Marlene Dumas ontvang Johannes Vermeer Prijs 2012

Die Johannes Vermeer Prijs, die enigste Nederlandse staatsprys vir die kunste, is in 2012 toegeken aan die Suid-Afrikaanse beeldende kunstenaar, Marlene Dumas.
In 1976 het sy na Nederland gekom om opleiding te ontvang aan “Ateliers 63”, waaraan sy steeds verbind is as begeleidende kunstenaar.

Die prys, wat bedoel is om uitstaande kunstalent te erken en te bevorder, is aan Dumas toegeken weens haar onnavolgbare vermoë om menselike emosies in beeld vas te vang. Die beoordelaarspaneel meld ook Dumas se indrukwekkende oeuvre en het groot bewondering vir die wyse waarop sy haar kunstenaarskap uitdra. Al haar uitstallings is voorsien van ‘n konteks, en sy besin deurlopend oor die skilderkuns en kunstenaarskap in die algemeen. Dit doen sy deur middel van literêre tekste en kommentare, asook met lesings en voordragte wat sy gereeld op uitnodiging van museums en universiteite reg oor die wêreld aanbied. Haar onuitputlike energie en vermoë om haarself te verdiep in uiteenlopende onderwerpe is merkwaardig. Jaar na jaar verras sy haar gehoor met nuwe werke waarmee sy getuig van haar unieke kwaliteite.

Die Johannes Vermeer Prijs is aan Malene Dumas oorhandig deur die demissionêre staatsekretaris van kultuur, Halbe Zijlstra. Sy het aangekondig dat sy die prysgeld van € 100.000 in sy geheel  aan “De Ateliers” skenk.