Charles Davidson Bell se uitbeelding Van Riebeek se aankoms in April 1652 aan die Kaap die Goeie Hoop.

Charles Davidson Bell se uitbeelding Van Riebeek se aankoms in April 1652 aan die Kaap die Goeie Hoop.

 

Deur Marthinus van Bart

Een van die hoogste kultuuruitinge van enige gemeenskap is die uitvoerende kunste, veral musiek. As eksponente en verteenwoordigers van Nederland se Goue Eeu is dit dus nie vreemd dat Jan en Maria van Riebeeck in April 1652 Europese klassieke musiekinstrumente saam met hulle na die Kaap die Goeie Hoop gebring en dit daar bespeel het nie.

Daar word onder meer in die Daghregister, die amptelike dagboek van Jan van Riebeeck, na “muziekinstrumenten” verwys en dat in die kommandeurswoning binne die Fort De Goede Hoop ’n klawesimbel bespeel is.

Die skildery van Jan van Riebeeck is in 1664 in Malakka gemaak toe hy bevelvoerder van die VOC buitepos was.

Die skildery van Jan van Riebeeck is in 1664 in Malakka gemaak toe hy bevelvoerder van die VOC buitepos was. Dit is nou in die besit van die Stad Kaapstad, wat dit in ‘n pakkamer wegsluit. Foto: Marthinus van Bart

Omdat Nederlandse meisies van die hoë lui in die sewentiende eeu tradisioneel onder meer onderrig in musiek en ander vorme van die kunste ontvang het, was dit heel waarskynlik Maria wat die klawesimbel aan die Kaap bespeel het. Die historikus W.C. Mees verwys ook daarna dat sy die viool kon bespeel. ’n Mens kan vanweë haar fyn opvoeding aanvaar dat sy ook kon sing. In ooreenstemming met haar status in haar gemeenskap het sy deftige syklere gedra.

Niks in Jan se biografiese gegewens dui egter daarop dat hy onderrig in musiek of  die ander kunste ontvang het of ’n musikale aanleg gehad het nie. Maar dat hy wel die musiek waardeer het wat sy begaafde vrou gemaak het, is vanselfsprekend. Dit moes nogal vir hom ’n onderneming gewees het om toestemming van die Here XVII te verkry dat die delikate klavesimbel, verwant aan die klavier, aan boord van sy vlagskip gebring kon word en dat die instrument vir die lang en gevaarlike seereis in die betreklik beknopte ruim van die klein seilskip behoorlik, óók waterdig,verpak kon word. Dit was klaarblyklik die egpaar se eie besitting en nie eiendom van die VOC nie.

Maria de la Queillerie van Riebeeck, eggenote van kommandeur Jan van Riebeeck, soos sy in die 1650's uitgebeeld is net voor hul koms na die Kaap die Goeie Hoop. Sy was 'n geleerde en hoogs intelligente vrou wat volgens haar stand en status deftig gekleed gegaan het. Sy was 'n knap sakevrou wat die eerste private bank aan die Kaap begin het deurdat sy geld aan Vryburgers geleen het wat hulle met rente moes terugbetaal. Ook het sy verskeie vee van haar eie besit.

Maria de la Queillerie van Riebeeck, eggenote van kommandeur Jan van Riebeeck, soos sy in die 1650’s uitgebeeld is net voor hul koms na die Kaap die Goeie Hoop. Sy was ‘n geleerde en hoogs intelligente vrou wat volgens haar stand en status deftig gekleed gegaan het. Sy was ‘n knap sakevrou wat die eerste private bank aan die Kaap begin het deurdat sy geld aan Vryburgers geleen het wat hulle met rente moes terugbetaal. Ook het sy verskeie vee van haar eie besit.

In die Daghregister verhaal Van Riebeeck hoedat hy op 29 en 30 September 1660 vir Sousoä, die “koning” van die Chainouquas, en ’n “prinses”, die vrou van Sousoä se seun, in sy private raadsaal, die kommandeursaal genoem, onthaal het. Hulle het op die tapyt gesit en is op kaas, vars brood en suiker, asook op Spaanse en Franse wyn, getrakteer. Ook is daar vir hulle ’n uitvoering op die klavesimbel gelewer. Hulle het dit wonderlik aangenaam gevind, skryf Van Riebeeck. Daar word vermoed dat dit Maria was wat die klavesimbel bespeel het, al word dit nie pertinent so in die Daghregister vermeld nie.

Die onderdane van die Koina-opperhoof is in die fort se voorsaal op beskuit (hardebrood) en brandewyn getrakteer, sodat hulle lustig gesing, rondgespring en wonderlik-snaakse gebare gemaak het. Laasgenoemde verwys waarskynlik na die Koina-dans wat vandag as “die riel” bekend staan.

Die kommandeurswoning was ’n vierkantige, stewige woning met klipmure en ’n plat dak. Dit het twee verdiepings beslaan en daar was ’n binnetrap. Die vertrekke was onderskeidelik ’n raadsaal, kantoor, slaapkamer en ’n kinderkamer. Die raadsaal het ook as kelder en pakkamer gedien.

In die hoofslaapkamer was onder meer ’n groot muurspieël. Toe twee Koina-veeonderhandelaars op ’n dag deur die woning begelei is, het hulle geskok voor die spieël vasgesteek, menende wat dit ander Koina was wat hulle dalk vyandiggesind kon wees. Toe Eva (Krotoa), die Koina-diensmeisie van die Van Riebeecks, aan hulle verduidelik dat hulle nie deur ’n venster in ’n ander vertrek inkyk nie, maar dat dit hulleself was wat hulle daar sien, was die gort gaar. Hulle het summier aanvaar dat dit dan geeste in ’n ander wêreldryk moes wees was wat net soos hulle lyk. Hulle was skoon op hol, en Eva het haar hande vol gehad om die angsbevange besoekers te laat bedaar, luidens die Daghregister.

Die standbeeld van brons van Maria van Riebeeck wat die Nederlandse regering aan Suid-Afrika geskenk het ten tyde van die 1952-vieringe van Van Riebeeck-dag. Die beeld staan aan die onderpunt van die Heerengracht in Kaapstad langs een van haar man, Jan van Riebeeck.

Die standbeeld van brons van Maria van Riebeeck wat die Nederlandse regering aan Suid-Afrika geskenk het ten tyde van die 1952-vieringe van Van Riebeeck-dag. Die beeld staan aan die onderpunt van die Heerengracht in Kaapstad langs een van haar man, Jan van Riebeeck. Foro: Marthinus van Bart

Dat daar ook ’n trompetter in die geselskap van Van Riebeeck was, blyk uit ’n staaltjie van 2 Maart 1654 in die Daghregister : ’n Noorkapper-walvis het by die monding van die Soutrivier (Paardeneiland) uitgespoel. Jan en Maria van Riebeeck het in die geselskap van ander lede van die nedersetting met die strand langs daarheen geloop en bo-op die walvis geklim. Toe het ’n trompetter die Nederlandse volkslied, Wilhelmus van Nassouwe, gespeel.

Dit was uiteraard die gebruik om op skepe skeepstrompetters te hê, en by militêre eenhede tromslaners en beulblasers. Hoewel Van Riebeeck en sy geselskap nie streng militêr van aard was nie, was hulle ook nie gewone burgerlikes nie, want hulle het die VOC en die Nederlandse regering verteenwoordig. Daar sou volgens gebruik dus formele tromslaners, trompetters en selfs beulblasers in die nedersetting van die Kaap die Goeie Hoop gewees het.

n Baie besonderse boek oor die Van Riebeecks wat deesdae onbekombaar is, en wat ook betreklik onbekend is, Jan van Riebeeck: Die grondlegger van ’n blanke Suid-Afrika, deur C. Louis Leipoldt, is in 1938 deur Nasionale Pers Beperk in die Ons Geskiedenis-Serie uitgegee.

C. Louis Leipoldt se biografie oor Jan van Riebeeck. Hy skryf baie interessant oor Jan se opleiding as skeepsjirurgyn.

C. Louis Leipoldt se biografie oor Jan van Riebeeck. Hy skryf baie interessant oor Jan se opleiding as skeepsjirurgyn.

Leipold, digter en skrywer, was ’n kinderarts wat sy opleiding by die mediese skool van Guy’s Hospital in Londen ondergaan het. Hy het navorsing gedoen oor die opleiding wat Jan van Riebeeck as jong man in Culemborg sou ondergaan het om as skeepsjirurgyn te kon kwalifiseer. Leipoldt se bevindings is besonder interessant en dui daarop dat Van Riebeeck veel meer van die medisyne en sjirurgie af geweet het as wat gewoonlik aanvaar word. Die mite dat hy niks anders as ’n bloedlater was nie, is loutere onsin. Hy het ’n deeglike  vakleerlingskap van vier jaar by ’n “wondmeester” van die sogenaamde babiersgilde deurloop. Dit behels veel meer as ’n gespesialiseerde noodhulpman. Hy kon ook medisyne aanmaak en dit toedien, en onder toesig wonde versorg en selfs opereer.

 

Die anatomie-les van dr. Nicolas Tulp deur Rembrandt van Rijn 1632.  Die kunswerk word in Mauritshuis in Den Haag bewaar.

Die anatomie-les van dr. Nicolas Tulp deur Rembrandt van Rijn 1632. Die kunswerk word in Mauritshuis in Den Haag bewaar. Jan van Riebeeck sou as aspirant skeepsjirurgyn ook sulke anatomie-lesse moes bywoon.

Die aspirant-sjirurgyns moes die Eed van Hippokrates aflê, is onderig oor hoe die menslike anatomie werk, moes opereer onder toesig van ’n geneesheer (heelmeester), gebreekte bene spalk, ledemate wat ontwrig is herstel, tande trek en bloedlaat. Hulle moes wonde kon toewerk en deurgesnyde slagare toebrand. Die eksaminering was besonder streng, en as deel van hul prakties moes elke student uit ’n stuk ru-yster twee fyn afgewerkte en flymskerp sjirurgynsmesse (lansette) slyp.

Louis Leipold in 1902 in die Mediese Skool van Guy's Hosital in Londen waar hy as dokter opgelei is. Hy is die student wat aan die flessie ruik en na die kamera se kant kyk.

Louis Leipold in 1902 in die Mediese Skool van Guy’s Hosital in Londen waar hy as dokter opgelei is. Hy is die student wat aan die flessie ruik en na die kamera se kant kyk.

Die sjirurgynsopleiding was ’n baie duur kursus wat net die seuns van die welgestelde hoë lui beskore was.

Jan van Riebeeck was 21 jaar oud toe die VOC se Kamer van Delft hom in April 1639 as gekwalifiseerde wondmeester en ondersjirurgyn by die VOC se handelsvloot geregistreer het, skryf Leipoldt.

Die boek bevat voorts ook vele ander interessanthede oor Van Riebeeck en sy voortreflikhede as eerste kommandeur van die Kaap die Goeie Hoop en grondlegger van die Westerse boukuns, landbou, veeteëld, die kunste, die mediese beroep, ekonomie en finansies, en van die Gereformeerde Christelike godsdiens. Kortom, was Van Riebeeck die grondlegger van die georganiseerde moderne Christelike beskawing op die vasteland van donker Afrika. Leipoldt se boek verdien om heruitgegee te word.

Jan van Riebeeck se medisynekis word in die ampswoning Leeuwenhof van die Wes-Kaapse premier bewaar. Hoewel daar twyfel bestaan of die kis met sy swaar koperbeslag wel Van Riebeeck sin was, is daar ook nie bewyse dat dit inderdaad nie syne was nie. Die herkoms daarvan is vaag, en die verhaal dat dit wel sy medisynekis is, word goeder trou oorvertel

Jan van Riebeeck se medisynekis word in die ampswoning Leeuwenhof van die Wes-Kaapse premier bewaar. Hoewel daar twyfel bestaan of die kis met sy swaar koperbeslag wel Van Riebeeck sin was, is daar ook nie bewyse dat dit inderdaad nie syne was nie. Die herkoms daarvan is vaag, en die verhaal dat dit wel sy medisynekis is, word in goeder trou oorvertel. Foto: Marthinus van Bart

Ironies is hierdie eerste amptelike outobiografie in Suid-Afrika, die Daghregister van Jan van Riebeeck, nog nooit in Afrikaans oorgesit nie. Dit is slegs in die oorspronklike (moeilik verstaanbare) sewentiende-eeuse Nederlands en afsonderlik in Engels beskikbaar. Vir Afrikaans en die Afrikaanse kultuurskat is hierdie leemte werklik ’n skreiende skande.

Boonop strek die afwesigheid van kennis van Van Riebeeck se waarnemings en ervaring van ander volkere aan die Kaap tot die nadeel van alle Afrikaners in hierdie dae van vyandige dekonstruksie-politiek jeens hulle, hul voorouers en hul bestaansreg in Suid-Afrika.

Die standbeel van brons van Jan van Riebeeck staan in Kaapstad aan die onderpunt van die Heerengracht. Dit dateer van 1898. Foto: Marthinus van Bart

Die standbeel van brons van Jan van Riebeeck staan in Kaapstad aan die onderpunt van die Heerengracht. Dit dateer van 1898. Foto: Marthinus van Bart