FAK Sangbundel in Zuid-Afrikahuis in Amsterdam

7 Februarie 2013

Die Afrikaanse sanger Jannie du Toit het die nuwe Afrikaanse sangbundel namens die FAK aan die Nederlands-Zuid-Afrikaanse Vereniging (NZAV) se voorsitter, Willem Bronkhorst, oorhandig. Die NZAV se jaarlikse nuwejaarspartytjie is  op 5 Januarie in Zuid-Afrikahuis gehou. Bronkhorst het in sy toespraak op die afgelope jaar teruggekyk, waarby hy verwys het na die goeie samewerking met die FAK se Stichting voor Afrikaans met betrekking tot die Jongeren Projek.

Ook het hy sy vreugde uitgespreek oor die goeie nuus dat die huis aan die Keizersgracht behoue gaan bly vir onder meer die biblioteek, wat ’n skat van 43 000 publikasies uit en oor Suid-Afrika herberg. Die Nuwe FAK Sangbundel Volume 11 is nou tot dié versameling toegevoeg; die eerste eksemplaar op Nederlandse bodem.

Jannie du Toit het kortliks agtergrond oor die sangbundel gegee en het daarby ook uitgebrei oor die sinergie tussen die Dietse tale: “Laat hierdie bundel ’n nuwe begin wees van die kulturele en spesifiek musikale uitreik na mekaar se tale en kulture.” Om die voorneme te versterk het hy ’n aantal van die liedjies uit die sangbundel gesing. Met sy ’n Liedjie vir Jou het hy die Amsterdamse gehoor meegeneem na die Kaapse berge en groot belangstelling vir die FAK Sangbundel Volume II gewek.