MILITÊRE GESKIEDENISFEES HERLEEF BY MONUMENT

MILITÊRE GESKIEDENISFEES HERLEEF BY MONUMENT

Pretoria 24 April 2012. Die Voortrekkermonument Erfenisterrein bied hierdie jaar op 1 Mei ’n Militêre en Geskiedenisfees aan. Die fees was in die verlede só gewild dat besluit is om dit te laat herleef.

Die idee om die militêre fees weer op die been te bring, het gekom na aanleiding van ’n navraag wat die Monument ontvang het. Daar vind blykbaar slegs een groot militêre fees per jaar in die land plaas, maar dié het nie die ruimte wat die Monumentterrein bied nie. Daar is twee plekke met stalletjies by die Monument beskikbaar, asook baie ruimte vir statiese militêre uitstallings.

Handelaars sal militaria, boeke, medaljes, uniformstukke en selfs militêre kunswerke verkoop. Persone wat hulle versamelings wil uitstal, is ook welkom. Die Pantserformasie van die SANW gaan ’n Rooikat-pantservoertuig en ’n Ratel ZT3-vuurpyllanseerder tot die fees bydra. Die skrywers van die boek Skadu’s in die Sand, wat handel oor die ervaringe van ’n Koevoet-spoorsnyer, sal tydens die fees byderhand wees om eksemplare van die boek te teken.

Die fees word op 1 Mei van 09:00 tot 16:00 op die piekniekterrein van die Voortrekkermonument aangebied.

Kosstalletjies sal beslis enige honger stil en ’n bierkaravaan sal omsien na die dors. Toegang behels R20 per voertuig, ongeag die getal insittendes. Belangstellendes kan Geraldine Paulsen kontak by bemarking@voortrekkermon.org.za of by 012 326 6770 met navrae.