Deur prof Danie Goosen

Afrikaners wat mekaar opsoek, word dikwels gewaarsku – meestal deur ander Afrikaners – dat hulle nie hulself in ’n laer moet terugtrek nie. Laertrekkery isoleer jou, word gesê, dit voorkom dat jy aan die wêreld “daar buite” deelneem.

Hoe moet hierdie waarskuwing verstaan word? Onttrek Afrikaners wat mekaar se geselskap opsoek hulself tegelyk van die wêreld?

En loop hulle as gevolg daarvan die risiko om soos geestelike bosbewoners te word wat skrik vir die geringste vreemde mens, idee of verbeeldingsvlug?

Ek dink hierdie waarskuwing is misplaas. Rondom die volgende vyf punte probeer ek verduidelik waarom:

Eerstens, dit is korrek om te sê dat Afrikaners mekaar se geselskap vandag opsoek. Sonder dat hulle dit uitdruklik aan mekaar gesê het, gebeur dit op sosiale netwerke, in woonbuurtes, tussen vriende, by skole en universiteite, op kultuurfeeste en – tot die erge frustrasie van politieke transformeerders – op rugbystadions. Asook in ’n verstommende hoeveelheid kultuurorganisasies. En in die grootste burgerregte-organisasie wat nog ooit deur hulle tot stand gebring is.

Tweedens, Afrikaners is vandag – en dit is slegs ’n oënskynlike weerspreking van bogenoemde punt – soos nog nooit in hul geskiedenis aan die “invloede van buite” blootgestel nie. Die oomblik as jy uit jou motorhuis ry, die oomblik as jy jouself voor die TV neerplak, die oomblik as jy in jou kantoor stap, die oomblik as jy ’n draai in die ewige Mall gooi, die oomblik … so kan ons aangaan – telkens bevind jy jouself tussen nie-Afrikaners, tussen mense wat meestal slegs ’n vae – en dikwels bevooroordeelde – idee van jou taal of kultuur het.

Waarskuwings dat Afrikaners hulself tog nie in ’n laer moet terugtrek nie, is teen die agtergrond hiervan eintlik verspot. En gewis volledig werklikheidvreemd. Binne die heersende Suid-Afrikaanse werklikhede is die kans dat enigiemand – Afrikaners ingesluit – hulself in ’n enklave kan terugtrek ongeveer ’n ronde nul. Daarvoor is ons almal eenvoudig te blootgestel.

Trouens, Afrikaners word waarskynlik deur ’n toestand van hiper-blootstelling gekenmerk. As daar ’n waarskuwing aan Afrikaners gerig moes gewees het, sou dit eerder wees dat hulle vir te veel blootstelling versigtig moet wees! Want, sou aangevoer kon word – en let wel, ek doen dit nie hier nie – hulle kan hulle self in dié toestand van hiper-blootstelling verloor.

Derdens, diegene wat teen laertrekkry waarsku, verstaan nie die toestand van hiper-blootstelling waarin Afrikaners tans verkeer nie. Nog minder verstaan hulle die rede waarom Afrikaners vandag mekaar se geselskap opsoek.

Afrikaners soek mekaar vandag op, nie omdat hulle in ’n enklave wil terugtrek nie, maar juis as gevolg van hul oorweldigende blootstelling aan die “buitekant”. En dit is nie vreemd nie. Trouens, ons kan hierdie verskynsel met behulp van ’n globale “gemeenskapswet” verstaan: Hoe meer mense vandag aan die invloed van “buite” blootgestel word, des te meer sal hulle tegelyk ’n eie “binne” opsoek.

Vanuit hierdie gemeenskapswet beskou, bestaan daar nie ’n spanning tussen die feit dat Afrikaners mekaar opsoek en hul gelyktydige hiper-blootstelling nie. Inteendeel, hierdie twee kragte werk saam. Hoe meer blootstelling, des te meer sal ons mekaar opsoek.

Amper sê ek dit is “natuurlik”. Maar as dit nie natuurlik is nie, is dit ten minste vandag ’n bekende historiese verskynsel. Talle kommentators het reeds daarop gewys dat hoe meer ons die globale wêreld betree (en aan sy grensloosheid blootgestel word), des te meer gaan kultuurgemeenskappe mekaar opsoek. En grense rondom hulle trek. Enigeen wat oë het om te sien, weet dat hierdie proses volstoom aan die gang is. Gemeenskappe word dwarsoor die wêreld gevorm, nie in weerwil van die globale wêreld nie, maar juis as gevolg daarvan.

Vierdens, die verskynsel van ontgroening onder Afrikaanse studente. In hierdie verband is daar slegte nuus vir diegene wat ontgroeningspraktyke “met wortel en tak wil uitroei”, soos een van ons vooraanstaande akademiese administrators dit in sy dreigende – en onakademiese – toon geformuleer het. Waarom?

Sosioloë het reeds dekades gelede verduidelik dat ontgroeningspraktyke ’n tipiese “oorgangsritueel” is waarin die “ingewyde” ’n eertydse gemeenskap verlaat (in hierdie geval die skoollewe) en in ’n nuwe gemeenskap (die universitêre gemeenskap) ingewy word. Dit is nie tot Afrikaners beperk nie, maar kom wêreldwyd aan universiteite voor.

Alhoewel daar allerlei vergrype in ontgroeningspraktyke kan gebeur, bly dit steeds een van die heel beste wyses waarop ’n sin vir gemeenskap tot stand kom. Slegs diegene wat nie die feit van – en noodsaak vir – gemeenskapsvorming verstaan nie, verstaan ook nie die belangrikheid van ontgroeningspraktyke nie. Vergrype tydens ontgroening hoef nie ’n verskoning vir die afskaffing daarvan te wees nie, maar eerder ’n rede om dit te reguleer. Sonder hierdie belangrike gemeenskapsvormer is ook ons universiteite armer.

Op grond van bogenoemde gemeenskapswet (“hoe meer mense aan die invloed van ‘buite’ blootgestel word, des te meer soek hulle ’n eie ‘binne’ op”) kan met ’n mate van sekerheid voorspel word dat die pogings om ontgroeningspraktyke uit te roei tot mislukking gedoem is.

Hoekom? Hoe meer Afrikanerstudente aan hul toestand van blootstelling uitgelewer is, des te meer sal hulle – as dit moet, buite die oog van universitêre burokrate – mekaar in dinge soos ontgroeningspraktyke opsoek.

Vyfdens en laastens, hoe moet die verhouding tussen “buite” en “binne”, tussen die globale en die partikuliere, tussen die ander gemeenskappe en die eie gemeenskap verstaan word?

Afrikaners gee reeds vir ’n geruime tyd op ’n meestal onuitgesproke wyse ’n antwoord hierop: Binne en buite sluit mekaar nie uit nie. Inteendeel, hulle versterk mekaar onderling. En ek dink dit is die regte antwoord.