Op die boekrak: Rigtingbedonnerd. Op die spoor van die Afrikaner post-’94 – Fred de Vries

Deur Natasja le Roux

‘So eenders en tog so totaal anders.’ Met hierdie woorde dui die Nederlandse joernalis Fred de Vries in sy boek Rigtingbedonnerd sy ondervinding van die verhouding tussen Nederlanders en Afrikaners. In 1992 het hy vir die eerste keer in Suid-Afrika kom bly en, in sy woorde, “’n obsessie begin ontwikkel met die Afrikaners, soos ’n mens met ’n musiekgroep of ’n skrywer behep kan raak.”

Die boek is in Nederland bekendgestel onder die titel Afrikaners, Lotgevallen van een volk op drift. De Vries probeer egter nie net verslag te doen van ’n studie na die Afrikanergemeenskap nie, die boek is ’n verslag van sy soeke na ‘n antwoord:

“Hierdie boek is ’n persoonlike speurtog deur die hele Afrikanerdom – na die mites, die opportuniste en die aktiviste. Dit is ’n reis deur stede en na plase, deur dorpies en oor eindelose vlaktes om uiteindelik uit te kom by ’n antwoord op die vraag: Is daar nog plek vir ’n wit mens in Suid-Afrika?”

Dat die boek ’n persoonlike soektog weergee, blyk uit die eerste gedeelte, waarin De Vries vertel oor sy eie ervarings met Suid-Afrika en sy ‘landing’ in Centurion, wat destyds nog Verwoerburg was. Hy moes gewoond raak aan baie aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing en skryf byvoorbeeld lewendig oor hoe vreemd die braai-rituele vir hom was. Naderhand het hy al hoe meer nuuskierig en selfs geboei geraak deur die Afrikaners.

Maar wat is nou eintlik ’n Afrikaner? Dít is die vraag wat vir De Vries opduik en waarmee hy eers stoei, voordat hy sy ondersoek na die toekoms van die Afrikaner in Suid-Afrika verder kan neem. Die boek bestaan uit ’n deeglike beskrywing van sy navorsing, waarin hy verslag doen van onderhoude wat hy gevoer het met ’n groot verskeidenheid persone, soos Steve Hofmeyr, Angus Buchan, Carel Boshoff sr. en Etienne van Heerden.

Hy skryf onder meer oor ’n lesing wat hy bygewoon het waarin Antjie Krog die ‘De la Rey’-liedjie van Bok van Blerk analiseer, sy voorbereiding vir die onderhoud wat hy met F.W. de Klerk gevoer het, oor grondsake waarmee Agri SA te doen het en sy gesprek met Solidariteit se uitvoerende hoof, Flip Buys.

De Vries skroom nie daarvoor om sy persoonlike opinie en ervarings weer te gee nie. Al verskil hy ook hóé veel van die persone met wie hy praat, verstaan hy gaandeweg al hoe meer van die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing, en die Afrikaner se posisie daarin. Uiteindelik sluit hy sy soektog af met: ‘Natùùrlik is daar ’n plek vir die Afrikaner in die land.’

Rigtingbedonnerd. Op die spoor van die Afrikaner post-’94 – Fred de Vries, uitgegee deur Tafelberg uitgewers.