Deur Alet Rademeyer in Beeld 9 Junie 2012
Die operadiva Mimi Coertse, ook algemeen bekend as “Onse Mimi”, was haar lewe lank ’n inspirasie en iemand wat die aristokratiese ideaal voortgedra het.
Met dié woorde het dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK, en vriende Coertse se 80ste verjaardag op die Voortrekkermonument- terrein by Pretoria gevier.
Sy verjaar Dinsdag.
Hulde is gebring aan Coertse, wat internasionaal bekroon is en gehore in Europa en Suid-Afrika dekades lank met haar opera-uitvoerings betower het.
Sy het in 1950 die eerste FAK-musiekbeurs ontvang.
Toe die FAK in 1954 sy 50-jarige bestaansjaar gevier het, het sy ’n treffende dubbelalbum, Die Afrikaanse lied, uitgereik. ’n Geraamde omslag van dié plaat en ’n CD is aan haar oorhandig.
Sy is steeds by die FAK betrokke en onder meer lid van die sangbundelkomitee, wat gemoeid is met die samestelling van die nuwe FAK-sangbundel wat later vanjaar uitgereik word.
Langner het gesê Coertse was bekend lank voordat Charlize Theron ’n Oscar gewen het, Ryk Neethling ’n goue medalje by die Olimpiese Spele ingeoes het, FW de Klerk en Nelson Mandela die Nobelprys vir vrede gekry het of Chris Barnard die eerste hart oorgeplant is.
Terwyl Coertse gehore regoor die wêreld aan haar voete gehad het, was daar ook die tye dat sy ’n enkelpad geloop het om skeppend te kan wees.
Coertse het op haar beurt ’n paar staaltjies oor haar dae oorsee vertel en onder meer verwys na die keer toe sy heimwee na haar land gekry het toe sy ’n Afrikaanse lied gesing het.
Sy kon ’n oomblik nie voortgaan nie, maar toe sy na die gehoor opkyk, was daar talle mense wat ook bewoë was. Sy het dikwels oorsee in Afrikaans gesing, wat haar laat besef het hoe ’n wonderlike taal dit is.
Leerlinge van die Laerskool Anton van Wouw in Pretoria en Izak Berg van die Helpmekaar Kollege in Johannesburg het sang- en ’n voordragitems gelewer as deel van die verjaardagviering.