Jou kultuurtuiste!

Wie is die FAK?

Die ontstaan van die FAK in 1929 was ’n direkte uitvloeisel van die Afrikaner wat honger was om weer hoop te kry, om te kan glo en om weer die toekoms te kan sien. Toe die taal nog ’n saadjie was, het die vraag na ’n plek van behoort reeds bestaan, ’n tuiste waar Afrikaners hul kulturele roeping kan uitleef en hul taal en kultuur kan bevorder deur te doen. Dit is soos die Afrikaanse roos wat hier in die FAK se liedjietuin blom. Al hoe hierdie pragblom aan die lewe bly, is deur dié wat besig is om te werk aan die roos, dié wat dinge doen om die skoonheid van die roos te waardeer.

Die FAK het reeds van vroeg al vir Afrikaners gehelp om hul wortels te skiet, en steeds is die FAK dié organisasie wat jou toelaat om kreatief te wees in jou taal en kultuur. Die FAK is ’n toekomsgerigte kultuurorganisasie wat ’n tuiste vir die Afrikaanse taal en kultuur bied en ons trotse Afrikanergeskiedenis positief bevorder.

As ons dan nou hierdie simboliek van dié roosboom verder vat en wegbeweeg van die wortels, dan fokus ons op die FAK wat besig is om hul kulturele roeping uit te leef. ’n Organisasie wat ’n kleurvolle toekoms vir alle Afrikaners vestig. Ons kan hierdie roosboom met drie takke assosieer:  tuiste, trots en toekoms.

Die eerste tak is die organisasie in geheel, waar die FAK vir jou die Afrikaanse Liedjietuin bied waar uitskieters in die Afrikaanse musiekindustrie vereer word. Udolpho Jeugplaas wat ideaal is vir ’n jeuggroep, jou familie en vriende – Hier kan jy jou skoene uitskop en ontspan in Afrikaans. Die FAK is jou tuiste waar jy veilig kan voel in jou taal deur ’n vriendelike oproep of ’n glimlag om ’n koppie koffie, en dit alles in Afrikaans.

Aan ons tweede tak is daar meer dorings. Want hier bied die FAK vir jou ’n trots om jou Afrikaneridentiteit uit te leef deur die belangrike Afrikanergeskiedenis te beskerm, te bewaar en te bevorder. Dié doring bied beskerming vir oorlewing; nes die roos wat die bedreiging afweer, het Afrikaans in sy geskiedenis sterker anderkant uitgekom deur ’n hoop vir die toekoms.

Die derde tak van hierdie roosboom is die Afrikaner se kultuur. Hier bied die FAK ’n gevestigde fokus op die bevordering van Afrikaanse musiek, asook skoolprojekte. Die FAK het ’n lys van skoolprojekte wat reeds die jonger generasie bevorder om te doen vir hulle taal. Reeds hier groei nuwe lote wat in die toekoms gaan blom en floreer in hul taal en kultuur.

Wanneer jy as Afrikaner besig is om goed te doen vir jou taal en kultuur, is hierdie blom besig om te blom. Die blom is die belangrikste deel van die roosboom, aangesien almal die blom waardeer vir sy skoonheid. Maar hoe hou ons hierdie hele boom aan die lewe? Met water, deur gereeld die takke te snoei, met sonlig en met genade van Bo. Die FAK nooi jou uit om deel te word en hierdie hele boom aan die lewe te hou. Kom vat hande, trek handskoene aan en doen die regte ding saam met ons deur hierdie roosboom se voortbestaan te verseker.

Personeel

Dr. Danie Langner

Besturende Direkteur

012 301 1777


Wie is Danie?
Danie is ’n roepingsgedrewe kultuurpersoon wat met deursettingsvermoë en harde werk tans besig is om op vele terreine ’n groot verskil te maak. Hy is ’n gesinsman vir sy vrou en ses kinders, besturende direkteur van die FAK, tiende hoofleier van Die Voortrekkers en tussendeur staan hy ook in ’n deeltydse bedieningsooreenkoms met die NG Kerk Lyttelton in Centurion. Hy het ’n voorliefde vir geskiedenis en voltooi sy doktersgraad in Kerkreg- en geskiedenis. Hy is die outeur van verskeie geskiedenisboeke wat insluit Op die spore van Retief, asook die verhaal van dr. NJ van der Merwe se lewe, getiteld NJ hou koers. Hy dien ook op verskeie direksies waar sy insig en leierskap ’n deurslaggewende bydrae lewer tot die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur. Sy lewe is ’n toonbeeld van opoffering en diens aan sy gemeenskap, ’n ware voorbeeld vir elke trotse Afrikaner om na te streef.
Waaroor kan jy hom kontak?
Samantha Müller is Danie se persoonlike assisten. Kontak haar gerus indien jy met hom in verbinding wil tree.

Ziegfried van Huyssteen

Adjunk Uitvoerende Hoof

012 301 1777


Wie is Ziegfried?
Ziegfried van Huyssteen is ’n moderne Afrikaner wat van jongs af ’n liefde vir entrepreneurskap getoon toe hy reeds op sewejarige ouderdom albasters verkoop het en op 11 sy eerste snoepie begin het. Hy het BComm Entrepreneurskap en Ondernemingsbestuur aan die NWU se Potchefstroomkampus studeer. Ziegfried glo dat entrepreneurskap nie net gaan oor geldmaak vir eie gewin nie, maar dat kultuurorganisasies soos die FAK ook entrepreneuries en innoverend moet dink om te kan voortbestaan in die huidige klimaat en era waarin ons leef. As kulturele entrepreneur, leef Ziegfried sy roeping as entrepreneur uit deur die FAK te help uitbou tot ’n selfstandige instelling wat ’n daadwerklike impak maak onder Afrikaners en die Afrikaanse kultuurwêreld.
Waaroor kan jy hom kontak?
Indien jy enige navrae het omtrent FAK-lidmaatskap, FAK-voordele of die FAK wil ondersteun, kan jy vir Ziegfried kontak by zieg@fak.org.za

Samantha Müller

Persoonlike Assistent: Dr. Danie Langner

012 301 1777


Wie is Samantha?
As ywerige en trotse Afrikaner staan Samantha Müller haar FAK-skoene vol in die hoedanigheid as Administratiewe Bestuurder en Persoonlike Assistent tot die Besturende Direkteur, Dr. Danie Langner. Sy is mamma van drie en geniet dit om tyd saam met haar gesin te spandeer. Die FAK-vriende lê haar baie na aan die hart, daarom doen sy altyd moeite en fokus sy op detail wanneer sy FAK-funksies organiseer. Samantha geniet avontuur en haar groenvingers is gedurig in die tuin; die Afrikaanse Liedjietuin is deel van haar trots en sy nooi jou graag om hier te kom kuier.
Waaroor kan jy haar kontak?
Indien jy enige navrae het rakende dr. Danie Langner se dagboek, besprekings of navrae oor die Afrikaanse Liedjietuin, kliëntediens, klagtes en aanprysings kan jy vir Samantha ’n e-pos stuur by samantha@fak.org.za

Chrisna Nel

Publikasieredakteur

012 301 1777


Wie is Chrisna?
Chrisna Nel is van kleinsaf lief vir lees, woorde en natuurlik Afrikaans! Sy studeer Afrikaans op universiteit en leer uiteindelik hoe om ’n woordeboek te skryf – ’n groot droom wat hopelik nog eendag gaan waar word. Vandag is sy die Publikasieredakteur by die FAK en is betrokke by die maak van ongelooflike boeke vir Afrikaans en Afrikanergeskiedenis.
Waaroor kan jy haar kontak?
Indien jy iets wil weet van die Internasionale Afrikaans-Ekspo of die taal, of wil bydra tot die Afrikanergeskiedenis webwerf, kan jy vir Chrisna ’n e-pos stuur na chrisna@fak.org.za
 

Johan Jansen van Vuuren

Kommunikasiebeampte

012 301 1777


Wie is Johan?
Johan Jansen van Vuuren, trotse Suid-[Afrikaner] is ’n kreatiewe boffin. Reeds op hoërskool het hy sy eie radiostasie begin, vandaar het hy Bedryfsielkunde studeer aan die Universiteit van die Vrystaat waar hy hom ook tuis gemaak het as anker van die ontbytprogram op KovsieFM. Vandag hou hy hom besig as kommunikasiebeampte by die FAK. Die bevordering van jongleiers en die ontwikkeling van kuns en kultuur is sy roeping. Hy geniet dit om te toer, mense te probeer verstaan en wonderwerke in 48 uur te laat gebeur.
Waaroor kan jy hom kontak?
Indien jy enige media, bemarking of kommunikasie verwante navrae het kan jy vir Johan ’n e-pos stuur by

Fanus Minnaar

Projekbeampte

012 301 1777


Wie is Fanus?
Fanus Minnaar, Afrikaans, Afrikaner, Suid-Afrikaans. Hy is trots op sy taal, sy kultuur en sy geskiedenis. Hy het onderwys aan die Universiteit van Suid-Afrika studeer en hou homself doenig in die kultuurwêreld as projekbeampte by die FAK. Hy is energiek, kreatief en reg vir enige uitdaging.
Waaroor kan jy hom kontak?
Indien jy betrokke wil raak by enige van die FAK se dinamiese taal-, kultuur- of geskiedenisprojekte, of ondersteuning nodig het in dié verband in jou klaskamer of gemeenskap, kan jy vir Fanus ’n e-pos stuur na fanus@fak.org.za

Jane du Plessis

Diensagent

012 3011 777


Wie is Jane?
Woorde soos pallet, kleur en vorms is deel van Jane se woordeskat. Sy waardeer kuns en teken en verf graag in haar vrye tyd. Jane is ook betrokke by haar kerk se Sondagskool en bemagtig ook so die jeug om die toekoms binne te gaan met ’n ambisie vir waardes. Haar gesin is haar steunpilaar en daarom is familieaktiwiteite vir haar baie belangrik. Jane het reeds as jong dogtertjie geweet dat sy bestem is vir groot dinge en daarom is haar hart vandag in die FAK en kultuurwêreld.
Waaroor kan jy haar kontak?
Indien jy deel wil wees van hierdie trotse toekomsgerigte kultuurorganisasie en saam met ons die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis wil behou en bevorder, kontak gerus vir Jane by jane@fak.org.za of by 012 3011 777.

Barry Müller

Diensagent

012 301 1777


Wie is Barry?
Barry is ’n passievolle, kreatiewe en gedrewe avonturier. Vir langer as twee jaar al is hy ’n Diensagent by die FAK. Die konstante groei van die FAK en groter potensiële impak wat ons kan maak vir Suid-[Afrikaners] is sy doel en dryfkrag. Sy twee grootste liefdes is om deur die pragtige wêreld te reis en om sy jare se ervaring en kreatiewe denke te gebruik tot voordeel van enige projek en om sodoende die maksimum moontlike potensiaal uit elke situasie te kan kry.
Waaroor kan jy hom kontak?
Indien jy deel wil wees van hierdie trotse toekomsgerigte kultuurorganisasie en saam met ons die Afrikaanse taal, kultuur en geskiedenis wil behou en bevorder, kontak gerus vir Barry by barry@fak.org.za of by 012 3011 777
 

Werner Beineke

Geskiedenis Intern

012 301 1777


Wie is Werner?
Werner is ’n trotse Afrikaner en lewe dit dag tot dag uit in sy lewe deur betrokke te wees by verskeie Afrikanerorganisasies. Sy passie is om met kinders te werk en tans is hy besig om vir ’n BEd-graad te studeer by Tukkies. Werner is avontuurlustig en geniet die buitelewe, kamp, braai en ander avontuuraktiwiteite so veel moontlik oor naweke saam met vriende.
Waaroor kan jy hom kontak?
Jy kan met enige algemene navrae Werner kontak by werner@fak.org.za

Christoff van Wyk

Bestuurder: NP van Wyk Louw-sentrum

012 301 1777


Wie is Christoff?
Christoff is ’n plat op die aarde plaasseun, maar iemand wat ook daarvan hou om oor die dieper dinge van die lewe te dink en gedurigdeur besig is om oor nuwe goed te leer. Hy het sy regsstudies in Potchefstroom voltooi, maar daarna pak hy en sy vrou ’n nuwe avontuur aan deur hulle te vestig in Londen. Tien jaar en vier kinders later keer hul terug na Suid-Afrika en vestig hulself in Pretoria. Hy begeef hom vir ’n wyle in die regsberoep, maar vind ’n nuwe uitdaging in die FAK se NP van Wyk Louw-sentrum waar hy tans sy liefde vir skryf, filosofie en teologie ten volle uitleef.
Waaroor kan jy hom kontak?
Indien jy idees het hoe om die Afrikaanse taal, kultuur en Afrikanergeskiedenis in die toekoms te bevorder, stuur vir Christoff ’n e-pos na christoff@fak.org.za
error: Content is protected !!