Deur Flip Buys | 7 Februarie 2013 |
Wat is ‘n Afrikaner? Hierdie gelaaide vraag sê in die huidige politieke konteks dikwels meer oor die vraagsteller se politieke vooroordele as oor die antwoord. Die vraag is eintlik moeiliker as die antwoord. David Ben Gurion het gesê die Jode is al 3 000 jaar lank Jode sónder ‘n definisie. Volgens hom hóéf ‘n volk nie gedefinieer te word nie, elkeen weet mos of hy of sy deel is of nie. Die maklikste is miskien om vir enige nie-Afrikaner te vra wie nou eintlik een is!
Die enigste manier om van die Suid-Afrikaanse vooroordele weg te kom is om te kyk wat die internasionale reg en wêreldpraktyke sê oor groepslidmaatskap. Anders moet ons oor ‘n paar jaar weer stry oor definisies as die politieke landskap verander. Politieke standpunte moenie ‘n rol in ‘n definisie speel nie omdat dit baie vinniger as groepsidentiteite verander. Groepslidmaatskap word gedefinieer soos wat dit is, en nie soos iemand dink dit behoort te wees nie.
Daar is tradisioneel twee metodes om groepslidmaatskap te bepaal, naamlik die sogenaamde objektiewe en die subjektiewe metode. Die objektiewe of “geslote” metode definieer groepslidmaatskap volgens sogenaamde objektiewe maatstawwe soos afkoms, ras, etnisiteit, geloof en kultuur. Dié metode is grootliks gediskrediteer weens die misbruik daarvan om teen mense op grond van maatstawwe soos ras te diskrimineer.
Die subjektiewe of “oop” metode is vandag die aanvaarde gebruik omdat dit op die grondslag van selfdefiniëring berus. Dit beteken dat ‘n volk homself definieer. Die aanname is dat iemand self besluit of hy lid van ‘n bepaalde groep is, en dit impliseer ook die breë aanvaarding van daardie keuse deur ander lede van die groep. Hoewel die uitslag van die twee metodes meestal dieselfde is, is die metode net so belangrik as die uitslag.
Daar is dus niks mee verkeerd nie dat verreweg die meeste mense wat hulself as Afrikaners beskou wit is; solank daar nie ‘n diskriminerende geslote definisie gebruik is nie.
Groepslidmaatskap is vrywillig en word selfs nie op grond van taal gedoen nie omdat dit gedwonge lidmaatskap impliseer. Afrikaanssprekende bruin mense is dus nie op grond van die definisie Afrikaners nie, en wit Afrikaanssprekendes ook nie.
Dit was nie in die verlede korrek om bruin mense op grond van die definisie oor hul ras uit te sluit nie, en ook nie om hulle vandag te probeer insluit om die groep se magsbasis groter te laat lyk ter wille van een of ander agenda nie.
Waarom is hierdie definisie dan steeds so ‘n sensitiewe saak? Waarskynlik omdat bekommernisse bestaan dat tussen identiteite gekies moet word omdat dit wedersyds uitsluitend is. Iemand se keuse vír Afrikanerskap sou kwansuis terselfdertyd ‘n keuse téén Suid-Afrikanerskap wees en boonop sommer ‘n verwerping van die demokrasie beteken. Dit is nie korrek nie. Internasionaal word veelvoudige identiteite erken, wat nie uitsluitend is nie, en waarvan die een nie belangriker as die ander hoef te wees nie.
Iemand kan dus met groot vreugde gelyktydig ‘n goeie Afrikaanssprekende, ‘n Afrikaner, ‘n SuidAfrikaner én ‘n Afrikaan wees sonder dat daar enige hiërargie of botsing is. Die probleem ontstaan gewoonlik wanneer mense in of uit ‘n definisie gedwing word. Dan word die prys van lidmaatskap te hoog. As daar dus druk op iemand uitgeoefen word om van sy Afrikaner-identiteit afstand te doen, sal die prys van Suid-Afrikanerskap waarskynlik té hoog raak.
Afrikanerskap is ‘n gegewe feit wat politiek gelaaide argumente nie sal verander nie. Ons is tog nie ‘n soort post-koloniale groep enkelinge soos talle wit mense elders in Afrika nie; trouens, ons het onsself na ons kontinent genoem! Die vraag is hoekom daar dan tans stemme opgaan dat Afrikanerskap ‘n uitgediende begrip is. Die begrip Afrikaner het tog lank voor apartheid reeds bestaan, terwyl die “wit volk”-term van die Verwoerd-tydperk lankal dood is. Gaan die weerstand teen die begrip Afrikaner om die bestaan van die begrip, of om die bestaan van die Afrikaner?
Die kern van die anti-Afrikanergroep se bekommernis lê waarskynlik daarin dat die internasionale reg duidelike regte aan lede van ‘n volksgroep toeken; meer as net individuele regte soos in ons Grondwet. Dit verklaar dalk hoekom die regering feitlik alle internasionale verdrae en handveste onderteken het, maar nie die Verenigde Nasies se 1992-handves oor die regte van mense wat tot etniese, kultuur- of godsdiensgemeenskappe behoort nie.
Kommer bestaan dat die nie-ondertekening en ontkenning van groepsidentiteit ‘n poging is om die toepassing van die regte in hierdie en ander handveste saggies te omseil. ‘n Magspolitieke ystervuis in politiek korrekte fluweelhandskoene wat legitieme pogings om fundamentele belange te beskerm, neutraliseer — en groepe verhinder om hul grondwetlike regte te realiseer.
Dit is egter ‘n growwe aantasting van iemand se menswaardigheid om sy identiteit te ontken, of om wit Afrikaners weg te wens deur hul bestaan te bevraagteken. Soos talle ander volke het Afrikaners voorheen ook al oor hul voortbestaan getwyfel én dit oorkom. Die goed bedoelde aandrang dat Afrikaners eerder net deel van ‘n breë Afrikaanse groep word, het ongelukkig onbedoelde gevolge. Afrikaners het té lank hul bande met Afrikaanssprekendes van ander groepe afgeskeep en daardie bande moet dringend versterk en uitgebou word. Om egter ‘n volksgroep tot ‘n taalgroep te reduseer, beteken dat daar afstand gedoen word van ‘n hele stel internasionaal erkende regte, soos moedertaalonderwys.
Demokratiese volwassenheid beteken jy kan maar ‘n Afrikaner wees, of ‘n Suid-Afrikaner, ‘n Afrikaan of ‘n Afrikaanssprekende, of enige kombinasie van hierdie en ander begrippe, of almal saam.
Geniet dit net!