Die ANC, Hollande en die ‘dom ekonomie’

Gepubliseer deur

Eugene Brink

 

“It’s the economy, stupid.”

Met hierdie uiters eenvoudige volksmond-slagspreuk het oudpres. Bill Clinton die kiesers se harte gewen in 1992 se verkiesing in ’n tyd toe die Amerikaanse ekonomie gesteier het na afloop van die Koue Oorlog. Dit is ook die vernaamste kwessie in vanjaar se Amerikaanse en Franse verkiesings.

Terwyl Nicolas Sarkozy as president besuiniging en opofferinge by die Franse publiek bepleit het, het hy sonder skaamte Franse sjampanje saam met sy miljardêr-vriende op hul seiljagte gedrink. Dit het die sosialistiese kandidaat, François Hollande, baie skietgoed gegee om mee te werk en hy is gister tot die nuwe Franse president verkies. Hollande het, nes Sarkozy, die gesiglose “elite” aangeval as als wat sleg is asof hierdie klein groepie die enigste sondebokke is en hul lyding die res se nood gaan verlig. Verder wil hy die land se besuinigingsmaatreëls, wat wel nodig is, omkeer en mense minder laat werk en meer afhanklik van die staat maak. Hy wil boonop die aftree-ouderdom met twee jaar verlaag (van 62 na 60) en sodoende Sarkozy se beleid ongedaan maak om die Franse, wat tradisioneel nie vreeslik lief is vir werk nie, meer produktief te maak.

Dit is wel so dat daar in gevestigde demokrasieë ’n gereelde en gesonde magsoordrag van een party na die ander is. Dit hou elke party op sy tone om die beste moontlike beleide te boetseer om die publiek se guns te wen en hierdie mededinging is goed vir die mense en hul lande. Dit is egter ook so dat Hollande se beleide dié is wat Griekeland, Spanje en Italië in die pekel laat beland het. Terwyl die gemiddelde Griek nie later as op 55 aftree nie en dan van die staat af wil lewe terwyl hulle lekker op die strand lê, bots dit lynreg met die demografiese en ekonomiese tendense in die Weste. Die gemiddelde Westerling gaan langer lewe as sy voorgangers, dus as ’n Griek 90 of ouer gaan word, beteken dit hy het net sowat 30 jaar lank vir sy oudag gespaar en gaan dan nog bykans 40 jaar lank moet lewe. En die laaste 40 jaar gaan hy baie meer mediese sorg nodig hê. Die Weste se aanwaskoerse het ook aansienlik gedaal met al hoe minder jongmense om te werk om die groeiende groep oues te onderhou. In ’n onlangse Reuters-peiling onder Amerikaners van werkende ouderdom, is bevind meeste is van plan om later as 65 nog te werk en 11% is van plan om nooit op te hou nie.

Ewenwel, Hollande se beleide kan nie volhoubaar vir Frankryk wees nie. Meer mense moet aan die werk kom en minder staatsgeld verbruik, nie andersom nie. As mense meer staatshulp benodig, beteken dit twee goed: Hulle werk glad nie of verdien te min, en hulle gebruik ander mense se geld wat die regering aan hulle uit die staatskas gee. Hierdie verbruik is dalk ’n goeie element vir welluidende verkiesingsveldtog-retoriek, maar dit skep nie werk nie. ’n Land is nie ’n bodemlose put van geld wat voor die voet vir elke burger kan gee sonder om ook bydraes te verwag nie. Groei kan nie deur onproduktiwiteit en gepaardgaande verbruik gestimuleer word nie, maar deur produktiewe mense met unieke kennis wat goedere en dienste ontwikkel en verkoop aan die publiek in die vrye mark. Die regering se plig is dus om ’n gunstige omgewing te skep om werkgewers, wat toenemend multinasionaal is, te trek en skep en goeie werknemers te kweek. Dit moet die regering se eerste prioriteit wees terwyl maatskaplike dienste ook altyd nodig sal wees, maar geminimaliseer moet word. Die mantra is eenvoudig: Wat jy vir een persoon gee, moet deur ’n ander verdien word.

Dieselfde geld die ANC en Suid-Afrika as land. Mike Schüssler het die naweek se Sunday Times se Business Times na aanleiding van onlangse navorsing gesê Suid-Afrika se geswelde staatsburokrasie stuur af op ’n ramp. Hy voer aan dat staatsdienswerkers sonder enige kwalifikasies nou meer as universiteitsprofessors in Duitsland verdien. Hulle verdien ook meer as gekwalifiseerdes in Suid-Afrika se private sektor. Daarbenewens is sowat ’n derde van die land totaal afhanklik van staatstoelae en het geen vooruitsig om uit die armoede-siklus te ontsnap nie. Hierdie mense stem byna sonder uitsondering vir die ANC omdat hulle ten minste iets kry van die staat af en te bang is om dit te verloor.

Terwyl staatstoelaes sekerlik ’n edele doel dien omdat dit baie agtergeblewenes se enigste inkomste is, skep dit veel erger politieke en ekonomiese probleme. Baie mense het geen aansporing om ooit te begin werk want hulle is net-net gerieflik. Baie jong vroue wat dalk ’n blink toekoms kon hê maar nie ouers het wat hulle goeie advies kan gee nie, besluit om eerder ’n baba op 16 te kry, skool te verlaat en dus ’n toelaag vir die baba te trek. Die persepsie dat daar ten minste íets vir hulle deur middel van staatstoelaes gedoen word, maak dat hulle die status quo handhaaf en die ANC by die stembus ondersteun. Hul stemme is dus byna uitsluitlik stemme vir sosialisme en herverdeling. Wat hulle nie besef nie, is dat die land ten minste solvent gehou is sedert 1994 deur ’n baie getemperde vrye mark en wyse besteding deur Trevor Manuel en Thabo Mbeki. Hulle bestee mense se geld wat in die vrye mark geskep is en stem daarenteen vir ’n party wat daardie vrye mark op talle maniere aftakel.

Terwyl Suid-Afrika se ongeletterde massas sulke keuses vergewe kan word omdat hulle meestal van die staat afhanklik is en bloot net nie van beter weet nie, was dit ’n hartseer dag toe die Franse, as ’n uiters gesofistikeerde ontwikkelde volk, dit nie ingesien het nie. Ek stem heelhuids saam dat besuiniging tog saam met ekonomiese groei in werking gestel moet word om die ekonomie te laat gedy, maar Hollande en die ANC doen nie een van die twee nie. Die gemiddelde Franse persoon gaan nie meer wil verdien nie, want dan belas die staat jou bloot dat jy geen sosiale mobiliteit oor het verby ’n sekere punt nie. Ek het die Franse verkiesing fyn dopgehou en wyd daaroor gelees en nêrens het Hollande uitgestippel hoe en in watter sektore hy werk wil skep nie. Hy het bloot teenoor die elite uitgevaar en blaam skep nie werk nie en gee desperate mense slegs valse gemoedsrus.

Hollande en die ANC gaan nie onderskeidelik Frankryk, Europa en Suid-Afrika se probleme met hul beleide red nie. “It’s the economy, stupid” word in hierdie gevalle bloot “the stupid economy” met goedgelowiges wat oorreed word dat hulle kan skep sonder ’n teenprestasie. Groei, as dit gebeur, sal kom ten spyte van hul beleide.

Eugene Brink is navorsingshoof by die N.P. van Wyk Louw-Sentrum vir Kulturele Vryheid by die FAK. Hy skryf in hierdie ruimte in sy persoonlike hoedenigheid.