Met die verskyning van die nuwe FAK sangbundel Volume II het die FAK Woensdag, 31 Oktober ’n bundel aan die Laerskool Louis Leipoldt by Die Voortrekkers se ‘staptog vir Afrikaans’ oorhandig. Lindie van Zyl, kommunikasiebeampte van die FAK, het die oorhandiging namens die FAK gedoen en gesê die bundel is ’n kultuurmonument wat nog gaan bydra tot vele saamsingsessies van die leerders. Annemarie het die bundel namens die skool ontvang.
Geskiedenis van die FAK Sangbundel
Die eerste FAK Sangbundel het in 1937 verskyn en het 314 liedjies bevat.
’n Hersiene uitgawe het in 1961 verskyn en het hierdie keer 400 liedjies bevat. Slegs sowat 160 liedjies van die oorspronklike bundel is weer in hierdie hersiene uitgawe ingesluit. Die derde uitgawe is in 1979 tydens die FAK se 25ste bestaansvieringe uitgereik. Die liedjies in dié uitgawe is aansienlik aangepas om makliker speel- en singbaar te wees. Daar is selfs aan die taal in dié bundel geskaaf, aangesien talle woorde en frases wat nog uit die 1937-bundel kom, intussen verouderd geraak en in onbruik verval het. In 2009 het die idee van ’n nuwe bundel ontstaan. Hierdie bundel word in 2012, op die 75ste verjaardag van die eerste bundel, uitgereik. Dié keer is besluit om nie net ’n volgende uitgawe saam te stel nie, maar om ’n volledige nuwe bundel die lig te laat sien en sodoende die skatkis van Afrikaanse musiek, wat sedert 1979 aansienlik uitgebrei het, te besing.
Die nuwe FAK Sangbundel Volume II – in ’n neutedop
• Dit bevat die lirieke en bladmusiek van sowat 350 nuwe liedjies wat die afgelope 30 jaar by die skatkis van Afrikaanse musiek gevoeg is.
• Liedjies in die immergroen- en die kleinkunskategorie het ook kitaardrukke.
• Die melodielyne is eenvoudig uitgelê.
• Dit bevat ure en ure se lekker saamsingliedjies vir die hele gesin.
• Dit bewaar die musiek van legendes soos Christa Steyn, Lucas Maree en Koos du Plessis.
• Die nuttige indeks is volgens titels en eerste reëls ingedeel.
Waar om jou sangbundel te kry
Die FAK Sangbundel Volume II is beskikbaar by Kraal-Uitgewers teen R450 (R50-posgeld uitgesluit). Die bundel kan op een van die volgende maniere bestel word:
– SMS: Stuur die woord “FAK” na 34388 en ’n Kraal-verteenwoordiger sal jou skakel. (’n SMS kos R2.)
– Faks: 086 714 1100
– Tel: 012 644 4329
– E-pos: kraal@solidariteit.co.za