Op Saterdag 13 Oktober is die Elisabeth Eybers-kamer amptelik in die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam geopen. Ook is daar ʼn webblad bekendgestel waarop die katalogus van Eybers se persoonlike boekeversameling, wat in die Eybers-kamer gehuisves is, geraadpleeg kan word.
Elisabeth Eybers was in Suid-Afrika reeds ʼn bekende digter toe sy in 1961 Nederland toe getrek het. Nadat sy haarself in Amsterdam gevestig het, is haar digbundels telkens gelyktydig in Afrikaans en Nederlands gepubliseer. Sy het aangehou om in Afrikaans te skryf, maar het ‘n eie “tussentaal” ontwikel waarin sy die Afrikaanse idioom met woorde en beelde uit haar Nederlandse leefwêreld verryk het.
Ook in Nederland word Eybers tot die mees bekende digters gereken. Haar werk is onder meer bekroon met die Herman Gorter-prys (1975), die Constantijn Huygens-prys (1978) en die P.C. Hooft-prys (1991).
Eybers was ‘n toegewyde leser, van veral poësie en woordeboeke. Sy het baie boeke besit, maar het ‘n groot deel daarvan afgeskaal tydens verhuisings en teen die einde van haar lewe. Ook het haar erfgename boeke uit haar biblioteek geneem vir private gebruik. Daar het ‘n versameling van omtrent 2 000 boeke oorgebly, en dit is nou so na as moontlik aan die oorspronklike opstelling in die Eybers-kamer in die Suid-Afrikahuis in Amsterdam gehuisves. In daardie kamer is ook verskeie memorabilia te sien uit Eybers se huis, soos haar jas en hoed, haar tikmasjien en die stoel waarin sy graag gesit en lees het.
Die Eybers-kamer se boekversameling is opgeneem in ‘n omvangryke katalogus. Die navorsers het op interessante dinge afgekom, soos boeke van bevriende skrywers met ‘n persoonlike boodskap daarin geskryf, konsepte vir nuwe gedigte, en aantekenige by die stukke wat sy gelees het. Sulke materiaal is vir letterkundiges van groot belang. Vanweë die private karakter van ‘n deel van hierdie materiaal het die navorsers besluit op twee katalogusse. Die verkorte een is aanlyn beskikbaar op die Zuid-Afrikahuis se webblad (www.zuidafrikahuis.nl) en die uitgebreide katalogus kan in die huis self bestudeer word. Die Eybers-kamer is toeganklik vir navorsers.