Die FAK-direksie het op sy vergadering gehou op Donderdag 16 Februarie 2012 die N.P. van Wyk Louw-sentrum vir Kulturele Vryheid gestig.

Die Sentrum word geskoei op Amerikaanse en Europese navorsingsinstitute met ’n historiese verwysingspunt, maar ook ’n toekomsgerigtheid.  Die sentrum se doelwit is om rondom die internasionale beginsel van kulturele vryheid, oplossings vir die Afrikaner- en ander taal- en kultuurgemeenskappe in Suid-Afrika te ontwikkel.

Die Sentrum doen deurlopend navorsing oor:

  • Die teoretiese raamwerk vir kulturele vryheid en die praktiese toepassing daarvan op die Suid-Afrikaanse werklikhede
  • Hoe om die ruimte wat die Grondwet bied aan taal- en kultuurgemeenskappe op te eis deur middel van toepaslike staatkundige modelle, gebaseer op internasionale riglyne wat minderheidsgroepe akkommodeer
  • Afrikaanse opleiding: van voorskoolse tot tersiêre kwessies
  • ’n Christelike raamwerk vir gemeenskapsontwikkeling, burgerregte- en protesbewegings
  • Die stand van Afrikaanse gesinne
  • Poog om Afrikanergeskiedenis in perspektief te stel

Die N.P. van Wyk Louw-sentrum word bygestaan deur ’n Adviesraad van kundiges en verskeie navorsingsgenote.

Die FAK neem ook voortaan die verantwoordelikheid vir die Internasionale Skakelkantoor in Nederland met Ingrid Scholtz as verteenwoordiger. Die skakelkantoor sal bedryf word onder die naam Stichting voor Afrikaans en is geregistreer by die Nederlandse Kamer van Koophandel.

Die FAK se Suid-Afrikaanse kantoor is verantwoordelik vir die volgende:

  • Bestuur van die internasionale kantoor en bied van ondersteuning aan personeel in Nederland.
  • Reël netwerkgeleenthede tussen Afrikaanse en Nederlandse organisasies in Suid-Afrika.
  • Reël van kontakgeleenthede met ambassades en organisasies in Suid-Afrika
  • Bestuur die Jongerenprojek in samewerking met toepaslike rolspelers en organisasies.

Die Nederlandse kantoor is verantwoordelik vir:

  • Aktuele en relevante artikels oor Suid-Afrika en Afrikaans in Nederlandse media en om dit onder meningsvormers se aandag te bring.
  • Fondsinsameling
  • Reël besoeke aan meningsvormers en organisasies
  • Reël en organiseer van Afrikaans/Nederlandse netwerkgeleenthede en projekte.

Die FAK se bestaande federale funksie en kultuurprojekte gaan voort en word verder uitgebou. Daar word met groot verwagting uitgesien na die nuwe Sangbundel wat einde 2012 sal verskyn.

Die FAK direksie het ook verskeie komitees saamgestel, naamlik ’n Internasionale komitee,  Musiekkomitee en Geskiedeniskomitee.

Ons ontvang graag u insette en navrae hieroor.

Met vriendelike groete

Dr Danie Langner

Uitvoerende Hoof

danielangner@fak.org.za

Tel 012 301 1777