Die tweejaarlikse Beraad van Die Dameskring het die afgelope naweek by Hoërskool Nelspruit plaasgevind.  Ongeveer 200 afgevaardigdes, waarnemers en gaste het die geleentheid bygewoon en is bemagtig, geïnspireer en vermaak deur onder andere Prof. Elain Vlok, Dr. Piet Muller en Anna Davel.  “Op ons spoor terug na more” was die tema van die Beraad en Die Dameskring het ook ‘n voetspoor in Mpumalanga gelaat deur 130 beddegoed stelle, wat vir die verblyf van beraadgangers in die koshuis aangekoop is, aan Solidariteit Helpende Hand geskenk.  Christine Breedt, Adjunk Uitvoerende Hoof van Ontwikkeling by Solidariteit Helpende Hand het tydens die oorhandiging genoem dat Helpende Hand die beddegoed aan 60 kinders in kinderhuise en sowat 45 gesinne in die omgewing gaan versprei.  Die President en Uitvoerende Bestuur van Die Dameskring bedank ook graag die FAK vir die borg van skryfbehoeftes vir die Beraad asook 5 pragtige boekpryse!  Die sukses van die Beraad kan toegeskryf word aan volgehoue skakeling en toegewyde vennootskappe!