2012 is die vyf-en-sewentigste verjaarsdag van die welbekende FAK-sangbundel. Daar word steeds jaarliks sowat 500 van hierdie bundels verkoop. Die FAK beplan voluit om hierdie groot mylpaal te vier met die uitgawe van ’n volgende FAK-sangbundel. Die werk word gedoen met behulp van ’n sangbundelkomitee wat bestaan uit rolspelers in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.
Vlnr: Danie Brink, Anneke Lamont, Niel van der Watt, Mimi Coertse, Wessel van Wyk, Elsbeth Hugo, Sarie Marais, Dirk van Niekerk, Colin Campbell.
Die nuwe sangbundel sal, soos die bestaande bundel, 400 liedjies bevat en die volle spektrum van Afrikaanse musiek genres dek. Die hoofdoel van hierdie nuwe uitgawe sal wees om ’n publikasie daar te stel wat vir die volgende 75 jaar kan dien as dié bundel van Afrikaanse musiek. ’n Groot gedeelte van die Afrikaanse musiekskatte sal op hierdie manier bewaar en ten toon gestel word. Die nuwe sangbundel gaan in die gees van die moderne tyd vergesel word van ’n CD/DVD wat soveel as moontlik van die sangbundel-liedjies sal bevat. Dit is belangrik om te noem dat hierdie FAK-projek deur ’n bykomende projekleier tot die bestaande FAK-struktuur bestuur sal word vanweë die omvang van die taak. Hierdie projekleier sal wel onder die FAK-direksie werk en vir ’n tydperk van 16 maande vir die kontrak aangestel word.