeeldings besigtig. Daarna het die groep na die Kruismonument agter die museum gestap, gevolg deur ’n piekniek onder die bome naby die skanse – die plek waar sowat 2 500 Boere vir vier maande geleef het tydens die gevegte.

Die dag is afgesluit by die Burgermonument, waar talle dapper Boerevegters hul laaste rusplek gevind het. Hierdie monument dien as ’n roerende herinnering aan die opofferings van dié tyd.

Magersfontein was een van die groot oorwinnings vir die Boere, veral as gevolg van die verandering in taktiek. In plaas daarvan om die Britse troepe van bo-af aan te val, is loopgrawe onder aan die koppie gegrou vanwaar hulle die vyand kon verras. Die Britse bevelvoerders is vroeg in die geveg uitgeskakel, wat tot groot verwarring gelei het. Ná ’n bittere stryd is ’n skietstilstand uitgeroep – die stryd deur die Boere gewen.

Elke kind het ’n spesiale Magersfontein-kaart ontvang waarop hulle stempels kon versamel by elke historiese punt wat besoek is. Cara Tomlinson, die Noord-Kaapse FAK-koördineerder, sê: “Dit is vir ons belangrik dat kinders sulke dae geniet en daardeur ’n liefde vir hul erfenis ontwikkel. Die kinders se ywer om hul kaarte volledig te voltooi, was aansteeklik.”

   

Zieg van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK, het die belang van sulke inisiatiewe onderstreep en gesê: “Ons erfenisterreine is nie net deel van die verlede nie – dit vorm die grondslag van wie ons vandag is. As ons ons kinders na plekke soos Magersfontein bring, gee ons vir hulle die geleentheid om ons geskiedenis te beleef, te verstaan en te eer.”

Met ’n kombinasie van opvoeding, kultuur en gesinsbetrokkenheid het die dag by Magersfontein nie net ’n eerbetoon aan die verlede gebring nie, maar ook ’n brug na die toekoms gebou – een waarin jong Suid-Afrikaners met trots hul geskiedenis leer ken.