Die jaarlikse FAK prestige-aand wat vanjaar op 2 November by die Voortrekkermonument in Pretoria gehou is, was voorwaar ’n glansgeleentheid. Dié jaar se prestige-aand was nie net ’n besonderse aand in die lig van die toekennings nie, maar ook omdat dit die formele bekendstelling van die FAK Sangbundel Volume II was.

Die gaste is ontvang met ’n glasie sjerrie en het ’n sonsondergang geniet soos wat ‘n mens dit net by die Voortrekkermonument sal kry. Die FAK het vanjaar drie hooftoekennings oorhandig aan die volgende uitnemende persone:

Frans Esterhuyse, spotprenttekenaar van Beeld, het die FAK se H.B. & M.J. Thom-prys vir Joernalistiek ontvang. “Ek was oorweldig met die nuus van die toekenning,” het Esterhuyse gesê toe die FAK hom hiervan in kennis gestel het. In sy woord van dank die aand het hy genoem dat hy die bekende kat in sy spotprente se stert gaan gebruik as ’n vlagpaal vir die FAK-vlam. (Sien die spotprent onder aan die artikel.)

Die FAK se Prestige-toekenning is tweede oorhandig aan prof Jacques van der Elst vir sy bydrae tot Afrikaans sowel as akademiese uitnemendheid.

Prof. Andreas van Wyk het die FAK-erepenning gekry vir uitnemende diens aan die Afrikaanse taalgemeenskap en in die besonder vir die bevordering van Afrikaans as akademiese taal.

Namens die FAK wens ons bogenoemde pryswenners baie geluk.

Na die oorhandiging van die toekennings het die tyd aangebreek om die eerste keer uit die nuwe FAK Sangbundel te sing. Die gaskunstenaars Anton Goosen, Jak de Priester, Sonja Herholdt en die orkes Ken jy Tant’ Mossie? het vele treffers uit die nuwe bundel gesing.

Bestel die nuwe FAK Sangbundel deur die woord ‘FAK’ gevolg deur jou naam na 34388 te SMS.