Retief-monument by Kwa-Matiwane in  Natal. Foto: Afrikanerbakens, FAK

Retief-monument by Kwa-Matiwane in Natal. Foto: Afrikanerbakens, FAK

Deur Marthinus van Bart

Toe pres. M.T. Steyn en ander Bittereinder-Boere ná Uniewording in aller erns begin organiseer het om ’n monument vir die Boerevroue en -kinders op te rig wat gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) in die Britse konsentrasiekampe gely en gesterf het, het genls. Louis Botha en Jan Smuts ’n plan bedink om die projek te laat skipbreuk ly.

Laasgenoemde twee oorlogskamerade was ná die oorlog groot ondersteuners van die Britse Empire. Botha se standbeeld kan vandag nog op Stalplein voor die hoofingang van die Parlement na aan die Goeie Hoop-Vrymesselaarslosie – alles binne die parlementsterrein in Kaapstad ­– gesien word, terwyl ’n standbeeld van Smuts voor die Britse parlement in Londen pryk.

Botha en Smuts wou keer dat ’n Vrouemonument die gesmoorde nasionalistiese vlammetjie in die hart van die Afrikaners ophelder, want die hele bevolking moes onderdane van die Britse Empire gemaak word. Afrikaners moes dus bekeer en aangemoedig word om sterk Engelsgesind te wees, Daarvoor moes hul Afrikaanse kultuur en nasionaliteit prysgegee word. ’n Soort reënboognasie, dus, maar slegs met die kleure rooi, wit en blou.

Botha stel toe aan pres. Steyn voor dat ’n monument vir die gevalle Voortrekkers by Dingaanstat, uMgungundlovu, in Natal opgerig word. Daar was Afrikaners, Engelse, bruinmense en swartmense in Piet Retief se geselskap van 101 wat op 6 Februarie 1838 deur Dingane se impi’s gemartel en grusaam vermoor is.

Dit sou dus ’n mooi gebaar van nasiebou wees om daar ’n monument op te rig. Geld moes onder die algemene publiek ingesamel word om daarvoor te betaal.

Pres. Steyn het deur die slinksheid van die plan gesien, en dit veroordeel. Dit sou die hele Vrouemonument-projek kelder. Die verarmde bevolking kon buitendien nie vir twee monumente betaal nie.

En so het dit dan gekom dat die Vrouemonument op 16 Desember 1913 in Bloemfontein opgerig is – vanjaar presies ’n eeu gelede.

Nie Botha óf Smuts het ooit weer probeer om ’n Retief-monument op te rig nie. Hul grootse plan was maar net ydele politiekery om onmin in Afrikanergeledere te saai, hulle te verdeel en oor hulle te heers.

En vandag word hierdie geskiedenis om die Afrikanervolk te verdeel en oor hom te heers, op dieselfde wyse herhaal. En weer is dit Afrikanerkultuur en die Afrikaanse taal wat gemanipuleer word om dit te bereik.

'n Kunstenaarsvoorstelling van Piet Retief. Geen portret of foto van hom is ooit gevind nie.

‘n Kunstenaarsvoorstelling van Piet Retief. Geen portret of foto van hom is ooit gevind nie

 

Die monument vir Retief en sy geselskap is in 1922 op die moordkoppie, Kwa-Matiwane, naby Dingaanstat, opgerig. Die projek is onder leiding van die Nederduitse Gereformeerde Kerk aangepak. Die gemeente van Babanango het die voortou geneem.

Op 8 Julie 1922 is die monument van gekapte blou dolomiet deur ds. A.J. Louw, kapelaan van die Boerekrygsgevangenes op St. Helena in die ABO, onthul. Hy was ten tyde van die onthulling Moderator van die Transvaalse Sinode van die NG Kerk.

Die monumentbouersfirma Sinclair en Kie. van Pretoria was vir die oprigting van die monument verantwoordelik. Dit is in die vorm van ’n obelisk met die name van die vermoordes op die voetstuk gegraveer.

Die name op die munument van die geïende vermoorde Voortrekkers.

Die name op die munument van die geïende vermoorde Voortrekkers.

 

In Die Boerevrou van Augustus 1922 beskryf ’n onbekende leser van Fort Louis, Dundee, in Natal, wat die onthullingsplegtigheid bygewoon het, die verrigtinge soos volg:

Die mense het baie swaar gekry om daar te kom, want ons kon nie permitte kry om met osse te gaan nie. Toe moes ons oral rondsoek om esels in die hande te kry, maar soos dit altyd met die Boer gaan, het hy hom nie laat terughou deur moeilikheid nie en toe het soveel van ons as wat kon, daarheen gegaan.

Daar was omtrent 600 mense by die onthulling. Dit was nie soveel as wat ons verwag het nie, maar tog ’n mooi klompie. Die kamp was toe sowat 15 minute van die monument op ’n ronde heuwel opgeslaan.

Die gesig was baie mooi, want ons kon toe afkyk op die monument en op die koppie waar Dingaan altyd sy raad gehou het en waar hy die burgers ook laat omsingel het.

Ons het nog orals gaan kyk, en ’n mens kon nog baie plekke kry waar die Zoeloes se hutte gestaan het, en die vuurmaakplekke was nog mooi herkenbaar.

Oral op die koppie is ook nog die gate te sien waar hulle die mielies begrawe het. En die twee bome wat, soos hulle sê, vir die hek van sy stat gedien het, staan ook nog daar.

Op die 8ste Julie het die prosessie van daardie hek af begin stap na die monument. Dit was waarlik ’n treffende gesig: Die mans aan die een kant, met die lede van die koor vooraan, en die vroue weer aan die ander kant met die kransdraertjies voorop. Die Duitse orkes het die dodemars gespeel.

Glo my, dit het ’n mens ver laat terugdink en laat voel dat die plek heilige grond is. Ek is so jammer dat ons nie ’n paar kiekies van die stoet kon neem nie, maar daar was geen afnemer nie en die wat kodaks gehad het, is almalprivate mense, anders sou ek u seker ’n paar van die kiekies gestuur het.

By die (massa-)graf het ds. Louw die openingsrede gehou. President F.W. Reitz het toe ook ’n rede gehou en toe het genl. Viljoen, ’n kleinkind van Piet Retief, die onthulling gedoen.

Die monument staan op die Moordkoppie en onderaan die voet is die graf van die oorblyfsels van Piet Retief en sy burgers. ’n Mens stap 40 treetjies van die monument af tot by die graf. Dit is waarlik so mooi dat die monument neerkyk op die graf, asof hy nou daar staan om die wag oor die gevallenes te hou.

Die koor het ’n pragtige lied gesing en die klein kransdraertjieshet hul kransies op die graf neergesit. Alles het mooi en ordelik afgeloop, en wat ons daar gehoor en verrig het, sal nog lank in ons geheue bly.

Die middag was daar ’n diens in die tent van boksiele gemaak, en ds. P. Nel van Ermelo het ’n ernstige rede tot ons gerig en ons parlementslid, adv. Jansen, het ons die geskiedenis van die Voortrekkers vertel. Dit was baie interessant om alles so mooi te hoor vertel. Sondag het ons Nagmaal gevier. Maandag is ons na ’n heerlike vakansiehuis toe, dankbaar dat die Heer ons nog vergun het om die eer aan ons Voortrekkers, wat vir ons hul lewe gegee het, te bewys.