Deur Lindie van Zyl | 7 Februarie 2013 |
Met die 2013-feesjaar wat amptelik geopen is, is dit amper weer tyd vir die 14de US-Woordfees. Die FAK gaan kuier vanjaar ‘n bietjie in die Eikestad en vat natuurlik die FAK Sangbundel Volume II saam. Indien jy die jaar saam op die Woordfees in Stellenbosch gaan kuier, maak seker dat jy nie die volgende gebeure mis nie.
Grys gebiede
Renette Bouwer en Jannie du Toit bied ’n nuwe musiekprogram aan waarin hulle gemene delers gebruik: raakpunte tussen taal, kunslied en luisterlied; tussen sopraan en troebadoer; tussen klavier en kitaar. Op hulle gastelys is uiteenlopende muses soos Boerneef, Louis van Rensburg, Ingrid Jonker, Niel van der Watt, S. le Roux-Marais, Anna Davel en N.P. van Wyk Louw. Hierdie name speel lank reeds ‘n rol in klassieke musiek, maar ook op die gebied van die kleinkuns. Dit val saam met die uitreiking van die nuwe FAK-sangbundel en baie van die werk in die program is ook daarin opgeneem. Albei van hulle was op hulle onderskeie terreine by die skepping van rubrieke in die bundel betrokke.
2 Maart | 10:00 | Fismer | 70 min | R90
FAK Volume II, piekniekkonsert
Pak ’n piekniekmandjie, bring die gesin en kom sing FAK saam met Amanda Strydom, Jak de Priester, Les Javan, Anna Davel, Brandon October, Richard van der Westhuizen, Jannie du Toit en Viva Cantare.
Die FAK se splinternuwe sangbundel, met die beste Afrikaanse liedjieskrywers se musiek, is nou op die rak. Hierdie sterbelaaide produksie maak na landwye bekendstellings ʼn feestelike Woordfees-draai. ʼn Hoogtepunt op die musiekprogram!
5 Maart | 20:30 | Neethlingshof | 70 min | R90, R60
Boekbesprekings
Trekkerkinders
Met die oog op die 175ste herdenking van die Groot Trek verskyn Trekkerkinders uit die pen van dr. Danie Langner. Dié boek bied onder meer ʼn versameling verhale oor kinders van die Groot Trek en ʼn uiteensetting van prominente gebeure en persone van die Trek.
6 Maart | 11:00 | Erfurthuis | 50 min | R 40
FAK Sangbundel Volume II
Die FAK-sangbundel trek ʼn splinternuwe baadjie aan. Dié skatkis van Afrikaanse volksmusiek is nuut gemaak om liedjies wat die afgelope 40 jaar in Afrikaanse musiek geblom het, vir nog ʼn generasie of wat te laat voortleef. Danie Langner en Jannie du Toit deel gedagtes oor die interessante maniere waarop liedjiekeuses gemaak is.
8 Maart | 15:00 | Boeketent | 50 min | R40