Krugerhuis, Switserland

Agtergrondinligting
Pres. Kruger
- Op 7 Mei 1900 vergader die Volksraad vir die laaste keer en verskuif daarna na Machadodorp en later na Nelspruit.
- In September 1900 word daar besluit dat Pres Kruger vir persoonlike veiligheid en ook om die saak van die Republieke by Europese moondhede te bevorder, na Europa moes gaan.
- Koningin Wilhelmina van Nederland het De Gelderland tot beskikking van Pres Kruger gestel om na Frankryk te reis. Vertrek op 19 Oktober 1900 vanuit Lourenco Marques na Frankryk.
- Hy land in Marseilles en ´n segetog volg deur Frankryk, België, Duitsland en Nederland waarna hy in verskeie huise in Nederland en later aan die Franse Riviera bly.
- Sy gesondheid het aan die begin van 1904 aansienlik verswak en daar is besluit om hom na Switzerland te verskuif. Die Krugerhuis is op 15 Mei 1904 vir 5 maande gehuur. Hy het slegs enkele weke in die huis gewoon
- Pres Kruger sterf op 14 Julie 1904. In sy laaste briefwisseling het Pres Kruger aangedui dat hy onder Britse vlag gebore is, maar dat hy nie daaronder wou sterf nie. ’n Tydelike begrafnis is op 26 Julie 1904 in Den Haag, Nederland gehou.
- Gen. Louis Botha het dadelik onderhandel dat sy oorskot na Transvaal teruggebring moes word. Die Nederlandse Regering het weer die skip De Batavier II beskikbaar gestel. Sy oorskot is gebalsem en na Suid-Afrika gebring.
- Die teraardbestelling van wyle Pres Kruger het op Dingaansdag, 16 Des 1904 in die Heldeakker in Pretoria plaasgevind.
Krugerhuis
- Die Krugerhuis is in 1873 opgerig en is geleë by Clarens, langs die meer van Geneve in Switzerland
- Dit is hier waar Pres Kruger die laaste paar maande van sy lewe geslyt het. Die sterfhuis van pres Kruger is reeds sedert 1910 as ’n museum bedryf, maar het eers sedert 1950 aan Suid-Afrika behoort.
Fondsinsameling
- 10 Oktober 1949: Sy Edele die Eerste Minister Dr D.F. Malan maak die aankondiging dat die Sterfhuis in Switzerland aan die regering te koop aangebied is.
- Die FAK is versoek om die 10 000 POND in te samel en landswye insamelings is onder leiding van die FAK geloods.
- Die huis is op 27 Februarie 1950 gekoop.
- Regering het verantwoordelikheid aanvaar vir die bedryf en instandhouding van die gebou.
Instandhouding tot 1993
- Die huis is deur die Suid-Afrikaanse Ambassade in Bern namens die SA-regering in stand gehou. Hulle het ook die personeel en opsigters aangestel. [Kuratrise: Mari-Claude Perretet]
- Die inrig van ’n sinvolle museum kon nooit werklikheid word nie en die instandhouding het geweldig baie gevra.
- Die sterfkamerbed is in 1932, toe Gen JBM Hertzog Eerste Minister was, aangekoop en na SA gebring – dit is tans nog in die Krugerhuis in Pretoria.
- Replikas is vir die huis in Switzerland gemaak.
- In 1983 het die Direkteur van die Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum onder andere in ’n besoek gesê dat die huis kaal en oninteressant daar uitsien. Die tuin het lankal nie meer gelyk soos in die dae van die President nie.
- Daar is in 1987 weer tydelike herstelwerk deur die staat aangebring sodat die huis nie so sleg teen die omliggende geboue afgesteek het nie en in 1988 is daar weer ’n komitee in die lewe geroep om na die restourasie te kyk.
Oorhandiging aan die FAK
- Die gebou het vir die staat te duur geword om te onderhou en die staat het die FAK op 30 September 1992 versoek om dit weer oor te neem.
- Die Kabinet keur op 12 Maart 1994 die oordrag aan die FAK goed.
- Die FAK kon die restourasie nie alleen dra nie.
- Mnr Johann Roode, Uitvoerende Voorsitter van Genfood, wat self die belange van SA en sy geskiedenis op die hart gedra het, het persoonlik betrokke geraak en Genfood het ingewillig om die gebou oor te neem, te restoureer en as gastehuis te benut – Villa Kruger
- ‘n Servituut oor die sterftekamer is ten gunste van die FAK geregistreer, sodat die sterftekamer as gedenkwaardigheid behou word.
Villa Kruger [Krugerhuis] in Switserland
- Die Krugerhuis Clarens (Pty)Ltd wat as eienaar in die lewe geroep is, het besluit om die huis, uitgesonder die sterfkamer van Pres Kruger, te omskep in ‘n gastehuis om die geweldige kostes vir die instandhouding te help dra.
- Die sterfkamer is as museum en gedenkwaardigheid vir die algemene publiek ingerig en ook deurlopend instandgehou. Die oorspronklike meubels is in 1932 na die RSA gebring en replikas is gemaak vir die sterfkamer-museum in Switzerland. Benewens gaste wat daar oornag, kon dagbesoekers ook die sterftekamer-museum besoek.
- Daar is ongelukkig nie baie besoekers uit SA wat in staat is om die Krugerhuis te besoek nie en hierdie gedenkwaardigheid is vir die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners onbereikbaar. [Ongeveer 3-4 besoeke per maand uit die RSA]
- Na die skielike afsterwe van mnr Roode moes daar weer indringend na die verdere instandhouding gekyk word.
- Die Krugerhuis is in 2005, met behoud van die FAK-servituut, aan ‘n individu in Switzerland verkoop.
Besoekers weer welkom in die Krugerhuis
Verteenwoordigers van die FAK-Direksie [mnr Sarel Steyn en mnr Hennie de Wet] het die Krugerhuis in Switzerland aan die begin van November 2005 besoek om verdere besoeke aan die Krugerhuis met die nuwe eienaar uit te klaar.
Die resultaat is uiters positief en besoekers is weer hartlik welkom!
- Daar is veral baie belangstelling vanuit Nederland, Duitsland en Rusland om die Krugerhuis te besoek. Die personeel by die plaaslike inligtingsburo in Montreux het aangedui dat hulle in die somermaande oorval word deur persone wat die Krugerhuis wil besoek!
- Suid-Afrikaners word weer eens hartlik uitgenooi om dit deel van hul internasionale reisplanne te maak!
Logistiese reëlings vir ‘n besoek
- KONTAKPUNT: Die plaaslike Inligtingsburo in Montreux (3 km vanaf die Krugerhuis) sal as kontakpunt vir toeriste dien om die Krugerhuis te besoek. Die personeel van die inligtingsburo sal inligtig verskaf en ook afsprake vir besoekers na Krugerhuis maak.
- Vir besprekings: info@mvtourism.ch, Tel +41 (0)21 962 8484, faks +41 (0)848 868 484.
- Hierdie inligting ivm besoeke aan die Krugerhuis is ook op die FAK-webwerf [ www.fak.org.za]
- Per Trein vanaf Geneve:
- Neem die trein vanaf Geneve na Montreux (ongeveer 100 CHF retoer). Daar is ongelukkig geen huurmotors by Clarence stasie beskikbaar nie en besoekers moet derhalwe vanaf Montreux opereer.
- Vanaf Montreux-stasie kan die Krugerhuis per bus (5 CHF retoer) of per huurmotor besoek word. Dit is ongeveer 3 km vanaf Montreux-stasie.
- Besoekers kan ook vanaf die Montreux-stasie die twee straatblokke na die Geneve-meer stap en dan al langs die meer na die Krugerhuis stap ’n heel besondere ervaring!
Udolpho Jeugterrein
Hierdie is ‘n pragtige terrein naby Parys vir gebruik deur skole, kerke en jeuggroepe. Die terrein bied ook huisvesting vir gesinne wat ‘n rustige naweek langs die rivier wil deurbring. Udolpho is ongeveer 8 km van Parys, op die walle van die Vaalrivier. Dagbesprekings en oornagkampe is moontlik. Daar is volledig toegeruste chalets (4 persone elk), slaapsale en ‘n eetsaal vir 36 kinders, sowel as ‘n volledig toegeruste kombuis. Spyseniering is op aanvraag beskikbaar vir groepe. Die terrein beskik ook oor ‘n groot swembad en grasperke, sowel as ‘n 4 km rivieroewer.
Vir verdere navrae en besprekings
Mnr en mev Jordaan
(056) 818 1197 of 072 147 1302
